Londen, Mei 2020
Langs die Teemsserpentyn
sluimer die metropool nou:
lam gelê deur die pandemie
leun dit stil terug, siekerig vaal en grou,
want die polsslag is traag:
torings, tempels en koepelkatedrale,
teaters, nagklubs en kroeë
is toe, leeg en verlate
soos uitgewerkte myne,
net ’n effense gesnork
van eensame busse of klik-klak-moltreine.
Maar hy sal weer uit die slaappak ontklee,
uitstrek, gaap en diep asemskep
om suurstof te gee
vir wagtende lewensvure
en bloed te laat pols
deur bultende spiere,
om dan oopoë wawyd wakker
te sing, te fuif en te vier deur nagtelike ure,
want dit oorleef reeds vantevore
Vikings, Kelte en Romeine,
Anglo-Saksers en Sven Gaffelbaard se Dene,
Normandiërs, die Groot Vuur, builepes en die Duitse Blitz
en kom steeds weer op sy bene.
Hierdie gebombardeerde en beblitzde stad
staan reeds dikwels op uit rommel en as
en sal nou weer feniksagtig verrys uit dié slaap,
om dan groter te groei as wat dit ooit was.
Straat en plaveiselpaadjies sal wriemel:
’n skare stedelinge en weetgierige toeriste
wat babbelend, gretig as kosmopoliete wil aanskou
watter opwinding hierdie hoofstad inhou.
Hier raak ’n mens nooit verveeld nie
want dis eeue gelede al reeds voorgeskrewe:
“As jy moeg is vir Londen
is jy moeg vir die lewe!”
© Meyer van Rensburg, 2022