Die rooi perd
Die rooi perd breek deur die nat seël.
Hy jaag met die wind, hy dreun,
breek takke, vreet soos ʼn duisend sprinkane
aan al wat leef en mensgemaak leef.
Hy steier, die voorhoewe trap water –
die lug is water, deur die rimpelings
sien ons die bome bewe, sien ons die vere
gloei, koninklik teen sy voorkop –
sy asem bol oker, blaas ink
soos die inkvis teen sy vyande; tien mans
in ʼn halfmaan tem hom met waterswepe,
altyd op die agtervoet; as die perd gaan lê,
kom daar duisternis oor die land.
Dit reën roet.
***
Blinde, pasgebore diertjies druk
hul snoetjies deur die grond.
Terwyl niemand kyk nie stoot
blare op soos nuwe vlerke.
In die graspol se swartgebrande
huttekring sluip ʼn indringer in, onsigbaar,
en kleur die land,
steek die fakkels aan tot
sirkels groenbrand.
©Marieta McGrath, 2022