OUTYDSE TOEKOMSGEDIG
“Es ist niemals ein Dokument der Kultur, ohne zugleich ein solches der Barbarei zu sein.” – Walter Benjamin
“Once inside the imagination all manner of inexplicable things occur. Time gets loopy, the past presses itself against the present, and the future pours out its secrets. Suddenly words behave in ways they shouldn’t…” – Nick Cave
1
Hierdie storie begin by ʼn robot wat
skaak kon speel in die dae voor robotte
skaak kon speel. By wit-swart blokkies is dié outomaat
staangemaak – in Turkse jurk en tulband, hoeka in die kies –
en het elke Weense Jan Rap en dié se maat
onder die mat in geskaak.
Knus in die masjien se buik hurk toe maar net
ʼn dwerg wat skuiwe uit die toestel marionet.
2
Op die toekoms kan die hede tog nie afgunstig wees nie.
Hoe gebeur dit dan dat die verlede
die toekoms so konstant daarheen laat terugkeer?
Ons soeklig deur newel en waas –
kam die donker, nou bakboord, dan stuurboord,
eers vlak, dan ver. Soms eien ons ʼn engel, maar meestal monsters.
Ons hande hou op bewe, die lig nou stip, skerp, ons aandag
volstrek en ons besef nie dat wat ons sien ʼn spieël is nie.
3
Iewers in ʼn wensdroom, of selfs ʼn nagmerrie
kan uitkykpunt en invalshoek verander.
Hoe dit nóú daar uitsien is nie juis
hoe dit eintlik hoef te wees nie:
Die ek en jy, die ons en hulle
wie gedigte skryf, of koffie moet loop haal.
In hierdie planeet steeds vervalle in twee
bly ons sinne middeldeur geskeur.
Ja, grootse gedagtes van ʼn verflenterde taal.
Sal bloedfamilie, ten spyte van vuilgeheime
vetes kan besleg, ʼn storie kan oorvertel
wat almal se harte aanraak?
Ag, drome droom net, verbeelding verbeel net
en vir digters kom hierdie spel
van versin en verdig, uitdink en uitbroei
heel natuurlik.
Nietemin en nieteveel, om ánders te beskou
is wel wegspringplek, of
as jy die pap dig aanmaak
miskien selfs halfwegstasie.
4
Liewe argivaris, your mailbox is full. Wat ons eintlik
hiermee bedoel is:
Wat bêre jy, wat liasseer jy, wat gooi jy weg
as pakkamerrakke eers vol is?
Want nou moet jy raai oor ʼn rekening se nadraai
oor of daardie brief grafskrif, testament, of profesie is –
want slegs húlle wat in vrede slaap kan bekostig om te onthou.
Vir ons ander bly selektief vergeet ál manier om aan te hou.
5
Skryf dronk, redigeer helder. Ag, julle met julle
insigte. Net hulle met pense vol kos skryf tog
gedigte. Net hulle met kwasse nat van olie en pigment
skilder. Net hulle met tyd op stoelkussings en hande
werk mos karakters en intriges op storiekaarte uit.
Ja, helder die insig as bundel, skildery, roman
gesig teen die muur staangemaak word
in kartondoos verpak word
op solders geberg word
op ashope verpulp of verbrand word.
Wie mis kuns as dit eers verklaar is
wie benodig beelde wat reeds verslaan is?
6
ʼn Beeld doem op:
Winnaarsoldate loop oor prostrate lywe
verloorderskultuurartefakte omhoog.
So trap versigtig vir húlle wat in linies
die toekoms in marsjeer
want eers kom blinde geloof
dan die massa-gevolg.
Uiteindelik die kompromis met al wat Fascis is.
7
Karoo-dorp hierdie, maar winter vanaand,
skaaptroppe lankal met Oubergpas af.
Geserp-en-jas stap ek in die sterrewagdorp rond
om ʼn foto te neem van die huis van die digter se grootword.
As ek my kameralens oplig, flikker die straatlig
en sluit die nag dig. Stap om die blok
om weer te mik, maar elke keer
dieselfde afknip.
Loop weg, gooi bygelowige draaie,
hoop om die lamppaal se lig-en-donker ritme te fnuik:
Sukses! Digtershuis as nagtoneel deur slegs
straatlamp, sterre en maan belig.
Ek skilder die foto, nokturne in olie.
Verbeel my verf doen iets heel anders as woorde
omdat kwas in wese nie beitel kan wees nie.
Iewers, doer anderkant taal, bly daar die beeld.
8
Ek sou ʼn ander gedig wou skryf as die storie van my mense
met ʼn ánder verbeelding van wie ons is:
die ons van Afrikaans, Khoi, Kaaps.
ʼn Gedig waarin ons meer soos Swahili is –
gebore uit handel en uit slawerny
kreools, maar onteenseglik van hiér.
Tog oorskiet hierdie gedig al die ou grense
gaan ook oor Namibië, Suriname en Indonesië.
Skryf Breytenbach altoos:
“Bastervolk met ʼn bastertaal.”
Waarskynlik lankal reeds te laat
ʼn verspeelde lente.
Skryf jy marionet, of skryf jy skaakoutomaat?
© Andries Bezuidenhout, 2022