Asiel
Sal jy aan my asiel verleen in jou gedagtes
sodat ek jou wete my toevlugsoord kan maak
Ek is ’n vlugteling en ek
sing van winde wat na die noorderlig waai
en ek bring vir jou gewaagde woorde wat
jy nooit sal verstaan nie.
Soos ’n lafaard en ’n waaghals skryf ek liefdesverhale
in my paspoort uitgereik in die republiek van jou naam.
Met my woorde skets ek ’n lugkasteel
waarmee ek my die mooiste verwesenlikings kan verbeel.
In die sneeu staan jy: ’n Griekse marmerbeeld;
’n stomme skoonheid.
Ek bou sneeumannetjies met leepogies wat uitkyk
oor die horison en staar na silhoeëtte van
wintertakke en begeer jou
soos silwer sakke vol nostalgie
en tussen ’n spul halfgeskrewe briewe sit ek met
sneeuvlokkies in my hare en met woorde wat jy
nooit sal hoor nie…
sonder ’n paspoort en sonder asiel.
© Christo de Kock, 2022
