Resensie: Die brug van ongesêde dinge deur Elna van Niekerk. Turksvy Publikasies, 2022.
Resensent: Nini Bennett
Turksvy Publikasies is in 2020 gestig deur die digter, Hannes Visser en joernalis, Marlene Malan. Sedertdien het die COVID-19-versamelbundel, Maskers en Mure (2021), asook verskeie jeugverhale, digbundels, kortverhaalbundels en spanningsverhale die lig gesien. Daniel Hugo bestempel die onlangse digdebuut van Elna van Niekerk, Die brug van ongesêde dinge as “die opwindende werk van ’n selfversekerde digter.” Van Niekerk se verse is opgeneem in Nuwe stemme 6 (2017) en Sol Plaatje European Union Poetry Anthology (2018). Sy het tot dusver ’n geskakeerde lewe gelei as filosofiedosent, navorser, busbestuurder en sakevrou.
Volgens die HAT is ’n brug ’n konstruksie wat gebou word oor ’n rivier, kanaal, pad of spoorlyn om die verkeersvervoer te dra. Die brug kan derhalwe dien as struktuur tussen twee punte wat oor ’n oop spasie of gaping strek. ’n Tweede betekenis dui op die kontrak of verbinding tussen twee mense of partye.
In hierdie debuutbundel vind die brug, as verbindende konstruk, beslag tussen binêre opposisies soos die hede en die verlede; tussen verskillende tydskontekste en plekke, ter plaatse en internasionaal; tussen droom en werklikheid, en as ontmoetings tussen mens, dier en mitiese wesens. Poësie as digterlike uiting oorspan die ongesêde dinge of dít wat doelbewus versweë bly soos dit uitdrukking vind in die stiltes, hiate of die ellipse in taal. Taal word met ander woorde sélf ingespan as “brug” by wyse van taalkonstrukte soos sinekdogee (pp. 80 – 81) of metonimiese verwysings. In die titelgedig, “Die brug van ongesêde dinge” (p. 79) word die broosheid van menslike verhoudings weerspieël. Liefde vind uitdrukking in taal, wat as metaforiese brug enige oomblik kan “ineenstort” as gevolg van die onderliggende eksistensiële Angst wat menslike verhoudings kenmerk. ’n Mens dink in hierdie verband ook aan vorige bruggedigte, byvoorbeeld Atlas teen die vergeetrivier (2013) van Pirow Bekker waarin die brug as meervlakkige betekeniskonstruk sinvol ontgin is.
Die brug as konkrete baken vind voorts gestalte in die reisgedigte asook die heel laaste afdeling wat handel oor die spreker se belewenis as busbestuurder.
Die omslagkuns, ’n skildery van J.P. Meyer, toon ’n buffel wat bo-op ’n steenbrug staan. Die grafika op die voorplat blyk om doelbewus aan kinderkuns te herinner, ’n naïewe – of ongekunstelde – bestekopname van die kodes wat die leser dan later terugvind in die bundel, byvoorbeeld die oranje helikopter (p. 34), die windkous (p. 34), die bus, of die geel maan (p. 59). Kennelik wil die spreker die leser voorberei op verse waarin daar met verwondering en ’n vars perspektief gekyk word na die wêreld. Die verse is inderdaad ook pretensieloos en beweeg weg van ’n doelbewuste of gekunstelde sofistikasie, alhoewel die bundel steeds geanker bly binne die Afrikaanse literêre tradisie en meegaande Afrika-konteks.
Die bundel is gerubriseer in 6 dele. In deel I en II kom die spreekwoordelike engel nog nie behoorlik uit die klip nie en rafel die verse weg in retoriese segging. Hierdie gebrek aan helderheid word opgehef in deel III. Die sterker gedigte verskyn in die tweede helfte van die bundel, deel III tot VI. Alhoewel hierdie ’n belowende debuut is, kon ’n strenger keurdershand die distillaat goeie verse verder uitgedun het.
