Christo de Kock. Seepbellugballon
Seepbellugballon
Ek blaas vir jou seepbelle om soos ’n laer om jou te kring,
want iemand het jou drome uit jou hart gewring.
Met ’n seepbellugballon vas aan jou hare gebind
sal jy jou kasteel in die wolke eendag nog vind.
Seepbelle wat blink soos glaspêrels is daar in jou verbeelding genoeg
sodat jy vir nog ’n oomblik tussen die wolke kan vertoef.
Die dag en nag swaai jou heen en weer met
’n rokkie wat swaar aan jou vryheid hang.
Knip die swaar rok dat jy saam met die lugballon
styg en silwer vlinders met seepbelle kan vang.
Ek sien jou verlange na toevlug as jou oë se
weerkaatsing in die borrel broos na my staar
en ek jou verseker die lugkasteel was nog altyd daar.
In die naghemel sien ek die maan,
die sterre en die planete wat wentel om die son.
Maar die mooiste van als is jy en die seepbellugballon.
© Christo de Kock, 2022