“Your lungs fill & spread themselves,
wings of pink blood, and your bones
empty themselves and become hollow.
When you breathe in you’ll lift like a balloon
and your heart is light too & huge,
beating with pure joy, pure helium.
The sun’s white winds blow through you,
there’s nothing above you,
you see the earth now as an oval jewel,
radiant & seablue with love.
It’s only in dreams you can do this.
Waking, your heart is a shaken fist,
a fine dust clogs the air you breathe in;
the sun’s a hot copper weight pressing straight
down on the think pink rind of your skull.
It’s always the moment just before gunshot.
You try & try to rise but you cannot.”
(Margaret Atwood)
I
Om oor die menslike anatomie te besin kom nie natuurlik tot my nie. Laat ek verduidelik: ek het iewers op hoërskool die keuse gemaak om in die ingenieurswese te studeer eerder as die geneeskunde. My rede was eenvoudig: ek het bloot nie kans gesien om die vak “anatomie” te neem en iewers vroeg in my studies ’n kadawer te dissekteer nie. Dus het ek gekies om eerder meganiese werktuie te dissekteer, al het ek laasgenoemde werktuie soms as strak, oninteressant en simbolies van die werkersklas ervaar. Dit was ’n soort kompromis wat ek met myself aangegaan het: as dinge morsig raak, laat daar dan eerder olie op my hande wees as bloed. Wanneer ek as ingenieur deur ’n vuil, raserige en besoedelde fabrieksvloer moes loop, het ek myself dikwels getroos dat my eweknie in die mediese wêreld dalk op dieselfde tydstip deur die geween en die gekners van tande van ’n ongevallesaal moes loop.
Vandag, baie jare later, het ek waarskynlik my vrees vir die disseksie van die menslike liggaam oorkom en is ek een van daardie mense wat doelbewus stadiger ry en my oë rek sodat ek alles kan waarneem wanneer ek by ’n ongelukstoneel verbyry waar ’n noodlottige slagoffer onder ’n silwer kombers lê. Lank daarna besin ek nog by myself oor die tragedie wat voor my oë afgespeel het. Miskien ontgroei ’n mens met die ouderdom die vrees en die mistifikasie van dit wat agter die sluier plaasvind. Miskien het dit te doen met die realisme wat uiteindelik die idealisme verdring. Dr Christiaan Barnard het immers beweer die menslike liggaam is bloot ’n ander vorm van masjien. Gevolglik wil ek deesdae alles weet wat agter daardie sluier skuil. Ek het ’n voyeur van die verwonde menslike liggaam geraak – ook van die makabere, en die dramas wat daarmee gepaard gaan.
Hierdie essay ondersoek enkele geselekteerde voorbeelde van die uitbeelding van die verwonde of gestorwe liggaam in die kunste en die poësie vanaf die Renaissance tot op hede.
II
Geregtelike nadoodse ondersoeke, wat die disseksie van kadawers insluit, is lank reeds deel van literêre teorie en kritiek. Die uitbeelding van hierdie post-mortem-prosedures dui enersyds op ’n refleksie van ’n samelewing se beskouing oor die dood, die menslike liggaam, maar dit verklap andersyds heelwat van die implisiete magsverhoudinge onderliggend aan hierdie mediese praktyke.
Die verband tussen kuns en geregtelike geneeskunde is reeds in 1632 in Rembrandt se ikoniese skildery, Die anatomieles van dr Nicolaes Tulp (Golahny, 2003, bl. 73) verbeeld. As agtergrond: Op 31 Januarie 1632 het die Amsterdamse Gilde van snydokters byeen gekom, en dr Tulp was die hoof-sjirurg. Tydens die 17de eeu was die disseksie van liggame by wyse van anatomielesse ’n sosiale gebeurtenis wat bygewoon is deur dokters, studente, kollegas en ander nuuskieriges. Die kadawer in Rembrandt se skildery is dié van ’n veroordeelde misdadiger, Aris Kindt (die alias van Adriaan Adriaanszoon) wat skuldig bevind is aan gewapende roof en die doodstraf ontvang het: hy is opgehang. Die nadoodse ondersoek van ’n veroordeelde misdadiger – die moraliteitsteater wat laasgenoemde tot gevolg het by wyse van afskrikking – resoneer met Michel Foucault se beskouings in sy werk, Discipline and Punish: The Birth of the Prison (Foucault, 1977), soos later aangetoon sal word.
