KREMLIN
Met ligte trepidasie teen die skuinste uit,
deur die poort en swaar beslaande deure
na somerse blomakkers, wandelroetes geplavei,
versiersuikerspitse en goudbeslaande uie
op wit kerke, met duidelik afgebakende
perke vir die verkenningslus van besoekers
wat vrylik forte en antieke kanonne kiek,
tot jy onnadenkend, deur kameralens verlei,
oor ’n rooisteenlyn trap en ’n alarm skril opklink.
© Martjie Bosman, 2022
