slaap jy solank, dan hou ek die fort
vir jaco botha (1972– 2016)
beteuterd soos twee pienk kwitansies
pas ontvang vir twaalf kopieë
van ons ma-verhandelings
dwaal ek en jy na die middel-kampus
van uct platane platane en ʼn flitsblik
van die see ek onthou hoe jy daai aand
in ons gehawende flat digby de waal-park
mooitjies ʼn sigaret uit jou kwitansie rol,
sodat jy weer behoorlik kan asemhaal
ek sien jou soms steeds dáár
te hyper om lekker te sit dalk daarom
deurlopend op soek na iets om aan te steek
of dood te druk of ʼn radio om aan te peuter
of failing all else ʼn liggaamsdeel om aan te krap
onthou jy die nag toe ons meer as enigiets
die more wou sien breek oor magersfontein?
met die wegtrek het jy nonstop gepraat
oor die verskille tussen fisante en patryse,
maar skuins ná drie was die maan kil
oor clanwilliam se water die more ver
patryse net so stom soos fisante
ons was koud en moerig
vir onsself maar meestal vir mekaar
onthou jy die week toe ons op rys en mayonnaise
oorleef het, of die keer toe ons die agtersitplekke
van my alfa uitgehaal het op soek na kleingeld
vir checkers se goedkoopste sigarette?
ek sien jou oplaas op die gewel van jou kothuis
staan en botweg weier om af te kom ek hoor jou kla
dis gevaarlik daaronder en ek weet wat jy bedoel
nes daai aand by die kknk toe jou trane soos whisky
op die kroegtoonbank spat, en jy sê: kom ons gaan slaap
eerder, tom, dan is ons ten minste nie meer wakker nie.
ek verstaan my tjom my tjom slaap jy solank want die nag
is lank en die son sal basically forever oor magersfontein verrys
intussen sal ek nog vir ʼn rukkie dié kant die fort probeer hou
solank ek nog onthou solank ek nog onthou solank
© Tom Dreyer, 2019
[Hierdie gedig was die 2019-AVBOB-Poësiepryswenner]