In die onderstaande gedig deur Joan Hambidge vra die spreker vrae oor die Rembrandt-skildery (Hambidge, 2006). Is die ware skildery wat ’n anatomieles verbeeld, nie dalk Die anatomieles van dr Sebastian Egbertsz, soos geskilder deur Thomas de Keyser en waarin daar bloot ’n geraamte getoon word nie? Met ander woorde: is Rembrandt se werk gedryf deur vertoon; om in gesiene sosiale sirkels te beweeg? Hier is kuns en ars poëtikale drif ook betrokke: die weerlose liggaam van die rower; Aris Kindt word op sigself “gedief” vir die anatomieles; maar is die skilder en digter nie eweneens skuldig nie? Is kreatiwiteit, en die ekshibisionisme wat daarmee gepaard gaan, nie maar dieselfde as rowery nie? Is die estetiese ruilhandel tussen kunstenaars, wat dieselfde idees buit – in hierdie geval ekfrasis – met ander woorde nie net ’n meer gesofistikeerde vorm van diefstal nie?
Die Anatomie-les van dr Tulp (1632)
Ou ydeltuit Tulp
tesourier, burgemeester
versoek ’n groepsportret.
’n Bloedjonge Rembrandt van Rijn
skamel ses-en-twintig
boorling uit Leiden
student van Lastman
– navolger van Caravaggio
se chiaroscuro –
opgemerk deur Huygens
oorgedra aan Uylenburgh
en aanbeveel …
En só
van mond na
oor tot oog
en hand
aanvaar die jongeling
’n groepsportret:
’n teken van sosiale sukses.
A, die Amsterdammers
wou met praal en prag
graag die lewe in ’n spieël
sien …
Maar agter die spel met lig
en donker: skadu en son,
sou ons u moes toelig
dat net twee van die toeskouers
geneeshere was; die res staan skouer
aan skouer met dr Tulp se openbaarmakende
anatomie-les
met ’n doktersgilde wat slegs één
disseksie per jaar sou toestaan
(in die winter, bewaring ontwille)
van ’n opgehangde, verskopte skurk,
ene Aris Kindt,
rower
se lyf gedief
vir hierdie simmetriese
skildery perfek
(wie kyk na wie?
wie kyk na wat?)
lewe/dood,
lig/donker,
sukses/mislukking.
Die eintlike punt
– meen ek –
is dat ons kyk
na ’n ánder anatomie-les
van dr Sebastian Egbertsz
deur Thomas de Keyser
waar ’n geraamte
stilswyend hang.
So wie is die grootste dief?
Die gewapende rower
of die skilder?
Of dalk die digter?
Die impak van die skilderkuns as vertoonvenster van die geneeskunde moet nie onderskat word nie. In sy antologie mediese gedigte, Poetry in Medicine: An Anthology of Poems About Doctors, Patients, Illness and Healing gee Michael Collier in die voorwoord ’n deeglike analise van die omslagontwerp waarin The Agnew Clinic (1889) van die Amerikaanse skilder, Thomas Eakins, getoon word – en sinoniem met laasgenoemde skildery moet Eakins se The Gross Clinic (1875) genoem word (Salcman, 2015).
