Joan Hambidge. Opruiming sestien
Opruiming sestien
Waar is die sneeu van voorverlede jaar?
Presies waar het hierdie vers ontstaan?
Hoeveel verse al oor tussenplekke gemaak?
Die voorwete – ‘n pseudo-Gnostiek – dalk
‘n scintilla, kom vanoggend op ‘n soort glyskaal
na vore: churinga of rituele objekte, ‘n amulet
om my pols, ‘n ouroboros beskerm my teen
onverwagse, pynlike insette reeds in La Paz
gesien, geweet daar is iets buite verstaan.
My vader, soos ek, glo in die mag van waarsegging.
Flink kon hy in brug ‘n ander se hand voorspel.
Parapsigies my lot in die hand se kontoer lees.
Kort voor sy dood asof hy weet van ‘n boekstawing
foto’s en dokumente aangestuur ter stawing
van sy lewe wat in mý woorde nooit sal verjaar.
Die punteneurige skriba, dit was my vader,
met ‘n litteken op sy hand, ‘n kenteken.
O waar is die sneeu van voorverlede jaar?
© Joan Hambidge, 2022