“Deel I, By-die-dinge” se koppeltekenkonstruksie sinjaleer dat taal as linguistiese en metaforiese brugkonstruksie by die byeenbring van herinneringe betrek word: die verse handel oor die intimiteit van menslike belewenis. Ek haal aan, “By-die-dinge” (p. 19), die laaste twee strofes:
Kerberos, jou gitswart Labrador, het in sy eie warm lyf gekruip
terwyl ons die pyn van syn verdoof
en beneweld worstel met ons bestaan
tot ons vas glo ons ís hier, by-die-dinge,
ongesplyt.
Nou
sou ek jou graag meer wou vra,
oor die geborgenheid van woon.
Sentraal tot die reismotief in die bundel, wat as vorm van Bildungs-gedigte aangebied word, staan ’n soeke na ’n gevoel van sin en geborgenheid.
Die vers, “Van Gogh se meubels” (p. 16) breek uit sy impressionistiese kokon wanneer dit as hallusionêre ervaring geskets word. Die vers kan onder meer skakel met die bekende “Bedroom in Arles” (1888) wat dié skilder in ’n kamer in die Suide van Frankryk geskilder het. Van Niekerk se aktivering van binne- sowel as buiteruimtes is sinvol:
Daar is aande wat my meubels
soos Van Gogh s’n
op die punt staan om los te woel
uit semantiek.
Ek probeer hulle anker
met ’n glas shiraz,
maar die stilte suig hulle gewig uit
en verplaas dit in mý lyf.
Die groot tafel lig ’n poot
Die mat rol ’n tong
die bed rol om
die mure bol uit en kankaaf in.
Ek staar na vorms
wat begrip ontwyk.
In “Stergesél” (p. 17) word die sterrebeeld Orion in al sy mitiese implikasies netjies, in tandem, gestuur. Die verloofde word voorgestel as die argetipiese man-as-jagter wat sy geliefde versaak en dan die deur gewys word.
“Deel II, Kort verse” verbeeld onder meer die belewenis van taktiele ervarings: dié van aanraking, byvoorbeeld met water (p. 30), metaal (p. 31) en klip (p. 32). Die hoogtepunt in hierdie gedeelte is “hemel” (p. 33) met sy subtiele inspeling op Jonker se “Ek herhaal jou”:
daar was ’n tyd toe hemel ’n nag van liefde was
jou lyf se vorm nagemaak
deur iemand anders se knoppe waar jy holtes het
en die son se lig vyandig deur gordyne skyn
die hele dag ’n ballingskap
tot dit weer nag is
Die aanbod van die tiental amorfe, eksperimentele vierreëlige verse in “Kwatryne” (pp. 35 – 36) is nie oral ewe geslaagd nie en het kwalik enige iets met die kwatryn as vaste versvorm te doen. Hierdie kort meditasies verras tog plek-plek, soos byvoorbeeld:
10
’n besem stof
wolk by die deur uit
warrel stadig en bol terug
in die sonstraal wat ’n reguit streep daardeur maak
In teenstelling met die aanvanklike gebrek aan sekure poëtiese segging, beweeg “Deel III, The Downs” op ’n hoër peil. Dié gedig (pp. 39 – 42) is ’n lang digterlike relaas in 9 dele wat verslag doen oor ’n verblyf op ’n plaas in die Limpopoprovinsie. Die volgehoue sinestetiese spel met die ouditiewe en visuele, waarin die landelike leefwêreld gemistifiseer word, sorg vir ’n geslaagde vers. Strofes 2, 7 en 8:
Mensestemme in mistige botone –
[…]
Die reën maak alles vertikaal.
Die huis is ’n gesinkte skip.
[…]
In die skemer wanneer die hadidas huis toe kom,
word die huis ’n klankbord vir die wind.
Die huis luister
hoe die nag die takke skuur,
die plankvloer koud word.
