Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
9 January 2023

Huldiging: Henk Rall (16 Junie 1938 – 20 Desember 2022)

 

 

 

Hendrik Johannes Samuel Rall is op 16 Junie 1938 op Parys in die Oranje Vrystaat gebore as die oudste van vier seuns en hy sterf op 20 Desember 2022 by sy huis in Bloubergstrand na ‘n lang stryd teen kanker.

Hy gaan skool en matrikuleer op Douglas in die Noord-Kaap en skryf daarna in aan die Potchefstroomse Universiteit waar hy sy B.A.- en B.A. Honneursgrade in Afrikaans-Nederlands en in Engels behaal. Na voltooiing van sy studies in Potchefstroom skryf hy in 1964 in aan die Universiteit van Pretoria vir die M.B.Ch.B.- graad en voltooi hy sy mediese studies in 1969.

In die vroeë sewentigerjare werk hy vir etlike jare vir die Upjohn-maatskappy in die VSA as adjunkhoof van mediese navorsing. Terug in Suid-Afrika sluit hy by die departement obstetrie en ginekologie van Tygerberg-hospitaal aan en behaal hy sy Ph.D.-graad en doen ook spesifiek navorsing oor fertiliteitsbeheer. Hy word in 1979 aangestel as mediese direkteur by Scherag. (Erika Terblanche, Litnet, 13 Januarie 2009. Datum van toegang 16 Julie 2012).

Rall se belangstelling sou verder strek as sy beroep en ook as die letterkunde en hy was dan ook ʼn befaamde jagter, grootwildjagter en wynkenner. Aansluitend hierby stel hy dan ook die versamelbundel “Jagtye: ʼn keur van jagervarings uit Suider Afrika” saam met lyntekeninge van Zakkie Eloff ter  illustrasie van die teks.

As skrywer het Rall hom onderskei vir sy veelsydigheid en skryf hy verskeie radiodramas en hoorspele vir die radio en ook artikels vir tydskrifte soos “Panorama” en resensies vir “Beeld”. Van sy gedigte verskyn reeds sedert 1963 in “Kol”, “Standpunte”, “Trek” en “De Arte”. Hy sou ook talle medies-wetenskaplike vakjoernale publiseer waarop ons in hierdie huldiging nie fokus nie, synde dit hier gaan oor sy rol as skrywer en veral dan as digter in Afrikaans waarvoor ons hom onthou.

Sy debuutpoësiebundel,” ʼn Son breek”, verskyn in 1966. Hy volg dit op met ‘Wit-ryp” in 1968, “Reise” in 1970, “Donker van mere” in 1976, “Proefskrif” in 1982 wat bekroon word met die Perskorprys in 1983 en uiteindelik 26 jaar later in 2008 met sy laaste bundel “Geskrifte van ʼn vermiste digter”. Van sy gedigte word ook opgeneem in etlike bloemlesings en versamelbundels soos “Groot verseboek”, “Die Afrikaanse poësie in duisend en een gedigte”, “Verse vir Opperman” en nog meer.

Hy sou ook die skoollied skryf vir die Hoërskool Groote Schuur in Nuweland.

Ook op die gebied van prosa sou Henk Rall publiseer met die kortverhaalbundel “Bokram by die see” asook langer prosa soos “Ringmure” en “In die tyd van die uil”, wat in 1991 genomineer word vir die Ou Mutual-prys. Hy sou ook ʼn Engelse roman, “Singleton’s chronicle” skryf. Van sy kortverhale word opgeneem in versamelbundels soos onder andere “Die Afrikaanse kortverhaalboek” van Abraham H. de Vries.

Die uitstaande moment in Rall se loopbaan as digter is wat my aanbetref egter die twee gedigte in sy bundel “Donker van mere” wat bestempel kan word as “mediese poësie”. Die twee gedigte “vir Elwood Jansen” en veral dan “molekulêre biologie” is die eerste gedigte in Afrikaans deur ʼn dokter wat oor sy werk skryf. Hoewel bogenoemde feit later as ʼn waterskeidende moment in mediese poësie in Afrikaans bekend sou staan, is dit op daardie stadium nêrens vermeld of opgemerk nie. Desnieteenstaande sou Rall dit opvolg met meer “medies-wetenskaplike” gedigte in sy volgende bundel “Proefskrif” in 1982, en dié keer sou dit vermeld word in ʼn keurverslag wat Petra Grütter (Müller) vir die uitgewer sou skryf. “Die interessantste van hierdie dimensies is die biologiese. Daarvan is hy in Afrikaans vandag die vernaamste eksponent. Meer spesifiek as bloot die biologiese, is Rall, soos genoem, ʼn baanbreker in Afrikaans sover dit die skryf van poësie oor medies-wetenskaplike kwessies betref” (Grütter, Perskor Boeke-keurverslag, 1982). Die betrokke bundel sou dan ook in 1983 bekroon word met die Perskorprys.

Rall kan dus beskou word as ‘n baanbreker op die gebied van medies-wetenskaplike poësie deur dokters spesifiek, en sal hy daarvoor onthou word. Na hom het dokter-digters soos Menno Stenvert, Gilbert Gibson en andere gevolg wat mediese poësie tot nuwe hoogtes sou voer, maar Henk Rall sal onthou word as die baanbreker in die verband.

Bronnelys:

  • Erika Terblanche, Litnet, 13 Januarie 2009. Datum van toegang: 16 Julie 2012
  • Grütter, Perskor Boeke-keurverslag: 1982
  • Hendrik J Botha, M.A Tesis: Dokters as Digters in die Afrikaanse Letterkunde

BTHHEN010 Universiteit van Kaapstad

Hendrik J Botha

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Henk Rall oorlede (22 Junie 1938 – 20 Desember 2022)
Nini Bennett. Kanker: Metafore en narratiewe →

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Carla Botha. Lesse in Wêreldreise
  • Anne-Marie Bartie. glasman
  • Anne-Marie Bartie. fake news
  • Anne-Marie Bartie. visum
  • Margaret Cordier. Gestroop

Nuutste bydraes

  • Gerrit Theron. Die vuurhoutjie
  • Digtersprofiel: Jennifer Pape
  • Nuwe Bundel. Erwin Rode: om ’n Melkweg te skep
  • Bekendstelling: om ’n Melkweg te skep
  • Miel Vanstreels. Die somer van

Nuutste kommentaar

  1. Johan Coetzee on Joan Hambidge. Om die hemel te dekonstrueer30 August 2026

    Die hemel... of hel is opgedollie.

  2. DIETLOFF VAN DER BERG on Resensie: “In memoriam, Johann de Lange” (Johann Lodewyk Marais en Joan Hambidge)28 August 2026

    Soekie, ja, ek stemsaam. Van 'Boondoks' tot 'Gelykenis' is daar net soveel wat mens tref en weer wil herlees.

  3. Soekie Vogel on Resensie: “In memoriam, Johann de Lange” (Johann Lodewyk Marais en Joan Hambidge)27 August 2026

    Hambidge het haarself oortref in haar digsiklus oor De Lange. Aangrypend.

  4. Daniel Hugo on Ilse van Staden. Die Dans25 August 2026

    'n Wonderlike huldeblyk aan die digter se moeder en Van Wyk Louw.

  5. Joan Hambidge on Ilse van Staden. Die Dans24 August 2026

    'n Verruklike gedig. 'n Gesprek op soveel vlakke.

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • onderhoude
  • Onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d