Kilauea-kosmetologie
Agt Hawaise moesies het op haar Stilsee-aangesig
gestoel – Me A. bekla dié skending luidrugtig, blaas
met slordige ghwel-lelle sissend stoom af.
Voor haar ydel, asuur dolly vardin-spieël
kouteriseer sy dié gewasse met ʼn spitsgevylde,
vurige laknael, met ʼn vuil blomkoolrookpluim
wat bo-oor blom, omen van die tumult
wat volg: die Estée Lauder-magmamasker
stroom oor die verskroeide ulkusse, eksfolieer
haar aangesig van krotvratte, vullis-
rooisel, onkruidonderlaag en plakkerpadplooie,
laat haar vel aanvanklik nog vol smeulrooi
inflammasie en spuwende bloeiers.
Maar haar aanskyn bedaar, want die oordaad
stol tot obsidiaanrowe en genees
met die postmenopousale gloed gestelp,
kraaipote met basaltbotox geplet.
Haar prikkelbare derm brom steeds
maar sy pruil haar opgepofte
bergkranslippe, poseer met ontblote klowe
in nuutgevonde prikkelpopwellus
vir ʼn National Geographic centrefold,
die ene Eva in ʼn transparante oggendmispeignoir:
Mammie-A, die ewige, onvergenoegde
oereilandsloerie.
© Franco Collin, 2022