“Deel IV, Psalms vir diere” getuig van fyn portretstudies van diere. Die ontmoeting tussen die spreker en diere jukstaponeer die primitiewe met die sublieme; die spreker is duidelik lief vir diere en sy berig met deernis oor hulle weerloosheid en dood (pp. 46 – 48). Sentraal tot die bundel staan die buffelgedigte en die digter bevestig haar verbondenheid tot die tradisie van die Afrikaanse poësie deur Opperman se bekende “Vuurbees” as spilgedig voor te hou.
Hier is sprake van twee ontmoetings met die buffel, ’n konkrete, sowel as ’n simboliese ontmoeting. Op pp. 49 – 50 verneem die leser die volgende, en ek haal aan, strofes 4, 5, 6 en 8:
Ons ken mekaar.
[…]
Ons ontmoeting kom:
[…]
Of gaan hy my deurboor, my lyf trofee dra
in sy horings?
Gaan hy hom te pletter storm teen ’n rots,
sy horings mities vasgepen tot hy om vergifnis vra?
Of dalk ry ek triomfantlik op sy rug,
met ’n banier wat rooi-en-goud oorwinnaar wapper.
[…]
My gister en môre
knoop ín die dier,
in ’n buffelvormige skaduwee
wat oor my heelal val.
Die konkrete ontmoeting met die buffel en die hiperboliese invloed van die dier op die spreker roep strofe 1 van “Vuurbees” voor die oog:
Vuurbees
Die buffel ken geen metafisika:
hy soek die soetgras
en die kuil,
hy sal die kalf karnuffel,
horings in sy vyand gra,
ie koei besnuffel,
teen hael gaan skuil,
maar geen vrae oor môre vra –
die buffel ken geen metafisika.
Alleen die mens
tref in sy swerwe
tussen hede, toekoms en verlede
die spleet tot grotte
van die rede:
hy maak ’n mes,
’n vuur,
skep gode,
dink aan sterf,
prewel gebede
en moet beswerend teen ’n muur
van sy spelonk die buffel verf:
Die buffel van die metafisika:
die vuurbees in homself
volg, buig of bars,
enduit sy drif en drome na,
en prikkels van die brein
word piramides, Laaste Avondmaal,
wiel, chroom,
projektiele, produkte van atoom,
et cetera.
En voor sy besete blik
besef die enkeling
ontsteld
hy sal ook nie terugskrik
vir die alles-uitwissende slagveld –
stukkend lê alreeds
die Parthenon en Hirosjima
in die bose skoonheid van geweld.
Die buffel ken geen metafisika.
(D.J. Opperman. Dolosse, 1963.)
Die simboliese vuurbees, die mens as vuurbees wat sinspeel op die Prometheus-mite; anders gestel, die gebruik van vuur as tegnologie in die vervaardiging van wapens, bereik intertekstuele wasdom in Deel IV wanneer daar berig word oor die volksmoord in Rwanda. In verskeie verse word gefokus op die smelt van metale vir die gebruik van wapens soos lemme (p. 23). Die redelose mens se sug na oorlog as “die bose skoonheid van geweld” resoneer met Nietzsche se beskouing dat die metafisika nihilisme nastreef.
In “Grouse Mountain en ander geluide” (pp. 55 – 56) verskuif die fokus van die Suid-Afrikaanse landskap na ’n natuurreis in Kanada. Van Niekerk slaag plek-plek met mooi beeldvondste en suiwer segging, byvoorbeeld “Geel maan” (p. 59). Die spreker het per ongeluk ’n dier doodgery, maar in die proses het sy simbolies saam met die dier gesterf:
Die maan was só geel dat dit nie lig gee nie,
die sterre se goddelikheid kras vergiet.
Ons lê dood in die ligte van my motor,
om ons myle donker.
