Joan Hambidge. Die gedig as beurtkrag

 

Die gedig as beurtkrag

 

Oor jou sal ek nie ‘n gedig skryf;

tog ek hoor jou meesmuilend lag:

A, my stilte het jou tog geraak?

 

Tussen kommapunt en dubbelpunt

lê iets soos ‘n rewolusie-van-die-rede

van lig tot hierdie donkerte …

 

‘n Uur voor die tyd met ‘n belofte

van ‘n weersiens onuitgevoer.

Ons téte-à-téte ‘n pertjoema?

 

In die slotakkoord gaan die lig

aan, wat jou en daardie leser grief,

waarskynlik dat hierdie gedig

 

onsinnig worstel met opstand en krag.

Die dilemma van die digter se gewag

om iets uit die vat van Danaïde te mag …

 

© Joan Hambidge, 2022

 

Bookmark and Share

Comments are closed.