Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
19 May 2023

Resensie: “Breyvier: Over taal, burgerschap en Breytenbach” (Yves T’Sjoen)

 

 

Resensie: Breyvier: Over taal, burgerschap en Breytenbach deur Yves T’Sjoen. Gent: Skribis, 2023.

Resensent: Marlies Taljard

 

Breyvier is ʼn satellietboek by die akademiese opstelbundel Kwintet wat binnekort by Woolf in Antwerpen verskyn, aangevul deur kort gedagtes oor Breyten Breytenbach en die Lae Lande en literêre kontak tussen Afrikaans en Nederlands.

Op die agterplat van Yves T’Sjoen se pas verskene boek Breyvier: Over taal, burgerschap en Breytenbach word die boek getipeer as ʼn “werkschrift” met notas en marginalia oor (onder andere) die digter Breyten Breytenbach. Die eerste deel van die boek word hoofsaaklik gewy aan kort essays en bibliografiese bydraes oor die digter-skilder Breyten Breytenbach. Die tweede afdeling is getitel “Meertalig burgerschap” en die derde afdeling “Omtrent Claus, De Coninck en Krog”. Dié twee afdelings bevat hoofsaaklik langer essays.

Die onderstaande skakel lei na ʼn onderhoud tussen Willem de Vries en die outeur op Voertaal

https://voertaal.nu/breyvier-deel-1-tsjoen-brei-perspektiewe-uit-met-besinnings-en-aantekeninge-oor-transnasionale-belangrikheid-van-breytenbach/

Die “Verantwoording” stel dat die eerste 13 bydraes hoofsaaklik bronnestudies, bespiegelinge en voorstelle vir verdere navorsing oor Breytenbach bevat en neem dikwels die vorm aan van annotasies by Breytenbach-tekste en navorsing oor sy werk. Hierdie afdeling is besonder waardevol vir toekomstige Breytenbach-studies. Een van die interessantste opstelle is “#3 ‘Die groot Andersmaak’. Samenspraak tussen Frederik Van Zyl Slabbert en Breyten Breytenbach over democratie in Zuid-Afrika na 1990”. Die sieninge van Frederik van Zyl Slabbert en Breyten Breytenbach aangaande die stigting van die Gorée-instituut en die Dakar-gesprekke in 1987 word uiteengesit aan die hand van oorgelewerde dokumente. Die opstel belig ook die nou reeds beroemde toespraak van Breytenbach op 17 Augustus 1990 op Stellenbosch waarin hy sy politiek-ideologiese visie uiteensit met verwysing na Slabbert, naamlik dat dit tyd geword het dat Afrikaners deelneem aan “die proses van verheldering en omvorming”, die “groot Andersmaak” of dekolonialisering.

Die vierde opstel handel oor die (politieke) vervolging van skrywers wat uitgeloop het op die stigting van ‘n Internasionale Skrywersparlement waarvan Breytenbach op die direksie gedien het en van vlugtelingstede oor die wêreld heen waar skrywers ʼn veilige heenkome vind. Uit opstelle soos hierdie word Breyten Breytenbach se internasionale status en sy rol as inisieerder en leier van ondernemings wat die belange van skrywers wêreldwyd beskerm en bevorder, belig.

ʼn Langer artikel handel oor Breytenbach en skrywers ná hom se soms problematiese verhouding met die Hertzogprys. In hierdie artikel handel dit oor die kanon, kanoniseringsprosesse, verset teen kanoniseerders en verskuiwings van perspektief aangaande werke wat gereken word as die tipe letterkunde wat bekroon behoort te word. T’Sjoen toon hoe verset teen ontvangs van ʼn ideologies gekleurde prys deel is van die geskiedenis van die Hertzogprys en teoreties as verset van die periferie teen die sentrum en die verskuiwing van magsposisies binne ʼn literêre veld beskou kan word. Dié debat is nou weer aangewakker deur die omstrede uitsprake van S.J. Naudé by ontvangs van sy tweede Hertzogprys in 2022 en woed steeds in literêre kringe. T’Sjoen reken dat dit nou die tyd is om oor die kanon te herbesin en sekere aanvullings te maak waar nog hiate bestaan.

Verdere interessante opstelle in die eerste afdeling handel oor die Breytenbach-dokumente by Wits, die onderhoud van Herman de Coninck met Breytenbach oor sy aktivistiese werk en sy lewe in die tronk, asook verskeie ander onderhoude wat insig bied aangaande die skrywer se eie siening van sy werk en gesprekke oor die verhouding tussen poësie, aktivisme en politiek by Breytenbach wat vir studente ʼn belangrike bron van navorsing is. Oor Breytenbach se veelbesproke opstel “De Afrikaner als Afrikaan” word noukeurig besin. Die kern van dié opstel is die soeke na identiteit en bespiegelinge oor die baster as hibriede of gekreoliseerde wese en die subjek se lewe in die liminale sone na aanleiding van studies deur onder andere Van Gennep en Turner. Hierdie teorieë bied steeds ʼn interessante invalshoek vir die bestudering van rewolusies, verandering en rites de passage wat een van die belangrikste temas in Breytenbach se werk is. In die tiende opstel bepleit T’Sjoen ʼn ondersoek van transnasionale invloedestudies aan die hand van Breytenbach, Krog en Claus se werk. Die laaste essay in die eerste afdeling handel oor die werk wat reeds gedoen is om Breytenbach se Gorée-gedigte te analiseer – ʼn studie oor die herverbeelding van Afrika in Breytenbach se werk.

