In die klipknoets van haar vuis deur Adriaan Potgieter. Hemel & See Boeke. Hermanus, 2022.
Resensent: Marlies Taljard
Onlangs ontvang ek ʼn netjiese tweeluik van Hemel & See Boeke: “In die klipknoets van haar vuis” deur Adriaan Potgieter en “Gestaltes 1947” deur Sheila Cussons. In sy Voorwoord tot “Klipknoets” skryf Potgieter dat hy op ʼn dag in die Digterstuin op Wellington op Sheila Cussons se boek “Gestaltes” afgekom het en dat dié boek die inspirasie was vir ʼn soektog na “ʼn soort DNS … van die psige van Sheila Cussons” (p. 13). Dít is, in ʼn neutedop, “In die klipknoets van haar vuis”. Omdat die skrywer vermoed het dat baie lesers dalk nie Cussons se “Gestaltes 1947” ter hand mag hê nie, het die uitgewers toestemming bekom van Amanda Botha (by wie Cussons se publikasiereg lê) om ʼn tweede uitgawe uit te gee wat saam met “Klipknoets” as ʼn eenheid bemark word.
Reeds in die eerste paragraaf van “Klipknoets” sit die skrywer sy intensie uiteen:
“[H]ierdie boek is nie ʼn biografie nie, dit is ook nie ʼn psigologiese analise nie. Dit is eintlik ʼn lêer met aantekeninge wat ek gemaak het tydens ʼn proses van twee jaar waarin ek probeer het om Sheila Cussons as mens te leer ken” (p. 9).
En dit is presies wat dié boek is. Dit is nié ʼn literêre analise van Cussons se werk nie. Dit is nie ʼn kronologiese verslag van Cussons se lewe of ʼn wetenskaplike analise van enkelgedigte nie. Myns insiens het die teks wel effens die geaardheid van ʼn psigologiese analise. Die skrywer gaan sterk Jungiaans te werk en konsentreer op die argetipiese en simboliese aspekte van Cussons se werk en lewe, soos gebaseer op Cussons se teks “Gestaltes 1947”. “Gestaltes” is nie ʼn digbundel nie, maar bestaan uit 15 tekste wat Potgieter beskryf as “foto’s van die landskap van haar [Cussons se] onbewuste, byna ineengevlegde gedagtekettings” (p. 13). Die teks is deur Cussons op vier-en-twintigjarige leeftyd geskryf (in 1947) – die jaar toe sy Londen toe vertrek het – en is op sestigjarige leeftyd (in 1982) deur haar uitgegee.
“Gestaltes” is kort beskrywings van drome en gewaarwordinge wat Cussons in haar vroeë lewe en kinderdae gehad het en die voorkoms van argetipiese simbole is veral opvallend. Baie van dié simbole kom dwarsdeur haar digoeuvre weer en weer voor, en dit is veral waarop Potgieter konsentreer. Hy bespreek die voorkoms van argetipiese simbole as ʼn draad wat deur Cussons se ganse digkuns vloei. Soos dit met Jungiaanse analise en argetipiese simbole gesteld is, kan daar nooit ʼn presiese, agterhaalbare betekenis aan ʼn bepaalde simbool gekoppel word nie. Dit is ook nie wat die skrywer probeer doen nie: hy kyk na bepaalde gebeurtenisse en tydperke in Cussons se lewe en ondersoek dan die simbole of temas wat in dié tyd in haar poësie opduik:
“Met die lees het dit gevoel asof die vyftien tekste foto’s van die landskap van haar onbewuste is, byna ineengevlegde gedagtekettings. Asof ʼn mens iets daarvan ongenaamd of onherkend, byna versluierd, alreeds in haar gedigte teëgekom het. Asof hierdie boekie [“Gestaltes”] ʼn soort DNS was van die psige van Sheila Cussons.”
Tipies Jungiaans, gaan die skrywer tematies te werk en nie kronologies nie. Die volgende aanhaling is tersaaklik:
“Jung maak ʼn stelling in verband met die ooreenkoms tussen die psige en die mite: ‘Die beeld is slegs helder as dit in sy volle konteks gesien word. Sodra mens die “essensie” probeer vind of onttrek, vervaag dinge. Om die lewende funksie te verstaan, moet dit gesien word as ʼn organiese geheel in al sy kompleksiteit, en daar moet nie gepoog word om die anatomie te ondersoek nie.”
Daarom moet die leser nie literêre analises van gedigte in hierdie boek verwag nie – eerder (soos ek reeds aangedui het) ʼn sielkundige analise van Cussons se geheelwerk wat nie op literêre insigte en teorie gebaseer is nie. Die invalshoek is hoogs persoonlik. Die skrywer gaan selfs so ver om die musiek wat hy luister saam met sekere gedigte, te bespreek. Ek het veral die inleidende hoofstuk waarin die teoretiese agtergrond oor Jungiaanse psigoanalise in eenvoudige dog doeltreffende taal uiteengesit word, geniet en waardeer.
