Van Anderkant die Dagbreek af
“Ek sien hom ver kom, ek sien hom ver kom, van anderkant die dagbreek af.”
– Kennis van die Aand, André P Brink.
Dit is die twee-lettergrepige ‘hoekom’
wat vlak asemhaal in dié gedig
óm van anderkant die dagbreek af
terug te kom, hoe dan anders
kan Oleg Abramov
die spreker wees
– verteller wees –
van wat gebeur het in Bucha?
Hoekom is dit dat my vrou, Iryna
nou óók wens dat sý reeds reisiger
van hierdie anderkant-die-dagbreek-is?
Hoekom is dit dat hulle vir my, Iryna
en Pappa by die huis uitgesleep het?
Dat hulle sonder uitlokking ʼn handgranaat
in ons tempeltjie aardse goed gegooi het
– wat die huisie aan die brand gesteek het –
pappa laat naderstorm het, om te red
wat nooit te redde kon wees nie
aldus die soldate?
Hoekom is dit dat hulle my geen vrae
gevra het nie niks gesê het nie –
my bloot nét beveel het om
voor hulle te gaan kniel –
my kop agteroor gepluk het –
vir oulaas in my gesig gespoeg het –
en toe reg voor Iryna die doodskoot
– van agter af –
deur die kop gejaag het?
Hoekom is dit dat toe Pappa
nie die brand in ons tempeltjie kon blus nie
– en soos wat ʼn 70-jarige man ook maar doen –
na my toe uitgeroep het gesê het:
“Olef, kom help net hier” –
hulle gelag het (soos die SS van ouds)
en spottend gesê het:
“Oleg sal jou nie meer kan help nie, Ouman”
Hoekom is dit dat Pappa en Iryna
in ʼn naburige huis moes gaan skuil
en vir ʼn maand lank moes toekyk
hoe my lyk stuk-stuk ontbind?
Hoekom is dit dat daar – soos myne –
410 ander burgerlikes
se lyke
in vlak grafte lê –
én hulle ook nou
moet ronddwaal anderkant die dagbreek?
Hoekom is dit dat die suiwerste water in die wêreld
nie die donker bloedkol op die sypaadjie
van hierdie tipe apokalips
sal kan afwas nie?
Ek, Olaf Abramov,
kom van anderkant die dagbreek af
om my laaste aardse woorde
in hierdie vers te laat bewe: Hoekom?
(ʼn Narratief met betrekking tot die berig soos vervat:
https://www.bbc.com/news/world-europe-61003878 )
© Bester Meyer, 2022
Dank hiervoor en vir die vertaling van St Johannes van die Kruis. Joan
Dankie vir die raad, Prof Hambidge. Ek verstaan. Oorspronklik het ek gedink om die plasing/gedig soos hieronder af te sluit, wat dan die gebruik van die motto beter sou verduidelik. Ook om vir die Ambramovs ‘n woord van vertroosting te probeer gee. Maar ek het dit juis uitgelos omdat ek onseker was daaroor.
Sela
Op ʼn donker nag, wat wou ontvlam met verlange—o,
gelukkige kans!—
het ek onsigbaar voortgegaan, my huis
nou oplaas met rus.
Duister en beskut, met die geheime leer, ver-
sluier—o, gelukkige kans!—
In donkerte verdoesel, my huis
nou oplaas met rus.
In die gelukkige nag, in geheim, toe niemand my sien
(en) ek uitkyk op niks, sonder enige lig of gids,
behalwe dit wat brand in my hart.
Hierdie lig het my gelei sekerder as die lig
van die middagson
Na die plek waar hy (ek weet moes wie!) vir my
gewag het—
ʼn Plek waar niks verskyn.
O, nag wat my gelei het, O, nág liefliker
as die dagbreek,
O, nag wat Beminde en Minnaar versmelt, Minnaar
in Beminde transformeer!
Op my bors van blomme, Heel bewaar vir slegs
hom,
Het hy geslaap, Ek hom vertroos, En die wind
deur die Seders het ʼn bries laat aanwakker.
Die bries het vanaf die toring gekom Toe ek sy
lokke verlaat;
Met sy tere hand is my nek verwond Én my
bewuswording nou ten volle opgeskort.
Verlore in vergetelheid gelaat; My gesig neergebuig
na die Beminde.
Alles gestaak, myself begewe, My sorge tussen
die lelies agtergelaat.
(Vertaling van “Stanzas of the Soul” uit Dark Night of the Soul, St John of the Cross, vertaal en redigeer deur E. Allison Peers. Image Books, 1959)
Hierdie vers het my geruk.
Die oorlog raak ons almal.
Raad: haal die motto uit, want jy bring iets na die teks wat nie nou tersaaklik is nie.
Belangrike boek. Maar nie hier nie.