DIE AFGROND TUUR NA HENDRIK HOP
in 1761 klits hendrik hop
ʼn kameelperd langs die groot rivier
sy wenkbroue ʼn steil boskaas
bo die eerste oë
om oor ʼn snaphaan
na só ʼn nek te tuur
het ook die halfwas horinkies hom ontstel,
die behendige lippe, die ongekaarte
landstreek van die vel?
want wat sê dit oor jóú:
die aantref van iets onmoontliks?
was hierdie die omtes
waar die anthropopagi dwaal
met hul oogkasse onder hul skouers?
was hierdie die rivier van vergetelheid?
en kon hy terwyl hy nader kruip
– sonder hoed reeds, sonder bandelier –
‘n ingrypender skemer om hom voel groei?
is sy oggendson uitgeloog tot ‘n maan?
en het hy – soos hy aanlê –
vlietend getwyfel of hy self bestaan?
© Tom Dreyer, 2023
