Die rooi woude van Tsjernobil
o my vlaktes, o my velde van verlatenheid
waar ons ontslape helde nog vir oulaas hier
op hul perde saam met die Kossakke reis
o my dooies, o my vlugtelinge vanuit Pripjat
waar verstilde huise nog van spoke droom
en ’n bloedmaan oor haar kernuitval waak
ek treur weer oor die tweesprong van atome
en die verminkte woude rondom Tsjernobil
waar soldate uit die moederland in loopgrawe
onder die skelette van straaldun bome woon
of later in die skaduwees van wagtorings teen
’n nederige son in die laatmiddae bly skuil
en in die rooigrond van Pripjat verdwaal hulle
êrens in die halflewe van plutonium en uraan
o moederland, my moederland, jou soldate
keer terug met die basuin van Alexandrov
se triomflied, in konvooie uit die spergebied
van isotope, uitgelewer aan die uitstralings
o moederland, wat hét van jou geword, die
dae van Sowjet oorheersing is al lank verby
maar Reaktor 4 grom vir ewig in die woude
© Mellet Moll, 2022