Ek sal sterf en na die sterre gaan*
ek sal sterf en na my vader gaan
Waterkloof toe met sandale
vleuelvoet soos ’n pelgrim
waar die strate pers dwaalsterre is
waar Orion se krygers waak oor die nag
en dwerge vuurvlieë soek in die tuin,
ek sal sterf en met nét ’n rugsak
in Rigellaan stap
die steiltes van Waterkloof oor
tussen die heinings en die lamppale deur
en na my vader gaan:
die maan sal oor Pleiades waak
die bome se weemoed die huise laat sug
en ons sal die ouvaderklok herken
wat die pas van ons lewens markeer
ons sal whisky drink op die boonste balkon
– die ouman drink Bells –
en oor die vlug van komete praat
vriende, medewiggelaars,
moenie opkyk nie; nou hang ons asems
nog soos rook oor ons koppe
maar die dood het skaam geword;
ons vrees en ons hoop
is soos planete wat sterf so
soos die stem van ’n ouman
soos ons vrees en ons hoop:
ons asems sal die ewigheid ken
kom saam
in my uitvaart na die huis van my vader
Waterkloof toe waar die ouvolk
die strate na die sterre vernoem
laat ons weggaan en sterf en stil wees:
my vader het ’n groot klinkerhuis
* ’n Pastiche op ’n vers van Breyten Breytenbach
© Mellet Moll, 2023