
Beste lede en vriende van PEN Afrikaans
Ons dink aan ons landgenote wat deur die verwoestende oorstromings in KwaZulu-Natal geraak word en spesifiek dié wat geliefdes tydens die stormramp verloor het. Talle persone word nog vermis. Die dodetal styg steeds soos daar gesoek word na persone wat deur die water meegesleur is.
In memoriam
Die afgelope maand was daar ook hartseer nuus oor die heengaan van verskeie geliefde bevorderaars en beoefenaars van Afrikaanse skryfkuns. In ’n boodskap hieroor skryf ons voorsitter, Bernard Odendaal:
“‘Die afdraand van die dag is kil. Hoe skielik het dit aand geword?’ klink die digterlike woorde van Olga Kirsch in ’n mens op. Maar ook: “Metafore gloei in stille heldedade,” soos mededigter Joan Hambidge, by wyse van ’n toespeling op een van Johan van Wyk se digbundeltitels, êrens skryf. Ons vier hulle skeppende lewens, in samehorigheid met hulle geliefdes in hierdie tyd van beproewing.”
Ons betuig ons meegevoel aan die naasbestaandes van:
- Prof. Jacques van der Elst: ’n gerekende akademikus en taalkenner wat ’n belangrike bydrae gemaak het tot die bevordering van Afrikaans, onder meer in sy hoedanigheid as voormalige uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en die Afrikaanse Taalraad. Lees hier meer.
- Derick van der Walt: die skrywer van deernisvolle jeugboeke soos Willem Poprok en Lien se lankstaanskoene. “Dit is hartseer om te dink dat daar nie nog ’n Derick van der Walt-titel êrens in ’n pyplyn is nie. Hy laat ’n groot leemte in die Afrikaanse jeug- en jongvolwassenefiksiewêreld én breër. Hy kon vir almal skryf en het ook,” skryf Magdel Vorster in ‘n huldeblyk wat hier beskikbaar is.
- Ronel Nel: vryskutjoernalis, digter, romansier en kinderverhaalskepper. Sy was onder meer die tydskrif Rooi Rose se kuns- en boekeredakteur. Nadine Petrick bring hier hulde aan haar.
- Johan van Wyk: digter, dramaturg, prosaïs en literator. “’n Enorme verlies. ’n Uitsonderlike talent,” skryf Joan Hambidge hier.
- De Waal Venter: ’n veelsydige woordkunstenaar wat veral as digter bekendheid verwerf het, maar ook jeugverhale, kortverhale en radiodramas geskryf het. Hy het ook die Afrikaanse letterkunde verryk met sy vertalings van poësie uit die wêreldletterkunde. Lees Nini Bennett se huldeblyk hier.
De Waal Venter was sedert die totstandkoming van PEN Afrikaans ’n getroue lid van ons vereniging. Ons het verlede maand Wêreldpoësiedag herdenk deur ’n aanhaling van hom te deel.

Oorlog in Oekraïne
Die oorlog in Oekraïne woed voort. Beriggewing wys enorme verliese en skokkende wandade, met oorlogslagoffers wat nou al by die tienduisende trek. Luidens berigte beskou Poetin die vredesonderhandelinge met Oekraïne as “doodgeloop”.
Die Suid-Afrikaanse regering hou jammerlik voet by stuk dat hul nie die oorlog kan veroordeel of kant kies nie en het al herhaaldelik in internasionale forums buite stemming gebly hieroor.
PEN Afrikaans betreur die volgehoue versuim van die nasionale regering om standpunt teen Poetin se oorlog in te neem. Suid-Afrika behoort Rusland se optrede ten sterkste te veroordeel, in die openbaar en op die wêreldverhoog.
Ons sluit hier PEN Ukraine se jongste nuusbrief in.

|
In the village of Kapytolivka in the Kharkiv region, Russian occupiers detained the writer and volunteer Volodymyr Vakulenko and his son. Volodymyr’s ex-wife says the reason lies in the writer’s pro-Ukraine stance. He was last reachable on 7 March. We are calling upon all of you to talk and write about his case on all possible platforms. Words are also weapons.
Today in Ukraine there is no photographer whose work would not carry the warning “Sensitive content”. Under bombs, missiles and cluster munitions, these people are documenting the unimaginable brutality of the Russian army that launched a full-scale war against Ukraine on February 24, 2022. They also show the heroic deeds of every Ukrainian. In this article, PEN Ukraine introduces some of the extraordinary photographers who are risking their lives to tell the world the truth about this war.
We continue a series of conversations #DialoguesOnWar, where Ukrainian and foreign intellectuals talk about the experience of the war and share their own observations:
PEN Ukraine launched one page with the latest news and materials on Russia’s war against Ukraine with information on the situation in Ukraine, links on important materials and information resources, petitions, addresses, the list of editions about Ukraine to read in English, and books by Ukrainian authors recommended for translation. The page is being continuously updated with the latest news and links. Go to the page and share with colleagues: war.pen.org.ua. |
RSG en Sanlam se radiodrama-skryfkompetisie aangekondig
Die RSG Sanlam Radiodrama-skryfkompetisie is vanjaar 26 jaar oud. Dié jaarlikse kompetisie kan bestempel word as die oudste dramakompetisie in Suid-Afrika wat Afrikaanse radiodrama bevorder en bekroon. Die kompetisie het oor dekades die Afrikaanse kunstebedryf gevoed, en werk geskep vir skrywers, akteurs en regisseurs.
Die totale prysgeld beloop vanjaar R115 000. Die skrywer van die wendrama ontvang R50 000, die naaswenner R25 000 en die drama wat die derde plek beklee, verdien R15 000. Die wenner in die kategorie Jong Skrywer (jonger as 30 jaar) sal ook R15 000 ontvang. ’n Bykomende merieteprys van R10 000 word toegeken vir ’n drama met belofte wat nie vir die skrywer daarvan een van die eerste vier pryse kon opraap nie.
Die sluitingsdatum vir inskrywings is Maandag 1 Augustus 2022. Inskrywings kan per e-pos gestuur word na radiodrama@rsg.co.za. Raadpleeg die handleiding vir die teksformaat, reëls asook inskryfvorm. Die handleiding is onderaan hierdie webblad beskikbaar om af te laai. Belangstellendes kan hier na ’n slypskool luister.
Kortlyste aangekondig: UJ-pryse 2022
Baie geluk aan die skrywers wat die kortlyste vir die 2022 UJ-pryse gehaal het.


