I
Tydens my doseerjare aan UCT het die digter Richard Higgs ‘n MA-verhandeling onder my voltooi in kreatiewe skryfwerk in 2012: Translation of poetry as homicide, with reference to Anna Akhmatova’s ‘Last toast’.
In sy studie bestudeer hy vier verskillende vertalings van Posledniy tost (‘The Last Toast’). As student van Russies en Frans het sy insette in die seminare ‘n enorme bydrae gelewer vir ander studente wat ook met Russiese tekste gewerk het soos die digter Juanita Louw wat in 2016 gedebuteer het met In die grot van die sibille (Queillerie).
Sy studie se opsomming lui as volg:
The objective of this dissertation is to provide a critical examination of poetry translation, using as a framework the notion that translation of poetry is comparable to an act of murder or homicide. Constructs pertaining to detective fiction are used as a basis to expose critical theories and commentary on poetry translation, which validate the comparison, taking into account the integrity of the poetic text, the context in which it exists, and the identity (constructed or real) of the poet. Four published translations, by different authors, into English of Anna Akhmatova’s poem) are analysed in detail to demonstrate the validity of the argument and to attempt to review and quantify the loss of a poem’s essential and vital qualities as a result of translation.
Die gebruik van die speurverhaal as die matriks – met die leser as speurder – maak van hierdie teks ‘n besondere bydrae. Om by te voeg: in ‘n speurverhaal is daar altyd ‘n lyk en dan moet daar gesoek word na die moordenaar(s) of skuldiges. 1. Ook ‘n motief.
‘n Goeie speurverhaal gee vals leidrade totdat die speurder dan weens knap afleidings en ontrafeling van dubbelspraak of leuens die verdagte uitwys. Of selfs vals identiteite (soos ons dikwels by Agatha Christie vind.)
Die konteks waarbinne ‘n teks gelees en vertaal word, het eweneens ‘n impak op die resepsie van die teks. So het hierdie leser nou onlangs met ‘n Vlaamse leser gepraat oor Hugo Claus wat ‘n ander interpretasie van sy werk het as ‘n binne-leser. Ons ervarings van skrywers in ‘n vreemde land verskil dikwels dramaties van die binne-lesers s’n wat die skrywer as verraderlik of as uitverkopers sien soos Pamuk in Turkye.
Die beroemde Pamuk-museum in Istanbul word deur reisigers besoek, maar landgenote sien hom as ‘n verraaier weens sy politieke standpunte.
As Skrywer is hy in 2005 krimineel aangekla oor sy siening van die vervolging van Armeniërs deur die Turke. Die klag is ‘n jaar later laat vaar, ofskoon hy steeds aangekla word van die feit dat hy “Turksheid” beledig het.
http://joanhambidge.blogspot.com/search?q=pamuk+museum Besoek 26 Augustus 2022
Hierdie skrywer (as besoeker) moes dit ontgeld toe daar gevra is waar die museum is. Die gids was woedend vir die uwe.
Miskien ook omdat Pamuk die geskiedenis krities interpreteer het?
II
Vertalings is verraaiers, lui die bekende dictum.
Tog kan ons nie bestaan sonder vertalings nie. Hierdie outeur se perspektief is as digter wat soms verse self vertaal en voor moeilike kwessies te staan kom. Louis Eksteen se Sinoniem-woordeboek (J.L. van Schaik, 1981) gee sinonieme en antonieme vir die leser. Dikwels vind ons ook via ander tale (soos Frans, Duits of Italiaans) ‘n oplossing. ‘n Goeie vertaling bring iets by en bekoor ook in die nuwe taal.
‘n Goeie vertaler besef altyd die beperkinge van ‘n taal. Douglas Reid Skinner het dit raakgesien in sy vertaling van “In Emily Dickinsons Garden” toe hy eerder die boerebegrippe van blomname gelatiniseer het. Want hoe vertaal ‘n mens: klokblom, koningsklokkie, arendklou …
In Emily Dickinson’s Garden
– translation by Douglas Reid Skinner
Every day, Emily D believed
she heard the sounds of birds
in her tree-filled, lush, green garden.
It was here, in her garden of happiness,
as Judith Farr explained,
that she experienced the widest link
between poetry and gardening: from love to hate;
envy against virtue; death and eternity
dug into flowerbeds.
Planted wild fig marigolds, jasmines
and daisies. And picked a bouquet
each day for herself. And each flower
– even the gardenia –
looked up in flower encyclopaedias
– Campanula, Columbine, Aquilegia –
and therafter explored Webster’s fields
as a traveller keeps track of her itinerary
in a strange country. Every
symbol precise, exactly understood.