Volgens Collier moet die betrokke skildery op die voorplat gelees word as sleutel tot die diverse invalshoeke op mediese poësie: die onlosmaaklike, menslike verbondenheid wat ons saamvoeg in tye van siekte, pyn en nood. Mediese teaters waarin sjirurgiese prosedures of operasies uitgevoer is, was eeue gelede ’n geslote en verbode terrein vir buitestanders. Enkele skilders het hierdie mediese Sanhedrin aanskoulik geopen deur gedetailleerde skilderye, gelaai met simboliek. ’n Mens kan inderdaad die afleiding maak dat die aanskoue van sjirurgiese prosedures lank gelede as ’n eklektiese aktiwiteit bejeën is. Dit is soveel anders as die voorreg wat ons vandag, as kitskykers van TV-reekse beleef: daar is ’n legio mediese dramas waarin voorstellings hiervan bestaan, byvoorbeeld ER; Grey’s Anatomy; The Good Doctor; New Amsterdam; House MD en The Resident. Sommige medici beweer dat, afgesien van enkele klein kontinuïteitsfoute, hierdie programme baie akkurate voorstellings bied, maar ander kritiseer die programme omdat dit, aldus hulle, nie werklikheidsgetrou is nie. Die Sanhedrin van die mediese wetenskappe word bedreig indien dit aan die gepeupel oopgestel word via TV-reekse en mediese toeps. Hierdie verskynsel is verklaarbaar: soos later aangetoon sal word, eis die Foucauldiaanse mediese blik alle gesag vir homself op en verwerp enige ander weergawes daarvan. Vandaar ook die kritiek vanuit die mediese professie teenoor Dr Google en WebMD as bron van inligting aan die publiek.
Die huwelik tussen skilderkuns en poësie – ekfrasis, soos aangetoon is in die gedig van Hambidge – open ook verdere moontlikhede. Reeds in The Bell Jar (Plath, 2005) beskryf Sylvia Plath op semi-outobiografiese wyse ’n besoek aan ’n lykskouingsaal aan die Universiteit van Harvard in Oktober 1951. Haar eertydse kêrel, Buddy Willard het haar vergesel.
“I started out by dressing in a white coat and sitting on a tall stool in a room with four cadavers, while Buddy and his friends cut them up. These cadavers were so unhuman looking they didn’t bother me a bit. They had stiff, leathery, purple-black skin and they smelt like old pickle jars.” […] I was quite proud of the calm way I stared at all these gruesome things. The only time I jumped was when I leaned my elbow on Buddy’s cadaver’s stomach to watch him dissect a lung.” (Plath, 2005, bl. 59)
Plath verwerk bogenoemde biografiese gegewens ook in digvorm, aangehaal uit Poetry in Medicine: An Anthology of Poems About Doctors, Patients, Illness and Healing (Salcman, 2015, bl. 36).
Two Views of a Cadaver Room
1
The day she visited the dissecting room
They had four men laid out, black as burnt turkey,
Already half unstrung. A vinegary fume
Of the death vats clung to them;
The white-smocked boys started working.
The head of his cadaver had caved in,
And she could scarcely make out anything
In that rubble of skull plates and old leather.
A sallow piece of string held it together.
In their jars the snail-nosed babies moon and glow.
He hands her the cut-out heart like a cracked heirloom.
2
In Brueghel’s panorama of smoke and slaughter
Two people only are blind to the carrion army:
He, afloat in the sea of her blue satin
Skirts, sings in the direction
Of her bare shoulder, while she bends,
Fingering a leaflet of music, over him,
Both of them deaf to the fiddle in the hands
Of the death’s-head shadowing their song.
These Flemish lovers flourish; not for long.
Yet desolation, stalled in paint, spares the little country
Foolish, delicate, in the lower right-hand corner.
In die eerste strofe beskryf Plath in die derdepersoon haar besoek aan ’n lykskouingsaal. Die grusame verwysing na vier mans se erg beskadigde kadawers kom voor – en in teenstelling hiermee, die ironie en atrofie van lewe in die gedaante van menslike fetusse in flesse.
