Copernicus: Gesprekke met God
(Skildery deur Jan Matjeko: Astronom Kopernik, czyli rozmowa z Bogiem)
Knielend word die hemel dopgehou
op-en-wakker in die sluimerure
vroeg voor dagbreek
hoog op jou sterrewag-balkon beskou
jy vraend die oorgang van die nag
en die aankoms van die skemerende dag
terwyl ligure ver ’n paar sprankel-sterre
nog steeds bly flonker
uit onwis van eone se dubieuse donker
agter jou die Frombork-katedraal
waar jy dien as priester en eksegeet
maar hier jou heliosentriese model
in sirkelgange uitgemeet
op ‘n groot plat bord
met elke planeet-revolusie afgetel
’n illustrasie van jou De revolutionibus.
Wat sal daarvan word?
Angstig-soekend kyk jy omhoog
waar die uitspansel steeds verbyster
regterhand aanbiddend na bo gelig
met groot verwondering vir die gewelf
op jou afvraende oop gesig
in die linker ’n toestel wat die hemele meet
en aan eenkant dieselfde boek
oor omwentelinge van die swerk se sfere
soos ’n stil profeet.
Astronomiese apparaat lê oral uitgesprei
maar vir nou is dit net die hemel en jy:
“Laat my asseblief weet, Here!”
Voorheen het die onomwonde invokasie
wyse insigte gebring:
“Om te weet dat ons weet
wat ons weet, en om te weet dat ons nie weet
wat ons nie weet nie, dít is ware kennis.”
En “Jy moet gereeld verander
om konstant te bly in wysheid en geluk.”
Asook “In ’n goed regeerde land
is armoede ’n skande.”
Maar nou, terwyl jy dit nog oordink,
word nuwe kennis summier openbaar:
dat die son nie om die aarde draai nie!
Dit is moeilik vir almal om te aanvaar
niemand sou dit ooit kon raai nie
en Galileo word later juis dáároor
as ketter deur die kerk verklaar .
Ons is tot dan vir eeue aan die neus
gelei: gesê gehoor gelees
dat óns die heelal-middelpunt moet wees
maar dis nou gewis
beslis nie waar nie, al dink elkeen:
“Ek is!”
© Meyer van Rensburg, 2022