O enigmatic woman in your white dress,
I visited your garden in the spring:
stood there and wondered
if you ever talk in the Garden of Eternity
with the other gardener of Amherst,
with her, Sylvia, whose death
keeps on blooming like a black arum lily?
(The Coroner’s Wife. Dryad Press: 2018).
In die tuin van Emily Dickinson
In haar boomryke, lowergroen tuin
het Emily D glo daagliks
geluide van voëls ingeklank.
Hier het sy in háár tuin van geluk,
soos Judith Farr beduie,
die ruimskootse verband tussen dig
en tuinmaak beleef: liefde teenoor haat;
nyd teen deugsaamheid; dood en ewigheid
in blombeddings ingespit.
Wildevygies, jasmyne en madeliefies
geplant. En daagliks ‘n ruiker
vir haarself gepluk. En elke blom
– selfs die katjiepiering –
in blomensiklopedieë opgesoek
– klokblom, koningsklokkie, arendklou –
en die Webster se akkers hierna verken
soos ‘n reisiger in ‘n vreemde land
haar direktief opteken. Elke
simbool nougeset, sekuur herken.
O enigmatiese vrou in jou wit rok,
jou tuin het ek in die lente besoek:
hier gestaan en gewonder
of jy ooit in die Tuin van Ewigheid
met die ánder tuinier van Amherst praat,
met haar, Sylvia Plath, wie se dood
soos ‘n swart aronskelk bly blom?
(Indeks. Human & Rousseau, 2016).
Die simboliese betekenisse van blomme by Dickinson kan hier gevolg word:
https://www.hup.harvard.edu/catalog.php?isbn=9780674018297 Besoek 26 Augustus 2022
By ‘n seminaar in die Skool vir Tale in 2019 is daar gewys op die komplekse prosesse en deelnemers het elkeen die Afrikaans vertaal: uniek. Met sy en haar eie vingerafdruk.
Tydens die vertaling van my Engelse bloemlesing het Jo Nel, Johann de Lange, wyle Charl JF Cilliers en Skinner verskillende verse behendig vertaal. Ekself het vertaal en Michèle Betty, die uitgewer van Dryad Press, het eweneens krities gelees. ‘n Paar verse is in Engels geskryf.
Cilliers het onder meer die hele Meditasies (Human & Rousseau, 2014) vertaal vir my. Hy was ‘n kenner van Spaans en in ons gesprekke het ons albei ons obsessie met grammatikaboeke bely. Die lees van vreemde tale leer ‘n mens immers om woorde se oorspronge te begryp. Hierom bestudeer ek Italiaans en Frans.
Om die grein van die stem te vind, in Barthes se terme, was die uitdaging. Die titel aktiveer alreeds die kompleksiteit van die vertaling: die vrou van die lykskouer. Waarnemer. Toehoorder.
En die vrou van die lykskouer (of speurder) kan dikwels leidrade gee of ‘n oplossing bied soos Mevrou Maigret.
III
Umberto Eco in Mouse or Rat? sien die proses as onderhandeling, omdat daar nie net ‘n taalprobleem aangespreek word nie, maar ook ‘n komplekse kultuurprobleem. 2. Google translate deug wel vir ‘n akademiese teks, maar ‘n kreatiewe teks vereis iets meer. Ons weet immers wat gebeur as jy ‘n Bybelteks in die bronteks via google laat vertaal in ander tale: ‘n Toring van Babel.
Fredric Jameson kon nie die epigraaf vertaal in A Most Parisian Epsiode opgeneem in Eco se The Role of the Reader nie, omdat dit inspeel op sleng en fonetiese analoë.
‘n Klein verhaal waarin die twee stryende geliefdes – aangesê om maskers te dra – by die bal egter iemand anders is. By die Bal des Incohérents nogal. ‘n Verhaal deur Alphonse Allais wat al die probleme van vertaling ryklik illustreer: misverstand, rusie, verkeerde identiteite en uiteindelik: versoening (Eco, 1979: 263).
‘n Vertaling is ‘n interpretasie, al is dit hoe getrou aan die oorspronklike teks, argumenteer Eco (1979: 257).
En uiteraard kompleks wanneer jy ‘n teks transporteer van een taal na ‘n ander o.a. soos kollokasies.3.
By ‘n seminaar aan die Skool vir Tale op 25 Augustus 2022 het kollega Gwyn Ortner, in die Duitse afdeling, insigryk gepraat oor die kwessie van kollokasies en hoe elke taal sy eie sisteem handhaaf.
https://www.beterafrikaans.co.za/website/index.php?pag=186 Besoek 26 Augustus 2022
Dit is uiteraard vir enige vertaler altyd die grootste probleem om vaste uitdrukkings korrek te vertaal.
‘n Kollokasie is ‘n kombinasie van woorde wat dikwels saam gebruik word, maar wat nie ‘n vaste uitdrukking is nie omdat die afsonderlike woorde se betekenis steeds gehandhaaf word en die verbinding nie as ‘n sterk eenheid optree nie. Byvoorbeeld:
- ‘n hekel aan
- ‘n renons in
- fyn spot
- nugter weet
- sorg baar
- bose kringloop
- klakkeloos napraat
- in aanbou
- rasend honger
- verbond sluit
- verbind tot
- beletsel op
- gemoeid met
- onbewaakte oomblik
- aandag trek
- sout en peper (en nie peper en sout nie)
- hart en siel
- teen wil en dank
- goedskiks en kwaadskiks
- raad en daad
https://www.beterafrikaans.co.za/website/index.php?pag=186 Besoek 26 Augustus 2022
Hoe sal ‘n mens hierdie uitdrukkings korrek vertaal?
Ons ken immers die beroemde anekdote van die akteur David Niven in Bring on the Empty Horses (1975) waar die Italiaanse regisseur uitroep tot groot vermaak van die toehoorders:
You think I know fuck nothing, but I tell you I know fuck all!
IV
Mister Angelo Alzheimer deur Jef Geeraerts is ‘n uitmuntende krimi met Vincke en Verstuyft as die speurders. Dit het sopas verskyn by Naledi en is vertaal deur die digter en bloemleser Fanie Olivier.
Lawrence Venuti onderskei in The Translator’s Invisibility: A History of Translation (1995) tussen twee maniere van vertaal: om die vertaling huis toe te bring of dit weg te stuur. Olivier het meestal dit huis toe gebring, ofskoon daar hier en daar vreemdhede is wat opval. Byvoorbeeld spreek ek (in plaas van praat ek, bladsy 132; hiermee wil die vertaler die outydse manier van praat registreer), tru (vir agteruitry, bladsy 57), skoonverdieping (tussenverdieping / mezzanine) wat geen Afrikaanse leser sal ken nie, maar wat wél verduidelik word, bladsy 75). Franse uitdrukking word direk ná die Afrikaans geplaas. Die Vlaams is bekend aan die gemiddelde leser. 3.
Dus bring Olivier die vlot vertaling huis toe, maar hy stuur dit ook wég na die plek van herkoms met Franse woorde of ou Vlaamse uitdrukkings. Venuti meen dat vreemde woorde en invloede in die vertaling moet bly en dit is presies wat Olivier dan doen. Hierom word die konsep Verharmlosung behou in die mond van Vincke.
Die vertaler gee voorin ‘n leersame verduideliking van sy vertaalroetes. En die leser dink na oor elke kwessie.
Ander vertalings van Olivier is: Die mooiste meisie van Genua (La Superba deur Ilja Leonard Pfeijffer), Wanneer gode slaap (Godenslaap deur Erwin Mortier) en Van kant gemaak (Woesten deur Kris van Steenbergen).
V
‘n Goeie vertaling met jou as die speurder bring ‘n gevoel van afsluiting.
Die raaisel is opgelos. Of is dit ooit? Was die outopsie korrek uitgevoer?
Goeie vertalers word uiteraard bekroon met vertaalpryse. Richard Howard, Annette Lavers, Linda Coverdale, o.a. se vertalings van Roland Barthes roep ook vergelykings uit soos Neil Badmington aantoon:
https://orca.cardiff.ac.uk/id/eprint/145461/7/BADMINGTON%20Roland%20Barthes%20in%20English_v2.pdf Besoek 26 Augustus 2022
Hy vra lesers ook om insette te lewer.
Toujours fidèle, soos Barthes van Susan Sontag gesê het. En dit kan van die goeie vertaling gesê word.
En die vertaalprose maak ‘n mens altyd nederig oor hoé kompleks verskillende taalsisteme werk.
“You think I know …” soos die Italiaanse regisseur uitgeroep het.
En as jy as skrywer met jou vertaler soos Vincke en Verstuyft saamwerk, gebeur daar dikwels wonderwerke.
Joan Hambidge Augustus 2022
Bibliografie:
1.Higgs se studie is beskikbaar op die internet:
https://open.uct.ac.za/handle/11427/11071
2.Eco, Umberto. 2004. Mouse or Rat? Translation as Negotiation. Londen: Weidenfield & Nicholson (Orion).
– 1979.The Role of the Reader. Londen: Hutchinson.
3.Ortner, Gwyndolen J. 2020. Using Blended Learning and Corpora as Tools to aid the Transformation of Teaching and Learning of German as a Foreign Language: Action Research Conducted at Rhodes University. (Supervisor: Dr U.S. Weber)
4.Venuti, Lawrence. 1995. The Translator’s Invisibility: A History of Translation. Londen: Routledge.