Gee, gee, gee
Ballingskap is ‘n sypaadjieverhaal
in die katakombes van die nag –
Ons rook die sigare van die Groot Trek.
Ons bou ons lugkastele van ‘n
nuwe wêreld, maar wie
sal die ingee erken?
Wie sal die komberse bring
vir die verslaafdes
op middel-passaat?
Ek staan in (my) kleurskakerings voor my naaste;
lees die voor-dagbreekverhale in die oë van die nag,
nog altyd getrou aan die glas-
kasteel wat ons bou –
Ek vergas myself met die advokaat
doen lankal nie meer die outobank-
vastrap, maar klik-klik
die skyfie
van my geoutomatiseerde paspoort-kaart.
Én stil slaap die junkies
verdiep in ‘n verslawingsdroom
oor die meer-as-genoeg,
die minder-as-genoeg –
die komberse tot bo opgetrek
maar die tone bly koud
soos wat mensvreterhonde
keer op die keer
die been kom lig.
Waar is die dolfyne wat moet vleg
tussen die lyne van
vryheid, gelykheid en broederskap?
Stadig pols die nag –
maak die straatverkopertjies
reg vir nog ʼn dag se arbeid,
wyl ons gee, gee, gee
vir die neonhart in beton,
ons sente, ons drome
ons toekoms vol gate.
© Bester Meyer, 2022
Foto’s: © Bester Meyer, 2022