Die gedig as beurtkrag
Oor jou sal ek nie ‘n gedig skryf;
tog ek hoor jou meesmuilend lag:
A, my stilte het jou tog geraak?
Tussen kommapunt en dubbelpunt
lê iets soos ‘n rewolusie-van-die-rede
van lig tot hierdie donkerte …
‘n Uur voor die tyd met ‘n belofte
van ‘n weersiens onuitgevoer.
Ons téte-à-téte ‘n pertjoema?
In die slotakkoord gaan die lig
aan, wat jou en daardie leser grief,
waarskynlik dat hierdie gedig
onsinnig worstel met opstand en krag.
Die dilemma van die digter se gewag
om iets uit die vat van Danaïde te mag …
© Joan Hambidge, 2022