Die skrywer verdeel sy teks in 23 hoofstukke, hoofsaaklik met titels uit Cussons se werk wat in dié spesifieke afdeling aan bod kom. “Jy het my geteken” is byvoorbeeld ʼn outobiografiese vertelling van hoe die skrywer ʼn skets wat Cussons gemaak het, aangekoop het en hoe dié skets uiteindelik ʼn belangrike rol gespeel het in die navorsing wat hy oor die digter gedoen het en sy belangstelling in haar lewe. Die derde hoofstuk, “My musieknotas” is eweneens ʼn outobiografiese verslag van die musiek wat die skrywer luister terwyl hy Cussons lees. In dié hoofstuk kom enkele irriterende foute voor. Dit is byvoorbeeld die non Hildegard von Bingen en nie van Bingen nie. Ek het nog nooit gesien dat haar herkoms/van verafrikaans word nie. “Ein Deutsches Requiem” vereis die hoofletter R, aangesien Duitse selfstandige naamwoorde met hoofletters geskryf word (“deutsches” sou sonder ʼn hoofletter geskryf kon word aangesien dit ʼn byvoeglike naamwoord is). Hier neem ek die teksversorger kwalik wat sulke klein steurnisse moes opgetel het. Die hoofstuk as geheel val egter volgens my plat, aangesien dit eenvoudig té selfgerig is. Die afdruk van ʼn bladsy uit een van Cussons se notaboeke waarin sy aantekeninge oor musiek tussen ʼn inkopielys gemaak het, is insiggewend en motiveer die skrywer se klem op die verhouding tussen musiek en poësie in Cussons se werk. Ek het die volgende hoofstuk, “My notas oor mitologiese figure” noodsaaklik gevind, aangesien Cussons se werk nie sonder begrip van mitologiese verwysings verstaan kan word nie. Hierdie hoofstuk (soos die eerste hoofstuk oor Jungiaanse psigoanalise) is ʼn besonder waardevolle hulp vir enige iemand wat die digter se werk wil begryp en na waarde wil skat.
In die daaropvolgende hoofstukke lees die skrywer tersaaklike dele van Cussons se werk tesame met gedeeltes uit “Gestaltes”. Hier word die werk inderdaad psigoanalities wanneer die skrywer grepe uit die digter se lewe, grepe uit haar werk en grepe uit “Gestaltes” naas mekaar stel sonder om ʼn diagnose te maak. Die diagnose of afleiding word aan die leser oorgelaat. Hierdie subjektiewe werkwyse hou meer verband met die sielkundige praktyk as met die praktyk van literêre kritiek, ofskoon daar natuurlik groot velde van ooreenkoms ook is.
Ek het die boek geniet omdat die werkwyse van die skrywer vir my as literêre kritikus ongewoon dog stimulerend was en omdat die teks, subtiel, sonder om openlik verklarend te wees, lig werp op Cussons se lewe en skryfwerk – die leser wil tog inderdaad wel weet wat ʼn skrywer motiveer om te skryf wat, hoe en waarom sy skryf.
Wat ek uiters hinderlik gevind het, is dat hoofstukke 9 en 10 naas mekaar verloop: hoofstuk 9 op die linkerkant van die bladsy en hoofstuk 10 aan die regterkant – baie liggies ingekleur (sodat my swak oë dit eers nie opgemerk het nie)! Totdat ek dit agtergekom het, het ek gedink daar is fout met die drukwerk. Tot nou toe kon ek nog geen oortuigende rede vind waarom so-iets nodig was nie. Myns insiens doen dit ernstige skade aan die eindproduk. Wat ook gehinder het, is dat onderafdelings van hoofstukke nie genommer word nie (en dat mens dit as nuwe hoofstukke lees) en dat die teks plek-plek eenvoudig té sentimenteel en ekkerig word – maar dit het die skrywer immers al op bladsy een gesê.
Ek wil hierdie werk ten sterkste aanbeveel vir navorsers oor Cussons se werk – mag dit studente aanspoor om weer eens Sheila Cussons ter hand te neem en indringend te lees. Dit is ook ʼn waardevolle werk vir ernstige poësielesers én vir leke. Hierdie tweeluik is uniek en ek wil Hemel & See Boeke loof vir die inisiatief en gelukwens met ʼn boek wat waarde tot die studie van Afrikaanse poësie toevoeg. Dankie aan Amanda Botha wat toestemming gegee het vir die herdruk van “Gestaltes 1947”.