Die tweede afdeling van die boek fokus op meertaligheid en bevat vier langer essays. Daar word bespiegel oor die heftigheid van die taaldebat in Suid-Afrika, ʼn land wat, ironies genoeg, baie oënskynlik belangriker sosiale probleme as taalonderdrukking beleef. Die taaldebat by Hoëronderwysinstellings toon, aldus die skrywer, dié paradoks dat daar van bo af druk uitgeoefen word om Afrikaans af te skaal, terwyl daar in werklikheid baie geleentheid bestaan vir Afrikaanssprekendes om gehoor te word. Ook is daar verskeie instellings wat die bevordering van Afrikaans fasiliteer. Dié eksistensiële paradoks het tot dusver nog min aandag onder akademici geniet en bied beslis stof vir navorsing.

Die opstel “Meertalig burgerschap” is ʼn interessante opstel waarin die standpunt van Antjie Krog oor sentrum en sentrering bespreek word na aanleiding van die insigte van die Keniaanse akademikus Ngũgĩ wa Thiong’o wat ten gunste is daarvan dat wêreldliteratuur bestudeer word vanuit ʼn Afrika-kultuur. Krog skryf:

“We all radiate outwards and discover peoples and worlds around us through our mother tongues. All other things are to be considered in their relevance to our situation and their contribution towards understanding ourselves. In suggesting this we are not rejecting English, we are only clearly mapping out the directions and perspectives the study of languages, cultures and literatures could inevitably take.”

Ook hierdie invalshoek kan navorsing oor moedertaal en multikulturele denke positief bestuif.

Een van die ander twee opstelle in die tweede afdeling handel oor die Pan-Afrikaanse Gorée-instituut wat in 2022 sy 30-jarige bestaan gevier het. Die laaste opstel in dié afdeling bevat belangrike insigte van onder andere Ronelda Kamfer oor haar ontvangs deur wit middelklas Afrikaners en haar standpunte oor die fata morgana van die veelgeprese diversiteitsdiskoers. Sy verset haar teen die lees van haar poësie as deel van die wit Afrikaanse letterkunde en teen polities korrekte optrede van witmense. Sy wil met haar poësie juis skok en bevraagteken en as’t ware die kat tussen die hoenders gooi sodat heeltemal nuwe benaderinge ten opsigte van kulturele verskille op die tafel geplaas kan word.

Afdeling 3 bestaan uit drie opstelle oor Claus, de Coninck en Krog. Die eerste van dié opstelle bevat ʼn bespreking van Hugo Claus se verhouding met Afrikaanse skrywers en die resepsie van sy werk in die kanon van die Afrikaanse letterkunde. In die opstel oor Herman de Coninck word briewe van dié skrywer aan Antjie Krog en Daniel Hugo bespreek. Die laaste opstel handel oor abjeksie, grensoorskryding en die oortreding van taboes in die werk van Antjie Krog waardeur sy ongemaklikhede oopskryf, stereotiperings afbreek en lesers uit hulle gemaksones wil uitdwing. Deur haar toe-eiening van “manlike” tipes beeldspraak neem sy stelling in teen stereotipering van die vrou en die beperkinge wat vroue binne ʼn patriargale samelewing ondervind.

Hoewel hierdie boek getipeer word as ʼn “werkskrif” en die essays as “spore van ondersoeke” (sien agterblad), bevat dit belangrike rigtingwysers vir toekomstige navorsing, onder andere deur verwysing na talryke nuttige bronne. Diegene wat navorsingsvoorstelle wil indien vir verdere studie kan deur dié boek geïnspireer en gelei word en navorsers oor Breytenbach en multikulturele bestuiwing tussen die Nederlandstalige letterkunde en Afrikaans sal hierin ook belangrike insigte en rigtingwysers vind. As geheel ʼn veelfasettige akademiese bundel!

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. vlinderslag
  • Anne-Marie Bartie. bewys van betaling
  • Marius Crous. Twee mombakkiesliedjies
  • Carla Botha. Lesse in Wêreldreise
  • Stephan du Toit. Moed

Nuutste bydraes

  • Joan Hambidge. Eerste sneeu
  • johan swanepoel. tafel vir een
  • Resensie: Steierwerk  deur Johan Myburgh
  • AVBOB Persverklaring
  • Wat lees jy? Living the ultimate carnivore lifestyle (Hendrik Marais)

Nuutste kommentaar

  1. Joan Hambidge on Joan Hambidge. Sheila Cussons en Borges11 August 2026

    Dank. Albei is wonderbaarlike digters. Ek lees nou weer die hele Cussons en hoe sy Neruda en Borges vir ons…

  2. Mirinda on Krige Visser. lykskou10 August 2026

    Iets wat mens nooit sal vergeet nie....veral wanneer so jonk en sensitief...en die reuke sal mens altyd bybly...

  3. Eugene Vorster on Joan Hambidge. Sheila Cussons en Borges10 August 2026

    Beste Professor Hambidge, baie dankie vir hierdie boeiende artikel. Dit inspireer ‘n mens om verder oor Borges & Cussons te…

  4. Dr PS Swathe on Resensie: “Krap – oop toe om rond uitkrap” (Koos de Wet)6 August 2026

    Naledi, wat het hier gebeur ??

  5. Hester Steenkamp on Digtersprofiel: Melt Myburgh3 August 2026

    Oewerbestaan is een van my kosbaarste besittings. Die bundel lê my baie na aan die hart.

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d