SPASO-PREOBRAZJENSKI-KLOOSTER, JAROSLAWL
Blagoslowjen, yesi Gospodi
’n Donker melodie dryf skaars hoorbaar
die naaf van die groot katedraal binne
waar ons onbegrypend na rye ikone staar.
Ons volg die klank by die wye deur na buite,
na ’n kleiner kerk, half donker, sober,
soos die groepie sangers in swart geklee,
’n lied wat opwaarts na die koepel sweef
– Tsjesnokof miskien, of Bortnianski,
’n lofsang vaag onthou: Laat ons God
in die hoogte loof. Of is dit juis
soos die Ortodoksie wou leer,
dat die Hoogste in hierdie ruimte
in die stemme van die jonges leef?
© Martjie Bosman, 2022

Aangrypende gedig.