Sylvia Plath in ‘n onderhoud
1962
Poësie is my tiran:
lees hierom my verse hardop voor
sodat die woordmannekyne mag praat
namens my. Net myself en die dood
van my vader oorheers my binnelandskap
soos ‘n Nazi in Dachau; my roeping
soos ‘n bloeiende klein homunculus, hierdie duim:
waarskuwend, dwingend, woedend …
Dus beweeg ek wég van die Britte,
muilbanders van die digkuns, keelafsnyers:
diegene wat klanke van opstand of teenstand verpand.
Robert Lowell en Anne Sexton ontsluit
dié inperkende dwangbuis:
dig oor ervarings van depressies,
besoeke aan inrigtings, familie-pyn
waarvoor geen medikasie deug …
Manipuleer my ervarings met kontrole,
in helderheid én distansie: ‘n horror vacui.
Lees eerder boeke oor Napoleon en Dachau …
Voorheen dalk Dylan Thomas, Yeats en Auden;
herontdek William Blake, die heldersiende,
se demone en begeesterde engele.
Ek hoef nie oor die natuur te dig nie;
eerder oor dié oorlog wat woed
in my afstandelike gemoed
oor my vertrekkende, afwesige vader,
daardie Daddy wat my opsluit
in hierdie wit papierhel.
Ek luister na die hoewe
van woorde se vertrek.
Ach, ach, du.
Herr God, Herr Lucifer.
© Joan Hambidge, 2022
“Ek hoef nie oor die natuur te dig nie;
eerder oor dié oorlog wat woed
in my afstandelike gemoed”
Inderdaad, want die natuur voel te ver weg, wat hier, onder my huid is, is soveel nader aan die werklikheid en moet dus herhaaldelik verwoord word.