In die tweede strofe (identies aan die eerste: 11 reëls), betrek Plath die Vlaamse skilder Pieter Brueghel die Ouere, se olieverfskildery Triomf van de Dood (1562) (Orenstein, 2001). Die apokalips word uitgebeeld as ’n panoramiese voorstelling van ’n legioen geraamtes in ’n swartverbrande, verlate landskap. Die lewendes vlug vir die geraamtes, wat op desperate wyse terugbaklei. Maar niemand ontkom die dood nie: mense van alle sosiale stande – die gepeupel, kleinboere, soldate, adellikes, en selfs ’n koning en kardinaal buig die knie voor die verwoesting van oorlog, uitputting en hongersnood, en die dood word verbeeld as die allesomvattende mag wat niemand kan vryspring nie. Dié werk is ’n allegorie op die onvermydelikheid van die dood, en dit is bekend om sy realistiese en uitgebreide beelding van verskillende aspekte van die lewe in die 16de eeu. Maar, weer eens maak Plath gebruik van kontraswerking: te midde van die chaos en verwoesting wat Brueghel se skildery voorstel, is daar ook verwysings na liefde en lewe. Regs onder in die skildery word ’n man, wat op ’n fluit speel, getoon, terwyl ’n vrou saamsing. Plath verwys na die “Flemish lovers”, wat die suggestie skep dat dit ’n paartjie is. Alhoewel die twee salig onbewus mog wees van die dreigende en verswelgende apokalips wat hulle omring, is dit duidelik dat ook hierdie twee verliefdes nie die dood sal ontkom nie. Die uitgebreide metafoor van die lykskouingsaal en kadawers, en die intertekstuele, ekfrastiese gesprek met Brueghel se werk in die tweede strofe, resoneer met die idee dat die lewe broos, onvoorspelbaar en wreed is – maar dat die dood altyd seëvier.
III
Uit die Gotiese literatuur, byvoorbeeld Edgar Allan Poe se werk, blyk ’n morbiede fassinasie met kadawers – met die klem op die bonatuurlike, die vreesaanjaende en die groteske, waarin die afgryse en abjeksie van die dood gestalte vind. Poe was ’n gewilde skrywer, want die Victoriane het ’n donker kant gehad met ’n voorliefde vir intriges waarin mense lewendig begrawe is, of waarin vampiere en bisarre geestesversteurings- en vervoerings hulle opwagting maak (Poe, 2011). Die taboewaarde rondom lyke is tydens die laat 19de en vroeg 20ste eeu opgehef deur die mediese beskouing van H.G. Wells se wetenskapfiksie. Die makabere inslag van Poe het nou plek gemaak vir geformaliseerde post-mortem mediese disseksies waarin die doodsoorsaak vasgestel moes word. ’n Mens dink byvoorbeeld aan Wells se The Invisible man (1933) of The War of the Worlds (1953), waarin patologie op forensiese vlak in lyn met wetenskaplik-mediese prosedures uitgevoer is (selfs van ekstraterrestriële wesens) (Wells, 2020; Wells, 2002).
IV
In die hedendaagse literatuur word geregtelike nadoodse ondersoeke betrek, word temas soos die liggaam, gender, identiteit en die mag van die staat oor die liggaam beklemtoon.
Van dood en kadawers in poësie gepraat: Die lykdig is bekend as elegiese vers met sy tipiese onderbou van lof (laus), rou (luctus) en troos (consolatio). Daar bestaan egter ook die lyksgedig. In sy artikel oor ’n lyksgedig deur Breyten Breytenbach beweer Crous (2008):
“In die Afrikaanse letterkunde is etlike gedigte wat handel oor die dood van ’n geliefde, maar dit is opvallend hoe min werklike lyksdigte daar in Afrikaans bestaan. Laasgenoemde verwys na gedigte wat pertinent oor die lyk handel en wat vir die leser ’n beskrywing gee van die afgestorwene se liggaam, of dié waarin die lyk self aan die woord gestel word. In my aanvanklike ondersoek het ek op enkele voorbeelde gekonsentreer, onder meer D.J. Opperman se ‘Mev HSM Opperman’ uit Edms. Bpk, T.T. Cloete se ‘uitlê van die lyk’ uit Allotroop, Johann de Lange se ‘Dood van James Dean’ uit Snel grys fantoom en ‘Op ’n dag sal jou skrander kop’ en enkele voorbeelde in die werk van Breytenbach, waarvan die vroegste voorbeeld die gedig ‘bekommernis’ uit sy debuutbundel Die ysterkoei moet sweet is.”
Die onderstaande gedig van Johann de Lange uit die digbundel Die algebra van nood (De Lange, 2009) het die titel “Klaagsang van die patoloog”. Dit begin met die reël “Op ’n dag sal jou skrander kop…”. Dit kan dus aanvaar word dat Crous in sy 2008-artikel hierbo ’n vorige weergawe van dieselfde gedig onder oë gehad het tydens die skryf van die artikel.
