By Verkykerskop
Über allen Gipfeln ist Ruh – Goethe
Hoe intens die doenighede ook al was in elke kop
met sandsteenmote wat losgekap in heinings dien,
hier heers stilte nou; enkeles nog as grafstene te sien:
bakens waar dit wat verganklik is, moes stop.
Asof afwesig staan ‘n hoekpaal, met dunner steen gestut;
weg is sy makkers, die meeste eenmaal in gelid –
staan hy daar net soos jare terug in my geheue gegrif,
wag hy dat ek my verkyker weer op hom sal rig.
Wit stippels wys ‘n uilebal is op sy kruin gebraak,
die roofvoël se dieet dié keer ‘n ouvolk-akkedis,
die tenger skelet deur strale ultraviolet geblaak,
want moeilik sal dié landskap by spykerskrif berus
in dowwe vlees versteek; nog moeiliker rus gemaak
deur peil geplante klippe wat nou eensaam is.
© Pirow Bekker, 2022
