in ’n slapende land*
hoe vaak is ons nou tussen ligte wat doof
die reuk van bleikmiddel en van formalien
die lakens is wit want jou oë is toe
die verlatenheid van die nag
en die maan wroeg buite êrens
buite jou
jou asem vergaan soos dae op ’n trein
’n tas, ’n bybel, ’n glas water, dié gedig,
ek wou my hande op jou lê
ek wou jou balsem met die helende krag
van ons jong dae
geen swaan sing so mooi
soos die stil geluid van jou sterfgang nie
en jou eensame hande
ek wou daardie eensaamheid met jou deel
sodat jou oë oop mag gaan
soos ’n ster wat flits
oor ’n slapende wêreld
vol uile en die sluier van wolke
en waar die sterwendes nog op ’n stasie wag
en die maan ’n nagwaak wat bid teen die slaap
en dan wou ek hê dat jy saam met my treur
en jou verlore kyk
my trane van was oor jou wange
jou wese so ’n brose kers
’n lantern dof in jou oë
hoe stil is ons angs
waar net verlate pelgrims nog roer
alleen sonder jou moet ek myself verloor
sonder jou alleen het ek wakker geword
in ’n slapende land
* ’n Pastiche op ’n vers van Breyten Breytenbach
© Mellet Moll, 2023