De Lange skets die nadoodse ondersoek van ’n geliefde intellektueel – die vers is opgedra aan Hennie Aucamp. Die digter simuleer die disseksieproses met taal: let byvoorbeeld op die woorde wat gebreek word met afkappingstekens. Na hierdie disseksieproses, wat op ’n onthegting van die aangesprokene neerkom, heg of genees die spreker weer die oorledene deur die besef dat hy “meer as die som van sy dele” is. Die menslike kondisie word voorgestel as die onkenbare Deus ex machina, onsigbaar vir die patoloog se oog. Die slotreël eggo ook “jy is meer as wat loofbaar is”, wat enersyds met die geïmpliseerde elisie die disseksie- of oopkloofproses naboots.
Klaagsang van die patoloog
vir Hennie Aucamp
Op ’n dag sal jou skrander kop
opdaag in ’n koelkas
met die benige gedeelte
van jou nek deurgesny
deur die stam van die vierde nek-
werwel; jou regter-
arm sal verwyder wees
deur ’n insnyding
van die vel & bloedvate.
Disseksie van jou brein
in dun snitte sal die tipiese
verspreiding van grys-
& witstof vertoon sowel as
die boomvormige struktuur
van die breinkors.
Hierdie dinge is waar. Hulle is tasbaar.
Die lykskouer sal bevind
dat jou breinholtes nie vergroot
is nie, dat jou harsings, pons,
verlengde rugmurg & klein-
harsings ‘onnoemenswaardig’ is;
maar hy het jou in die lewe
nie geken nie. Hy mag stellig beweer
dat die sagte weefsel
om jou lugpyp eweneens on-
noemenswaardig is; so ook die binneste
belyning van jou hart.
Dis in orde. Hy is nooit
deur jou bemin nie.
Hy sal tot die gevolgtrekking kom
dat jou aorta, boonste vena cava
asook jou longbloedvate
onnoemenswaardig is. Maar jy is
meer as die som van jou dele.
Jy is meer as wat kloofbaar is.
V
Waar lyksgedigte op ’n persoonlike verbondenheid met die oorledene dui, skuif gedigte wat geregtelike geneeskunde of forensiese patologie as tema het, volledig na die kliniese en onpersoonlike kritiese Foucauldiaanse diskoersanalise met sy mediese blik (medical gaze). In 2010 debuteer Martina Klopper met Nadoodse ondersoek, ’n bundel poësie wat sy beslag gevind het as ’n MA in skeppende skryfkuns onder leiding van Joan Hambidge (Klopper, 2010).
Volgens Bennett is Nadoodse ondersoek ’n volledig deurgekomponeerde bundel waarin die lewering van ’n outopsieverslag die spilpunt van die verse vorm (Bennett, 2016). ’n Outopsie, of ’n geregtelike nadoodse ondersoek word gelas in gevalle van ’n onnatuurlike (of skielike) doodsoorsaak soos misdaad of ander verdagte omstandighede.
Die bundelverdeling, naamlik “Misdaadtoneel”, (ná die programgedig “Patologie”), gevolg deur “Eksterne ondersoek”, “Interne ondersoek” en laastens “Verslag” skets die ondersoekprosedure wat gevolg word tydens ’n outopsie. “His locus est ubi mors gaudet succurrere vitae” vorm die inleidende motto tot die bundel, en beteken: “Dit is die plek waar afgestorwenes juig om die lewendes te help”. Hierdie kennisgewing verskyn dikwels by outopsiepraktyke.
Die Franse filosoof, sosioloog en historikus, Michel Foucault, se beskouing oor diskursiewe magspraktyke is uiters relevant tot hierdie essay. Foucault verklaar dat mag oral en onderliggend aan alles is. Dit is vloeibaar, dinamies, nie beperk tot ’n spesifieke groep nie en is in ’n konstante flux van mededinging en verandering. Mag maak van ons wie ons is, en mag is in alle diskoers teenwoordig – nie net in gesagstrukture nie; mag is dwarsdeur ’n samelewing versprei, en is ook in ons liggame sigbaar.
