Opruiming tien
Dromende denke, denkende drome:
liggaamlike ongerief soos slaaploosheid
begelei en bedraad immer the force of poetry.
Niemand waarsku jou oor die krankheid
van dié proses gesien as heling of genesing.
Verlam deur ennui word ‘n asbak jou leidraad.
Knipperende oë wat leuens moet verdoesel.
Dubbelpraat, knoeispraak, ‘n lem in die rug
in naggesprekke met drome wat teëpraat.
Eers was dit ‘n asbak vol hartstogte uitgebrand;
nou ‘n nuwe ruggespraak met tekens-as-teikens.
Sy het immers gelewe ter wille van die skrif?
Kort-van-draad, hierdie proses intens gekoppel
aan die onverwagsheid van die bliksemsegging:
alles soos beurtkrag met drade ontkoppel.
© Joan Hambidge, 2022
