I
Die sogenaamde “intensie” van ‘n teks is deur die Strukturalisme en al sy avatare as ‘n vergryp van die leser afgemaak. New Critics fokus op die sogenaamde “well wrought urn” soos Cleanth Brooks dit tipeer het in 1947.
Wimsatt & Beardsley se beroemde “Intentional fallacy” (1947) is oorbekend met die uitspraak dat die beoordeling van ‘n teks soos ‘n masjien of poeding is; dit moet werk.
We argued that the design or intention of
the author is neither available nor desirable as a standard for
judging the success of a work of literary art …
https://www.sas.upenn.edu/~cavitch/pdf-library/WimsattBeardsley_Intentional.pdf Besoek 13 September 2022
Alles waar. Maar die intensie van ‘n teks is in die metamodernisme ‘n groter probleem as wat hierdie twee teoretici afmaak in hul kritiek op Eliot met die uitspraak dat “critical inquiries are not settled by consulting the oracle”.
In die onlangse polemiek rondom kinderliteratuur het die literator Heilna du Plooy twee tersaaklike punte aangestip:
Die skrywer is nie eens altyd bewus van wat agter sy woorde lê nie en dit het nou praktyk geword om skepties te lees.
Niemand kan immers die skrywer se ware intensies absoluut presies vaspen nie.
(Oor haar siening dat die debat onverdraagsaam, soms venynig of vergeldingsgesind was, gaan hierdie leser liefs nie kommentaar lewer nie. Dit het alles – waarskynlik – te make met die hoek waar jy jou bevind het of dit so is.)
En of dekorum oortree was deur die bekroonde en of hy “onhoflik” was. Daar sal egter geargumenteer kan word dat die verwysings in die oorspronklike rubriek “ongeskik” was.
Alles het te make met die tyd wat verander het en hoe die leesproses sedert die genoemde Wimsatt & Beardsley verander het.
https://www.netwerk24.com/netwerk24/stemme/menings/van-coller-debat-eens-het-wolf-vir-rooikappie-geeet-20220807 Besoek 13 September 2022
II
Die verskillende transformasies van die literatuurwetenskap het hierdie leser en skrywer meegemaak: teksgerig (Stilistiek / Strukturalisme) tot lesergerigte (resepsie-estetika) en psigoanalitiese benaderings téén Louw se siening dat die “mens agter die boek” met rus gelaat moet word. Feminismes, kultuurstudies, transnasionalistiese benaderings, genre-studies, e.d.m. het ons almal eerstehands ervaar via SAVAL (met Ina Gräbe se uitsonderlike insette) en ICLA.
Vertaalteorie en -praktyk met die opkoms van kreatiewe skryfskole oraloor. Die mag van die internet en tydens COVID het aanlynklasse soos literatuurteorie (en die impak daarvan) dramaties verander.
‘n Studie wat iets van die problematiek illustreer is D.J. Opperman se Digters van dertig (Nasionale Boehandel, 1953) waar die lewe van die digter, invloede, en dies meer, onder die loep geneem word met Eybers as die “vroulike aanvulling”.
Ofskoon die studie nie van gesofistikeerde teorie gebruik maak nie, is die verskillende benaderings aanwesig.
Kan ‘n mens ‘n skrywer se ware intensie ooit vaspen?
Wat is bedoeling presies?
The way to hell is paved by good intentions, lui die spreekwoord en natuurlik werk ‘n teks nie as ‘n skrywer langs ‘n boekrak moet staan en verduidelik dis eintlik wat sy bedoel het nie.
Die gesofistikeerde leser weet egter dat intensie ingebed lê in die gekose sub-genre, die tydvak waarin gepubliseer word, die gesprek met ander tekste (implisiet of eksplisiet), die letterkundige tradisie waarin gepubliseer word, die ontwerp van die teks, die skrywer se posisie binne ‘n letterkundige sisteem en of die skrywer bekroon is of nie.
Marni Bonthuys en Ronel Foster wys op al die problematiese kwessies in hul puik artikel oor kanonisering.
https://www.litnet.co.za/literere-pryse-in-afrikaans-n-geskiedenis-besaai-met-distels-en-dorings/ 13 September 2022
III
Die letterkunde is nie ‘n eksakte wetenskap nie en vele literatore het al in opstand gekom oor die gebruik van die begrip literatuurwetenskap. Dit is egter ‘n belangrike term wat die navorser / leser gebruik om haar ondersoeke vir die buite-leser logies te maak.
En selfs wanneer tekste teen hul intensie of bedoeling gelees word en verskeie hase uit die hoed geruk word soos Roland Barthes doen in S/Z (Hill and Wang: 1970/1974), kan jy die verskillende kodes wat hy aanstip, nougeset volg.
Ek verwys met opset na S/Z: BartheS teenoor BalZac soos wyle Barbara Johnson (1947 – 2009) uitgewys het. Dit was ook hierdie gedugte kritikus wat ‘n studie geskryf het oor die lewens van teoretici en hoe dit verskil of ooreenstem met die lewe-in-woorde.
https://www.dukeupress.edu/the-barbara-johnson-reader Besoek 13 September 2022
As gedugte vertaler van Derrida en kommentator van psigoanalitiese kritiek het sy telkemale op kompleksiteite in die leesaksie gewys. Die “well wrought urn” in haar kritiese lesing van Wallace Stevens se beroemde gedig “Anecdote of the jar”, die spreekwoordelike fles oop-gebreek.
The surprise of otherness, so word die Johnson-reader beskryf.
Een van haar belangrikste uitsprake is die volgende een:
“It seems to me that women are all trained, to some extent, to be deconstructors. There’s always a double message, and there’s always a double response. The difficulty for women, is unlearning self-repression and ambiguation and conciliation, and reaching affirmation.” (Salusinszky, 1987, 151)
In dit is waaraan haar teoretiese tekste herken kan word: die dubbel-betekenis en die erkenning van die Ander soos haar analise van Frankenstein, ‘n uitstekende antitetiese teks waarin sy wys op die spanning tussen die skep van die monster en die skep van ‘n verhaal.
Johnson word gediagnoseer met cerebellar ataxia in 2001 en sterf in 2009, hierdie gedugte vertaler van Derrida en student van Paul de Man. In haar lewe professor in Engels en Vergelykende Letterkunde by Harvard.
Tydens ‘n navorsingstyd te Harvard in 1999 het ek haar ontmoet en uiters toeganklik gevind.
http://knarf.english.upenn.edu/Articles/johnson.html Besoek 14 September 2022
Ook oor die prosopopeia (personifikasie) waar sy werk met die verbeelde, die afwesige of dooie persoon is uitsonderlik.
Dalk is hierdie retoriese strategie noodsaaklik om te besef dat elke skrywer, rubriekskrywer, teoretikus, literator iets kommunikeer in ‘n ander stem.
Hierom moet ‘n skrywer ander stemme toelaat om te reageer of te verskil.
Daar is helaas lankal nie meer net een manier van lees nie en wanneer gender- of raskwessies aangeraak word, bly dit die reg van iemand wat ‘n gay, transseksueel of randfiguur is om hierop te reageer.
Kontekste verander. Tye verander.
Maar as ons steeds in ‘n koerant moet verneem dat teoloë meen homofilie is ‘n sonde en Die Bybel gebruik, dan behoef dit ‘n ander manier van lees, ‘n ander leesstrategie.
Frank Kermode en H.J. Snyman, twee groot lesers van Die Bybel, sou verskil van ad hoc-tekste aanhaal asof jy by ‘n lotery is en dit skerp kritiseer.
A sense of an ending? A new beginning?
Die uitputtende maandelange polemiek het ons daarop attent gemaak dat daar ‘n nuwe bewussyn losgekom het. Minder hiërargies dalk?
Meer ingestel op dubbel-boodskappe?
Die uitstel of vertraging van sluitende interpretasies?
Imre Salusinszky som Johnson se sieninge so op:
It is what you don’t know you don’t know that spins out and entangles ‘that perpetual error we call life’” … (1987: 155).
Met ‘n verwysing na Penelope se weefwerk.
Teks, leser, skrywer word tekste, lesers en lesers as medeskrywers.
Joan Hambidge
September 2022
Bronne:
Brooks, Cleanth. 1947. The Well Wrought Urn: Studies in the Structure of Poetry. New York: Harcourt, Brace.
Johnson, Barbara. 1987. A World of Difference. Baltimore: Johns Hopkins University.
– “The critical difference: Balzac’s ‘Sarrasine’ and Barthes’s ‘S/Z'” in Robert Young (red.)1981. Untying the Text – a Post-Structuralist Reader. Londen: Routledge & Kegan Paul.
Salusinszky, Imre. 1987. Criticism in Society. Londen: Methuen.
Dank Ina.
Nou besig met Sollers se “Freud’s hand” en Jane Gallop se studie oor Freud. Shoshana Felman. Cixous.
En ook dank aan Hein Viljoen, Andries Oliphant, Neil van Heerden, Reinhardt Fourie en Alwyn Roux (o.a.) wat literatuurteorie hier te lande lewend(ig) hou.
ICLA het my bekend gestel aan groot intellektuele van oraloor. Net soos reise na die VSA my sieninge van letterkunde verbreed het.
KOMMENTAAR VAN Prof. Ina Wolfaardt-Gräbe:
Uitstekende artikel, Joan. Die jongste ont- en verwikkelings in die lees- en verstaanproses goed opgesom in jou slotsin: “Teks, leser, skrywer word tekste, lesers en lesers as medeskrywers.”
(Prof.) Ina Wolfaardt-Gräbe
Hoofredakteur: Tydskrif vir Geesteswetenskappe
Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns
publikasies@akademie.co.za