Ars poetica
Verdwaal. Eers was sy op die verkeerde trein. In ʼn vreemde land. Die alfabet is kwashale en krulle. Dis dan hoe dit voel om ongeletterd te wees, dink sy. Op stasie Draakkop- met- drie- strepies- dwars.
Haikoes het sy nog net in vertaling gelees. Meestal Engels. Soos Hokusai s’n.
I write, erase, rewrite
Erase again, and then
A poppy blooms
Mettertyd op sarsies in Afrikaans afgekom. Wat eie onthoue oopvou. ʼn Voëlvlerk. Die besinning van ʼn oerbos-besoek. Soos La Grange s’n.
Plons jou loerielied
in stilte wat soos water
kring van boom tot boom
Veel, veel later, hardlope gehardloop, rooi taxi gekry, Poetry Event venue gevind, kom die vrou tot taal en verhaal. Sy luister en haal asem, haal asem.
In die naglug dryf beelde van beitels en flitse en die bejaarde figuur op die verhoog in hierdie Hongkongse herfs.
digter se kierie
skei die swaar swart gordyne –
ʼn geelryp volmaan
© René Bohnen, 2022
_____________________________________________________________________
Katsushika Hokusai – haikoe in die publieke domein.
La Grange, Retseh: 1981. Vlinderstiltes, Pretoria, Errol Marx Uitgewery.
