Opruiming sewentien
Die digter is buite raam, soos ‘n akteur,
nog met grimering en ‘n kostuum aan.
My gedigte is jy: jy was méér as ‘n speler.
Klokslag meld jou jy aan in die repetisiekamer
se onthoue, terugspeel in die filmweergawe
van ons verbintenis: The heart is a lonely hunter.
Die regisseur se teks met voorskrifte aktiveer
by jou ‘n wegdraai van die kil, genadelose kamera.
Ek vertolk my hoofrol met oorgawe volledig.
Wat bly oor van ons in aksentuasie of implikasie?
Dat jy jou woorde (ek-het-jou-lief) vergeet het?
En ek jou nie kan vergeet nie met presisie?
Die film speel in die teater van my onbewuste:
hierdie gedig is geen voorskou, eerder ‘n stilfilm
sonder onderskrifte of ‘n klankbaan wat alles intimeer.
© Joan Hambidge, 2022