Die UJ-pryse vir Afrikaans word sedert 2000 jaarliks toegeken aan skrywers van uitsonderlike Afrikaanse boeke. Die UJ-prys vir Afrikaans is ’n oop kategorie vir boeke van enige genre wat in Afrikaans geskryf is deur niedebutante en wat verskyn het tussen 1 Januarie en 31 Desember van die voorafgaande jaar, terwyl die UJ-debuutprys geoormerk is vir debute. Altesaam 86 titels is ingeskryf waaronder 20 debute.
Lees die volledige persverklaring hier.
Die verskraling van RSG se aktualiteitsaanbod
Veranderinge aan RSG se programme, veral die oggendprogram, het die afgelope paar weke tot ontsteltenis gelei onder diegene wat dié openbare uitsaaier se sterk aktualiteitsaanbod op prys gestel het. Die program Monitor is met ’n uur verkort en die program Praat saam, waarvan die gerekende joernalis Lynette Francis die aanbieder was, het van die lug verdwyn.
PEN Afrikaans is as organisasie gemoeid met die stand van die Afrikaanse joernalistiek, wat natuurlik radiojoernalistiek insluit. Verskeie van ons lede is joernaliste en kommentators. Vernuwing is in ’n vinnig veranderende wêreld ’n gegewe en selfs ’n lofwaardige mikpunt. Dit verg egter ’n verbeeldingsprong om die wegdoen met hierdie prominente en toeganklike gespreksruimtes oor aktuele kwessies nie ook as ’n verlies vir die openbare diskoers in Afrikaans te sien nie.
In ’n meningstuk vir Rapport skryf Pieter Malan: “RSG behoort nie net aan Afrikaanse mense in hierdie land nie. RSG ís ons. Geen stasie kan doen wat RSG doen nie – ’n allegaartjie van programme wat ’n mens alles gee van opera en slim professore wat weet waarom geitjies teen mure kan uitloop tot sterrekundiges wat geheime van die heelal verstaan. En belangrikste van als: Luisteraars kan vertel wat in die wêreld aangaan – in diepte. Nuus en aktualiteit is die ruggraat van ’n openbare uitsaaier.”
Ook Ivor Price betreur die afskaling van die aktualiteitsaanbod in ’n meningstuk. Hy skryf:
“Monitor sowel as Praat saam was dekades lank die hoeksteen van openbare diskoers in die Afrikaanse leefwêreld. Die aanbieders en regisseurs het luisteraars deur die oorgang van apartheid na demokrasie gehelp, en soos ’n getroue lewensmaat gehelp om ingeligte besluite oor hul lewens, die land en die wêreld te maak. Wat nou daarvan oorgebly het, is die ekwivalent van ’n biertent by ’n kunstefees. Dit gaan lekker jolig, maar daar is helaas geen diepte nie.”
Maandelikse resensie-oorsig

Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Maart 2022 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsigte sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.
Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com.
Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.
Nuwe Afrikaanse boeke in April 2022
Baie geluk aan ons lede wat hierdie maand nuwe boeke op die rakke het. Dit sluit in: Christelle van Rooyen-Wessels, Grant Jefthas, Nerine Ahlers en Wendy Maartens.
Die publikasielyste kan hier in Excel-formaat afgelaai word.
Nuwe lede
Ons sê ten slotte hartlik welkom aan die volgende nuwe lede:
Beryl Botman
Cecilia Hofmeyr
Diana Ferrus
Didi Potgieter
Elodi Troskie
Emelda Nel
Helené Bestbier
Hendie Grobbelaar
Jaco van der Merwe
Jacques Wessels
Jason Demetri Hartman
Karel Willemse
Naomi Meyer
Pieter Odendaal
Susann Louw
Tanja Joubert
Ons is bly dat julle besluit het om aan te sluit.
Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans
