I
Natuurverse is komplekse gedigte. Dit kan ‘n beelding wees van die digter se innerlike gesprek, ‘n soort binne-dagboek (https://versindaba.co.za/2022/07/15/joan-hambidge-natuurverse/ Besoek 25 Julie 2022) of dit kan selfs ‘n representasie word ‘n skilder se reaksie op die natuur (https://versindaba.co.za/2022/07/15/joan-hambidge-natuurverse/ Besoek 25 Julie 2022).
Hoe digters op Pierneef se landskappe reageer, is betrek. Die sogenaamde verisimo of ‘n werklike realiteit, word deur digters opgevang en verskillend vertolk.
Daar is reeds opgemerk dat Pierneef besoek gebring het aan Toon van den Heever in die ou Suid-Wes-Afrika. Daniel Hugo het ‘n belangrike bloemlesing oor hierdie landskap: Land van sonlig en van sterre (Protea, 2004) uitgebring.
Verse van Hugo, George Weideman (met sy staning onder sterre), Gustav Preller, Marié Blomerus (met die beskrywing van sterre wat haar oorweldig), Piet van Rooyen, Abraham Fouché, Johann Lodewyk Marais (‘n nugter vers oor die oorlog) en natuurlik: Wilma Stockenström se die briljante “Die eland”, vind ons hier.
http://joanhambidge.blogspot.com/search?q=windhoek Besoek 25 Julie 2022
II
In die Hoëveld
In die Hoëveld, waar dit oop is en die hemel wyd daarbo,
Waar kuddes waaigras huppel oor die veld.
Waar ’n mens nog vry kan asemhaal en aan ’n God kan glo,
staan my huisie, wat ek moes verlaat vir geld.
En as ek in die gange van die myn hier sit en droom
van die winde op die Hoëveld, ruim en vry,
Dan hoor ek die geklinkel van my spore, saal en toom,
sawens as ek bees of skaap toe ry.
Op die Hoëveld, waar dit wyd is, waar jy baie ver kan sien,
(die ylblou bring ’n knop dan in jou keel)
staan my huisie nog en wag vir my, wag al ’n jaar of tien,
waar die bokkies op die leigrafstene speel.
Maar as die tering kwaai word en ek hoor die laaste fluit,
dan sweef ek na die Hoëveld op die wind
ek soek dan in die maanlig al die mooiste plekkies uit
waar ek kleiosse gemaak het as ’n kind.
https://www.facebook.com/taalgenoot/posts/959249924086102/ Besoek 25 Julie 2022
Hierdie gedig deur Toon van den Heever boei my geweldig. Gebore in 1894 in Heidelberg in die Tranvaal is hy werksaam as advokaat in Windhoek waar hy aan Pierneef verblyf verskaf het. Later woon hy in Bloemfontein. Hy debuteer in 1919 met Gedigte wat later in 1931 bygewerk en gepubliseer word as Eugene en ander gedigte. Die speelman van Dorestad is die titel van sy tweede bundel in 1949.
Ofskoon Eugene en ander gedigte aanvanklik negatief deur die kritiek beoordeel is, ontvang hy die Hertzogprys in 1951. J.C. Kannemeyer takseer hom as ‘n voorloper van Dertig met die opstand teen God, vertwyfelinge oor die Afrikanervolk en verse wat handel oor erotiese drif (Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur Band I. Academica, 1978: 241). Kannemeyer is wel negatief oor die taalgebruik van die digter soos bombastiese en stereotiepe woorde, maar erken die prosodiese en tegniese vernuwing.
Nou die gedig:
‘n Atoom het 8 elektrone en hierdie gedig het twee strofes. Oktet (8 rls.) ‘n Beeld en toepassing.
Die spreker moes die landelike omgewing verlaat en op die myn gaan werk weens geldnood. Hy verlang na die idille waar mense nog aan ‘n God glo. Ook na “die winde op die Hoëveld, ruim en vry”. ‘n Ongeskonde ruimte teenoor die stad waar die spreker tering onder lede het.
‘n Politieke kommentaar oor die gevare wat die mynwerker in die gesig staar. Net in herinnering (en drome) is hy terug in die landskap van sy jeug. ‘n Gedig wat eweneens Totius se epiese gedig Trekkerswee aktiveer met die spanning tussen platteland en stad. Hierdie vers verskyn in 1915 en is die eerste bekroonde digbundel met die Hertzogprys.
Ons dink ook aan “Heimwee” van J.R.L. van Bruggen:
Heimwee
My hart verlang na die stilte
van die wye wuiwende veld,
ver van die stadsgeluide
en die klinkende klank van geld.
Ek is moeg vir die rus’lose lewe
van mense wat kom en gaan,
‘k wil terug na die vrye ruimtes,
Waar ‘n siel in woon wat verstaan.
O, ‘k sien weer die son op die velde
en die ewige blou lug bo,
en my hart skiet vol van heimwee,
wat drome bring in my oë.
O, ek sien weer die ylblou berge,
dáár vér aan die westerkim,
en ‘k wonder nie meer waarom weemoed
so seer uit my liedere klim;
klim na die grys lug bo my,
waar die son in die miste kwyn,
want o, ek verlang na die velde,
na die ewige sonneskyn.
https://za.pinterest.com/pin/109353097192225425/ Besoek 26 Julie 2022
Hierdie ikoniese gedig is getoonset deur S. le Roux Marais en word aangrypend vertolk deur onse Mimi Coertse, een van ons grootse sangers nog.
https://www.google.com/search?client=firefox-b-d&q=coertse+heimwee Besoek 26 Julie 2022
En dalk ook ‘n later antwoord by W.E.G. Louw se “Om boer te wees” wat eweneens in twee gelyke strofes uitval. Hier is die boer in gesprek met God.
Om boer te wees
O om ‘n boer te wees wat werk
met sy hande in die son
die liewe, lange dag; om saans
moeg terug te kom
van die lande, en te slaap
tot die rooidag deur die vensters breek,
en teen die tweede hanekraai, oor die ryp,
die ploegstert vas te hou .
O om boer te wees en te werk
in God se sonskyn en reën;
om nooit te twyfel dat Hy weet
wat die beste is; om nog te glo,
as sy hart wil breek,
en voel dat hy, boer alleen,
met God kan praat, en dank
as laag-druipend daal die reën .
III
Natuurgedigte, soos pastorale verse, is altyd besig met ‘n idealisering van die lewe van die skaapwagter. In J.A. Cuddon se Dictionary of Literary Terms and and Literary Theory (Penguin, 1976: 686) beweer hy:
For the most part pastoral tends to be an idealization of a peaceful and uncorrupted existence: a kind of pre-lapsarian world.
Die tweede strofe by Van den Heever vra vir ‘n dieper kyk:
Op die Hoëveld, waar dit wyd is, waar jy baie ver kan sien,
(die ylblou bring ’n knop dan in jou keel)
staan my huisie nog en wag vir my, wag al ’n jaar of tien,
waar die bokkies op die leigrafstene speel.
Maar as die tering kwaai word en ek hoor die laaste fluit,
dan sweef ek na die Hoëveld op die wind
ek soek dan in die maanlig al die mooiste plekkies uit
waar ek kleiosse gemaak het as ’n kind.
Hier is egter ‘n bewustheid dat die bokkies op die leigrafstene (simbool van die dood) speel en net in herinnering (in ‘n droom of dalk al sterwend en hallusinerend?) kan hy terugkeer na sy komvandaan. Daar waar hy as ‘n kind kleiosse gemaak het …
Dit word so beskou méér as ‘n natuurvers. Dit lewer politieke en sosiale kommentaar en dit is ook ‘n spreker wat besig is om afskeid te neem van die lewe.
Joan Hambidge
Julie 2022