Alhoewel daar goeie verse in “Deel V, Ongesêde dinge” is, neig dié deel na ’n ooraanbod van willekeur – ’n smorgasbord van verse wat in verskillende rigtings uitwaaier. In hierdie deel is daar reisgedigte en beskrywings van plekke (p. 65); die aardsheid van ’n ontmoeting met ’n Boesman (p. 67); ’n toespeling op Alvarez se The savage god (p. 72); verse met aweregse erotika as invalshoek (pp. 75, 90) en verse wat geklee is in ’n mitologiese stoffering (pp. 73, 78 – 79), om enkeles te noem. Verfrissend egter is wanneer die spreker, as moderne reisiger, haar tegnologiese hulpmiddels soos GPS-koördinate, Google Maps en Android-tegnologie inspan om werklikheidsgetroue weergawes van hedendaagse reise weer te gee: hierdie hulpmiddels tree inmiddels op as ‘stille’ medereisigers (pp. 66, 69 – 70). Belangrike gedigte in Deel V is dié waarin die spreker se besorgdheid oor kinders uitdrukking vind, byvoorbeeld in “Die seuns van Dinokana” (p. 86). As gevolg van ’n uitsiglose bestaan, lei hierdie seuns se premature seksuele wasdom tot ’n promiskue leefstyl. “Die kinders van Kigali” (pp. 98 – 99) vertel van ’n besoek aan ’n museum in Rwanda waartydens die spreker hierdie historiese slagting figuurlik herleef. Ek haal aan, strofes 7 – 10:
hier glimlag die héél kind nog
in ’n verbleikte foto
voor jy die saal uitgekyk het,
drup hulle bloed oor jóú elmboë
wat die kapmes swaai
verskriklike gedagtes
maal in jou kop,
jou aandadige knieë knak
jy huil in jou afgekapte hande
Met die spreker se besoek aan die museum plaas sy die verlede allegories in die beskuldigdebank: die rol van geheue en skuld word beklemtoon, naamlik dat die mens nooit die gruwels en onregte van die verlede mag vergeet nie. Oor laasgenoemde onderwerp het die Duitse regter, Bernard Schlink, onder meer die volgende gesê: “Doing history means building bridges between the past and the present, observing both banks of the river, taking an active part on both sides.”
“Deel VI, Busrygedigte” vorm nog ’n hoogtepunt in die bundel. Volgens Van Niekerk se biografiese inligting was sy werksaam as busbestuurder. Die digter as busbestuurder aktiveer temas van poësie wat sélf in transito beweeg – aaneenskakelend tot hierdie gedigte dink mens aan die film Paterson waar die busbestuurder die kyker attent maak op die daaglikse neerpen van poësie, van poësie as herhalende, ritualistiese daad. Hierdie sestal verse ontroer in die grafiese beskrywings wat enersyds brutaal eerlik is, maar andersyds die sensitiewe bewussyn van ’n filosoof reflekteer. Temas soos die Pretoria-omgewing met haar laatmiddagreën, die Kerkstraat-bomontploffing van 1983 en die vervoer van dienspligtiges tydens die apartheidsregime kom voor. “Busrit” (p. 105) flankeer met Eybers se “Busrit in die aand”:
Die dag breek in wiele:
dit skeur oop soos toedraaipapier.
Die Yskor-vulkaan se rook
maak ’n koepelstad.
In die leë bus speel Donovan
oor en oor
tot die battery pap is
tot die tape uitryg.
Vroeg – tussen huis en werk –
is die mense stil.
Ek
(onsigbare busdrywer)
sien agter hulle oë –
hulle dra hulle moegheid soos ou klere
en so, teen die aand,
laai ek ’n bus vol naakte oë
en dungedrade siele.
Die digter se volgehoue spel met oorgange, voltooid én onvoltooid, beliggaam in die dwingende begeerte om ’n brug te slaan oor die gebrokenheid van die menslike kondisie. Ten spyte van sporadiese dowwe kolle, of verse en afdelings wat sterker teruggesnoei kon word, is Die brug van ongesêde dinge ’n sterk debuut. Van Niekerk, met haar natuurlike aanvoeling vir metaforiek skep aangrypende en onthoubare verse – hier is ʼn digter van wie mens graag méér sal wil hoor.