Resensie: “die jaar toe pa …” deur Hannes Visser. Turksvy Uitgewers, 2022.
Resensent: Marlies Taljard
In 2019 verskyn Hannes Visser se bundel “die jaar toe pa …” die eerste keer by Naledi. In 2022 verskyn ʼn tweede druk by Turksvy Publikasies. Die agterblad vermeld: “In die heruitgawe van hierdie gewilde bundel het die digter ʼn tweede afdeling met nege verse bygevoeg waarin die kinderperspektief van die voorafgaande verse aangevul word met die terugkyk van die volwasse digter.”
ʼn Internetsoektog het vier vorige resensies van die betrokke bundel aan die lig gebring. Een van Yolanda Wessels op LitNet https://www.litnet.co.za/die-jaar-toe-pa-deur-hannes-visser-n-resensie/ een van Amanda Lourens op Versindaba https://versindaba.co.za/2019/06/01/resensie-die-jaar-toe-pa-hannes-visser/ een van Joan Hambidge op haar blog “Woorde wat weeg” http://joanhambidge.blogspot.com/2019/06/resensie-hannes-visser-die-jaar-toe-pa.html en op 2 Februarie 2023 is daar op Netwerk24 ʼn resensie van die tweede uitgawe deur AJ Opperman https://www.netwerk24.com/netwerk24/kunste/boeke/nuwe-gedigte-deel-van-heruitgawe-van-hannes-visser-se-debuut-20230202
Lourens en Hambidge het ingeligte resensies geskryf wat gerus as agtergrond saamgelees kan word met hierdie resensie.
Die bundel “die jaar toe pa …” is die aangrypende verslag, vertel vanuit die perspektief van ʼn tienjarige seun, van die jaar waarin hy sy pa verloor het. Die titel met sy ellips suggereer dat dit wat die “pa” betref, moeilik verwoordbaar is, kan dui op ʼn kind wat te bewoë is om die skrikwekkende by die naam te noem en lê klem op die belangrikheid van die vader in die verteller se lewe. Die Jungiaanse perspektief is dus in die lees en interpretasie van die bundel belangrik. Die rol van die vaderfiguur in die jong seun se lewe is ‘n aspek van die bundel wat Amanda Lourens in haar resensie aanspreek. Sy gaan so ver om die bundel met ʼn Bildungsroman te vergelyk, aangesien die kind op die drumpel staan van die volwasse lewe en dinge beleef wat ons self nie graag ons kinders sal aandoen nie. Hier is die skrikwekkende (sien Julia Kristeva) en die verwerking van trauma belangrik. Die onbegrip vir die moeder en onderliggende woede jeens haar is myns insiens ook ʼn belangrike ordenende tema wat deur gedigte in die laaste afdeling bevestig word:
By die begrafnis van sy moeder staan die verteller se broer voor in die kerk en sê iets oor hulle ma
“ek wil ook graag
maar ek en sy het mekaar
vir te lank al hoe minder verstaan”
(p.86)
Hambidge en Lourens wys albei op die feit dat sosio-politieke kommentaar ʼn belangrike faset van die bundel is. So word byvoorbeeld die dood van HF Verwoerd, die Apollo I-ramp en die eerste hartoorplanting boustof vir die bundel.
“die jaar toe pa …” lees inderdaad soos ʼn kronologiese vertelling van wat in 1967 gebeur het, soveel te meer omdat dit aangebied word as gedateerde dagboekinskrywings. Die eerste afdeling het die titel “1967 die jaar toe pa …”, terwyl die tweede (bygevoegde) afdeling getitel is “… en daarna”.
Sowel Hambidge as Lourens wys op die belangrikheid van die kinderperspektief vir die gedigte. In die tweede uitgawe word dié perspektief dan in jukstaposisie geplaas met die insig van die volwassene.
Fokalisasie deur ʼn kinderkarakter werp dikwels ‘n belangrike fokus op fundamentele aspekte van die menslike bestaan, soos liefde, seks en familieverhoudings. Dit stel die digter/skrywer in staat om konsepte vanuit ʼn onbevooroordeelde perspektief te ontgin omdat die kind se insig in sy lewenswêreld eenvoudig en beperk is. Maandag 30 Januarie se gedig handel oor die mislukte Apollo I-sending na die maan:
drie mans is dood in amerika
wat met ʼn vuurpyl tot by
die maan wou vlieg
dit was op die draadloos
pa sê hulle het verbrand
nog voor hulle kon vlieg
maar eendag gaan mense
nog op die maan kan land
dis die here se wil
sê antie hester want dis
die here se maan en
niemand mag op sy
maan land nie
Soms skokkend eerlik is baie van die verse – die kind is immers uitgesproke en eerlik, maar (soos by kinders wat uit ontwrigte families kom) ook verbasend wys vir hulle jare. Een so ʼn gedig handel oor die marog wat hulle in die tuine van die “porregees” langs die dam pluk. (Ek onthou die baie malse groen Portugese tuine wat destyds orals op die Wes-Rand te siene was en wat nou verdwyn het ten koste van sink- en kartonhuise.)
