Joan Hambidge. Oggendmeditasie
Oggendmeditasie
Pase 2022
Die nag ‘n oorvol asbak
met besoeke van en na
verre plekke, ontmoetings
met vergetenes, vertrekkendes.
Vrese tot die dag breek:
‘n stil gebed soos Eugenio Montale
soekend na die stil punt van die wêreld
nes Eybers in haar winter-surplus.
Daardie Stil punt van die aarde,
soos my vriend dig, nou onmoontlik
met modderrampe en ‘n oorlog
op ons klein en silwerige planeet.
In hierdie concordia discors
onthou ek Pase by my ouers,
my vader se studeerkamer
‘n atlas-van-die-wêreld.
Toe was alles ver en in beheer
met “Vroegherfs” ‘n gebed
vol hoop en verlossing …
Nou smag ons na berusting.
© Joan Hambidge, 2022