Joan Hambidge. Opruiming agt
Opruiming agt
Elizabeth Bishop se die kuns van verlies,
beskou jy allengs in ‘n donker woordskildery
via Achterberg en ander sans parler.
Klankloos wonder ek saam met Kirsch
“Hoe het dit skielik laat geword?”
tot Alba Bouwer se afdraande o-so kil.
In my blou DJO-verseboek uit 1951,
vertaal en interpreteer ek melancholie,
glo transpreter soos ons driftig
meepraat, saamsing, weerloos toekyk
na sleutels wat geen slot kan oopkry;
deure gesluit wat nou elektronies toeklap.
Die ruimtevaarder verlaat die moederskip,
dobberend, losgemaak met ‘n helm
waarin woorde soos ysvlokkies lyk.
Stamelend word dié klanke opgevang:
“Buzz Aldrin was the second man on the moon,
‘n gedig onwillig om die oorspronklike korrek
te registreer … die siel ‘n paleis vol geheime …
dood en begeerte diep verbind … ‘n koorddans
soos die albasteraarde draai en draai …
‘n loflied aan die skryn … I was framed by poetry …
rymend oor die gebergtes in landskappe
vreemd … inderdaad ‘n visum by verstek …”
© Joan Hambidge, 2022