“mense sê dis swart want
dis meidspinasie en
witmense eet nie
lokasiekos nie”
(p. 15)
Op Sondag 27 Augustus breek begrip deur vir die verhouding wat die verteller se ma met ʼn vreemde man het:
“die man met die cortina het
ʼn vrou en twee kinders
ek het hulle gesien op die swing
in die park oorkant sy huis
toe ek met my fiets gaan
kyk het waar hy bly
(…)”
(p. 47)
Wat die struktuur van die bundel betref, is dit opvallend dat die kinderlike verteller algaande meer volwasse word in die jaar waarin ʼn groot trauma hom getref het en die familie buitensporig ontwrig is, onder andere deur die moeder wat dadelik na haar man se dood nuwe verhoudings aanknoop en nie die nodige empatie met haar getraumatiseerde kinders toon nie. In die Tweede Uitgawe eindig die bundel siklies: Die eerste gedig begin met die woorde
“pa kap ʼn bordjie in
op die pavement
voor die huis
for sale
(…)”
(p. 9)
Die bundel eindig met die strofe:
“ek stap uit by die jaart en oor die straat
verby ʼn hoop bourommel waar
ʼn oranje bordjie lê
for sale”
(p. 89)
Die ruimte van die destydse Wes-Rand word in gedig na gedig opgeroep. Diegene wat nog die TV-reeks “Agter elke man” onthou, sal as’t ware vir Ant Stienie (gespeel deur Dulcie van den Bergh) met krullers en kopdoek, sigaret in die hand, op haar voorstoep kan sien staan.
Sondag 1 Oktober
Ons ry randfontein toe in
ma se blou mini en oom
ernie se nuwe hillman
om by robinson lake
ʼn country show te kyk
hulle drink cane en coke
en paarl perlé met lemonade
boby angel het ʼn cowboyhoed
billy forrest sing hello operator
en ma klim op die stage met
haar bruin costume en wil saam-
sing en met hom dans
ek gaan swem in die dam tot ons ry
Die dood is ʼn konstante metgesel – die dood van die digter se pa staan in jukstaposisie met soveel ander wat heengegaan het: die ruimtevaarders, p. 13; “frans met die haaslip” wat verdrink het, p. 14; Whitey se pa, p. 24; die vrou voor die hotel, p. 27; Jim Reeves, p. 29; twee mense wat in ʼn treinramp omgekom het, p. 47 … Ook verwysings na spoke kom voor: die aand voordat Whitey se pa sterf, word ses spoke in hulle huis gesien, p. 24 en die aand toe die digter sy pa se spook sien, p. 42:
ek het laasnag vir pa gesien
agterin die jaart toe ek in
die donker toilet toe gaan
sy lyf was wit sonder voete
en hy het met toe oë by ma se
rotstuin langs die aalwyn
op ʼn klip gesit
en toe het hy verdwyn
(…)
Uiteindelik moet ʼn resensent egter die tweede uitgawe van die bundel verreken met die klem op toevoegings wat gemaak is.
Die gedigte in die laaste afdeling van die bundel – met ander woorde die nege nuwe gedigte – wek soms die indruk van ʼn korrektief op en onnodige uitbreiding of verduideliking van die gedigte en kinderlike insigte in die eerste afdeling. Volgens die agterbladteks is dit gedigte waarin die volwassene wat as tienjarige kind in die eerste afdeling aan die woord was, terugkyk op die jaar 1967. In “Vir Violet” vra die digter verskoning aan die “ousie van dobsonville” wie se van en verjaarsdag hy nooit gevra het nie – polities korrek en in aansluiting by Koos Kombuis en talle skrywers na hom, blykbaar veral na die lees van Ena Jansen se boek “Like Family: Domestic Workers in South African History and Literature”. Daar is drie gesprekke met die digter se pa, een met sy broer en in die twee gesprekke met sy ma kom weer die verwyt: “die foto’s om te onthou hoe het pa gelyk / en van ons almal saam in daardie tyd / het jy destyds in ʼn skoenboks verbrand …”, p. 85. Ander gedigte is herinneringsgedigte en gedigte waarin die digter sy ou-ou tuiste dekades later weer besoek (bv. “Straat”, p. 87: “ons straat lyk nou korter en smaller”).
Waar die gedigte in die eerste afdeling as tydskapsule werk deurdat dit verteenwoordigend is van ʼn bepaalde tyd en plek en ʼn sekere era oproep, is die gedigte in die tweede bundelafdeling dikwels gerig aan bepaalde persone en sterk outobiografies van aard. Die naïwiteit en onthutsende eerlikheid van die eerste afdeling se kinderperspektief word hierin geneutraliseer. Vir my het dit op sy beste soos ʼn addendum gelees. Dit is nie swak gedigte nie, maar in terme van die nuwe bundelgeheel voeg dit nie waarde toe nie. Hulle sê immers: moenie torring aan iets wat reeds werk nie …