Ikone
Daar is weer ’n oorlog
die keer in Oekraïne
verslaggewers en fotograwe
soos manskappe na die front
wat flitsende skote vuur
met die arrogante motto:
Die oorlog is nie wat jy sou sien nie
maar hoe ons dit vir jou opdis
met onderskrifte
Die regte lens, die regte hoek
en kliek-kliek met die glasoog:
Het jou!
Wanneer die berigte al ou nuus is
die konflik in die argief ter ruste
gaan jy dit só onthou –
met die ikoniese foto’s waarmee
die wêreld oorloë onderstreep
Che Guevara se oë
smeul onder sy beret
leef voort op T-hemde
Kim Phuc die napalmkind
en Hector Pieterson
bly vir altyd na ons arms hardloop
Sharbat Gula, Afghan girl
gloeiende groengeel oë
soos ’n kat in gevaar
se oorlog is verby?
trek tog haar sluier toe
daar is wéér ’n oorlog
die keer in Oekraïne
Soek nog gesigte vir ikone
dalk met ’n hommeltuig
’n doodskoot op ’n man
met arms omhoog
op die pad buite Kiëf
’n Teater uitgebom
verminkte woonstelle
en gewonde inwoners
haal nie meer die voorblad
As die manskappe van die media
verslaggewers en kameramanne
hulle toerusting oppak en onttrek
is die oorlog in Oekraïne verby
vir al wat ons weet
is daar hoop
dat die ikoniese sonneblomme
weer gesig sal kom wys
© Anton Döckel, 2022