Gaventa verduidelik Foucault se siening van lyfmag (bio power) soos volg (Gaventa, 2006):
“Physical bodies are subjugated and made to behave in certain ways, as a microcosm of social control of the wider population, through what Foucault called ‘bio power’. Disciplinary and bio power create a ‘discursive practice’ or a body of knowledge and behaviour that defines what is normal, acceptable, deviant, etc. – but it is a discursive practice that is nonetheless in constant flux.”
In Foucault se bekende The Birth of the Clinic: An Archaeology of Medical Perception beskryf hy die ontwikkeling van la clinique of die onderrig-hospitaal as ’n mediese instelling (Foucault, 1994). Hy verwys voorts na die konsep, le regard médical (the medical gaze: die mediese blik) as die onderrig-kliniek of -hospitaal wat die produksie van mediese kennis en navorsing teen die einde van die agtiende eeu bevorder het. In die genealogie van medisyne – kennis oor die menslike liggaam – ‘kyk’ die dokter na ’n pasiënt se liggaam en hierdie mediese blik depersonifieer die pasiënt, want die dokter se kliniese blik het die outoriteit om die sieke te objektiveer. Die persoonlike identiteit van die pasiënt is nie van belang nie en die pasiënt word ondersoek, gediagnoseer en geklassifiseer in terme van diagnostiese toestande, organe, menslike weefsel, nadoodse ondersoeke, en dies meer. Die mediese blik word gerig vanuit die clinique (onderrig-hospitaal), waarin die wetenskaplike, intellektuele en sosio-ekonomiese infrastrukture as magstrukture dien wat die dokter in staat stel om pasiënte op ’n onpersoonlike wyse te behandel. Die afsydige mediese blik fokus op waarneembare simptome en objektiewe data, eerder as op die dokter se subjektiewe interaksie met pasiënte. Dit lei uiteraard tot die demistifikasie van die dokter as eertydse magiese geneser.
Wanneer die pasiënt se liggaam die mediese veld betree, betree dit ook die veld van mag waarbinne die pasiënt deur die professionele gesag van die mediese blik gemanipuleer kan word. In hierdie werk ondersoek Foucault die verband tussen mag, kennis en die mediese professie. Volgens Foucault vorm die mediese blik ons begrip van die moderne mediese praktyk, en dien dit as instrument om pasiënte se gedrag en liggaamsfunksies te beheer en te dissiplineer.
In Nadoodse ondersoek word die leser op meedoënlose wyse gekonfronteer met Foucault se mediese blik. Let vervolgens op die onnatuurlike doodsoorsaak in die programgedig, “Patologie” (ble. 9 – 10):
Patologie
I
Jy benodig die volgende:
’n skalpel, skaal en liniaal.
Hier is my liggaam
op die praalbed van papier,
dis jou taak om die oorsaak
van my dood te bepaal.
Vir die eksterne ondersoek:
Tel alle wonde en sere,
meet elke tattoo –
dis letters en grepe
die merke van ’n lewe
op my vel agtergelaat.
Gebruik die en masse-tegniek
vir interne disseksie:
weeg elke woord,
sny “hart” en “brein”
in dik stukke filet,
vind metafore vir “moord”.
Hoeveel weeg ’n gedig?
Jou verslag sal bepaal:
Lywig of lig.
II
Ek is ’n reeksmoordenaar,
verslaaf aan die verloedering
van die fyn beplande skryfdaad.
Die bloudruk van my gedigte
lyk soos my slagoffers
se verminkte gesigte –
elke letsel is ’n leidraad.
Ek staan jou by in die taak
om ’n patologieprofiel te maak.
Ek is die Seun van Sam
en hierdie my briewe
aan die pers en owerheid
waarmee ek daag:
vang my uit.
III
Die digter is ’n patoloog,
’n gedig die lykskouingsverslag:
om te skryf is om te soek
na die oorsaak van ’n woord.
Foucault se opvattinge oor die menslyf as lewende diskoers in Discipline and Punish: The Birth of the Prison (Foucault, 1977) het daartoe bygedra dat die liggaam na die voorgrond gebring is. Sy teorieë ten opsigte van mag, betekenis en kennis, asook die sisteme en strukture waardeur elke bepaalde samelewing verdeel en georganiseer word, plaas die liggaam sentraal. Liggame word gedissiplineer en gestraf om te konformeer aan die voorgeskrewe meesterkodes – die sosiale, kulturele, morele, religieuse en regskodes.
