Kroegpraatjies
“Sy had ’n dubbele mastektomie,
nou al jare terug,” sê die dokter, haar neef,
“en sy antwoord nie haar foon nie.”
Ons gesels oor appels en denne
en die ywer van vergange dae
om in die misgordel vooruit te boer.
Kinderdae en kinderspeletjies
se herinneringe bly ongenoem
of het soos ou speelgoed weggeraak.
“Nou is sy baie siek,” gaan ek verder,
maar die dokter se oë word wasig.
Hy bestel oor die toonbank nog ’n bier.
“Ook haar man antwoord nie sy foon nie,”
hoor ek hom sê voor hy omdraai, wegstap.
En die lug bly vol vraagtekens hang.
© Johann Lodewyk Marais, 2023