DIE GEDIG AS DOODSONDE
Was dit nie vir korrupte pouse nie,
was die Sixtynse kapelplafon nooit beskilder nie.
Was die nie vir oorlogsoorwinnings nie,
sou vele komposisies aanhou swyg.
Was sekere beelde nie geplunder nie,
is hulle nooit in museums bewaar nie.
Dus, kuns is korrup, kuns is vuil,
kuns word nie geskep nie, maar gepleeg.
Hieroor wonder ek, tussen Karoobossies vanoggend,
hou dop hoe ʼn lewerik die lug in skree, weer aarde toe tol.
Vanmelewe, in die rivier doer oorkant, het Goewerneur van Plettenberg
seekoeie kom jag, karkasse agtergelaat
as feesmaal vir San jagter-versamelaars,
uiteindelik ʼn seisoenale ritueel.
Teen stollingsgesteentes daar anderkant nog gravure –
afbeelding van eland, seekoei. Als nou weg.
Die elande, die seekoeie, die rotskunstenaars.
Toe skaapboere intrek is ʼn seekoeijag gebruik
om jagter-versamelaars uit die koppies te lok
en is almal eensklaps met muskette afgemaai.
Wat sê mens oor die lewerik, wat sê mens oor ʼn seekoei?
Wat sou ʼn gedig oor afwesigheid en landskappe kom bydra?
Miskien dalk maar net dat hierdie gedig korrup is,
dat hierdie gedig vuil is, nie geskep is nie,
maar gepleeg is.
© Andries Bezuidenhout, 2022
Dankie Bester Meyer! Ek hou baie van daai een van Koos Kombuis, wat die verwysing weer by Opperman gaan haal het.
Dis great!
Weet nie hoekom nie, laat my dink
aan Koos Kombuis:
‘Kuns is edel, kuns is boos, kuns is nogtans
skadeloos’ wat word:
‘Kuns is edel, kuns is boos, kuns is nogtans
goddeloos’ wat dan word:
‘god is edel, god is boos, god is nogtans
skadeloos.’