In Discipline and punish ondersoek Foucault die ontwikkeling van straf- en korrektiewe prosesse. Hy fokus op eertydse openbare teregstellings en korrektiewe metodes tot en met die moderne benadering, en dui aan hoe dit beheer neem oor die subjekte daarvan. Foucault beweer dat ook ánder instellings, byvoorbeeld hospitale en skole, ingespan word in die beheer en regulering van mense. Die implisiete strafmaatreëls wat gesagstrukture op individue afdwing, lei tot konformering met magskonvensies en die dissipline by die individu. Om dus terug te keer na Die anatomieles van dr Nicolaes Tulp in die begin van hierdie opstel: die disseksie van die misdadiger, Aris Kindt, vorm deel van die openbare moraliteitsteater. Die skildery is dus gelaai met geregtelike kodes van straf, vernedering en die sigbaarmaking van die oortreder se kadawer wat die boodskap uitdra: konformeer met samelewingskonvensies, of dít is wat met jou oorskot mog gebeur.
In Nadoodse ondersoek vind Foucault se beskouing rondom die mediese blik, maar ook die dreigement van komende straf, uitdrukking. “Ek is die Seun van Sam” in “Patologieles” verwys na die berugte reeksmoordenaar, David Berkowitz, wat in 1976 – 1977 in New York aktief was. Hy het briewe aan die New Yorkse koerante gestuur, geteken as “Son of Sam” omdat hy geglo het dat sy buurman, Sam Carr se hond ’n demoon in hom gehad het wat Berkowitz laat moor het. In hierdie gedig vind ’n interseksie van die Foucauldiaanse mediese blik, maar ook kriminologiese magstruksture, wat die oortreder penaliseer, plaas. Die geregtelike nadoodse ondersoek wat die programgedig voorstel, lei uiteindelik tot die suksesvolle vervolging van ’n reeksmoordenaar. Die digter-patololoog, wat die lykskouingsverslag (gedig) skryf, bepaal uiteindelik die oorsaak van die woord (die dood). Die liggaam word teks en véél meer as net ’n biologiese entiteit. Die liggaam as simbool van sosiale, politieke en kulturele betekenis word genadeloos uitgestal in Nadoodse ondersoek.
VI
In die Afrikaanse letterkunde is daar min geskryf oor die doodstraf wat in Suid-Afrika afgeskaf is op 6 Junie 1995.
In Mouroir (Breytenbach, 1983), ’n bundel kortprosa van Breyten Breytenbach wat hy in die gevangenis geskryf het, is daar enkele verwysings na die doodstraf. Sy verhaal, “Die dubbele sterwe van ’n ordinêre krimineel” (ble. 36 – 51) gee gedetailleerde beskrywings van hoe gevangenes in die apartheidsjare tereggestel is deur hulle op te hang. Breytenbach beskryf hoe sy sel nie ver van die dodeselle af was nie en dat hy die terdoodveroordeeldes (oorwegend politieke gevangenes) kon hoor sing voor hulle teregstelling. Nadoodse ondersoeke is ook op mense wat opgehang is, uitgevoer en sommige van hulle se liggame is geskenk vir mediese navorsing. Foucault se mediese blik en die disseksie van die veroordeelde misdadiger se liggaam, wat nie gekonformeer het met magskonvensies nie, is hier ter sprake. Die afgryse van die doodstraf en die geïmpliseerde mag van die staat blyk duidelik uit hierdie verhaal:
“Wanneer rilling en stuipe nie meer aanwesig is nie word die slap lyke in ’n wasbak neergelê en die diensdoenende dokter sny ’n gleufie agter in die nek oop om te verifieer watter nekwerwel gebreek is – dit moet ingevul word in duplikaat. Bloedvlekke, korse, snotspatsels ook aan toue en mussies en die kas waarin die toue opgeberg word, stink na ou bloed. Die teraardebestelling vind binne enkele ure plaas. Die oorledenes se klere kom weer terug in sirkulasie in die gevangenis. Dis ten slotte staatseiendom. Indien ’n lyk om die een of ander rede bewaar moet word is daar moderne blink yskaste in gereedheid daarvoor in die lykskouingskamer.” (ble. 43 – 44)
