Opruiming nege
Verroeste sleutels met waterpype wat lek:
‘n double-entendre, die digter in hoek ge-.
Dié opruiming word nou ‘n opryming.
What is divinity if it can come
only in silent shadows and in dreams?,
vra die digter van Hartford, Connecticut.
Ons bly hom ‘n antwoord skuldig;
‘n kommapunt wat verbind en skei
eerder as ‘n uitroep of finale punt.
“Ons”, die kollektiewe sprekers, praat
teenstellend, sinesteties, metafories:
in mý komvandaan staan dit opgeteken.
Inperkings, beurtkrag, reise ópgeskort,
word ‘n binnewaartse soektog, dalk
‘n horror vacui in hierdie geslote baan?
Mirakel of muse? Inspirasie of dwinglandy?
‘n Voortplantende metafoor genereer
tussen vastelande en tale ‘n vingeralfabet.
In so ‘n cul de sac gaan die vers oop,
‘n stuwadoor én dolosgooier, ‘n oksimoron.
Kortsluitings uit taal se simboliese tyding.
© Joan Hambidge, 2022