VII
Terug na my inleidende opmerking in hierdie essay waarin ek aangedui het watter afstand daar tydens my vormingsjare was tussen die loopbaan van ’n ingenieur en die loopbaan van ’n mediese dokter. Die feit is dat die ontwikkeling van tegnologie besig is om hierdie disparate loopbane op ’n transdissiplinêre wyse byeen te bring. Byna geen geneesheer finaliseer vandag ’n diagnose sonder om verskeie tegnologiese hulpmiddels te raadpleeg nie, of dit nou X-strale; mediese sonografie; magnetiese resonansiebeelding; of elektrokardiografie is. Vandag dra die meeste van ons slimhorlosies wat vitale funksies soos ons polsslag; bloeddruk; bloedsuurstof; ensovoort opneem en beskikbaar stel aan ’n toep op ons slimfone. Tydens my jaarlikse mediese ondersoek het ek vir 24 uur met ’n hartmonitor geloop, wat daarna by die spreekkamer aan ’n rekenaarprogram gekoppel is wat my tersaaklike data afgelaai het. In al hierdie gevalle het die menslike liggaam en die werktuig vir ’n wyle verenig en word die diagnose gesamentlik deur die mediese dokter en die toepaslike tegnologie gedoen.
Maar daar is meer: prosteses word alreeds driedimensioneel uitgedruk. Dit is nie meer so onwaarskynlik dat daar ’n dag gaan kom wat vitale organe soos die hart, longe, of niere dalk ook driedimensioneel uitgedruk gaan word nie.
Die punt is, soos wat tegnologiese vooruitgang die mediese blik oorneem, so verander die rolle van almal in die diagnostiese en terapeutiese prosesse, en demistifiseer alles wat nog agter die sluier skuil. ’n Mens kan dus verwag dat die wyse waarop die menslike anatomie uitgebeeld word in die kunste en die poësie, ook besig is om te verander.
Verwysings:
Bennett, N. (2016). ‘n Digterlike disseksie. Herwin van Versindaba: https://versindaba.co.za/2016/01/31/nini-bennett-n-digterlike-disseksie/
Breytenbach, B. (1983). Mouroir. Emmarentia: Taurus.
Crous, M. (2008). “Ruik die verderf in die kieliebakke”: Breyten Breytenbach se blik op die lyk. Literator, 29(3), 35-55.
De Lange, J. (2009). Die algebra van nood. Kaapstad: Human & Rousseau.
Foucault, M. (1977). Discipline and Punish: The Birth of the Prison. New York: Vintage Books.
Foucault, M. (1994). The Birth of the Clinic: An Archaeology of Medical Perception. New York: Vintage.
Gaventa, J. (2006). Power is everywhere. Herwin van Powercube: https://www.powercube.net/other-forms-of-power/foucault-power-is-everywhere/
Golahny, A. (2003). Rembrandt’s Reading: The Artist’s Bookshelf of Ancient Poetry and History. Amsterdam: Amsterdam University Press.
Hambidge, J. (2006). Die Anatomie-les van dr Tulp (1632). Herwin van LitNet: https://www.litnet.co.za/die-anatomie-les-van-dr-tulp-1632/?fbclid=IwAR0_FHiDBoOBwzOL4a2FlQ3dY9X02FxvLZuAubKkHxs3I2xWBJUczrq-bp4
Klopper, M. (2010). Nadoodse ondersoek. Kaapstad : Human & Rousseau.
Orenstein, N. (2001). Pieter Breugel The Elder: Drawing and Prints. New Haven: Yale University Press.
Plath, S. (2005). The Bell Jar. New York: Harper Perennial Modern Classics.
Poe, E. (2011). The Complete Works Of Edgar Allan Poe. East Sussex: Delphi Classics.
Salcman, M. (. (2015). Poetry in Medicine: An Anthology of Poems about Doctors, Patients, Illness and Healing. New York: Persea Books.
Wells, H. (2002). The War of the Worlds. Londen: Penguin Random House.
Wells, H. (2020). The Invisible Man. Scotts Valley, Kalifornië: CreateSpace Independent Publishing Platform.