Tradisionele boerelied. Liedvertaling uit Duits in Afrikaans. Vert. deur Bernard Odendaal
ʼn Trotse onafhanklikheidslied van ʼn sewentiende-eeuse Duitse leenboer
Die Duitse Folk-Revival as eweknie van die Liedermacher-beweging is baie interessant. Dit het in die middel-sewentigerjare van die vorige eeu ’n hoogtepunt bereik, net toe die Musiek-en-liriekbeweging hier in Suid-Afrika op dreef gekom het.
Daar word selfs gepraat van ’n “Volksliedwelle”, ’n volksliedgolf, wat die Duitse musiektoneel getref het – wat ’n mens weer laat dink aan die wyse waarop talle FAK-liedjies in die afgelope dekades deur Afrikaanse ligtemusiekkunstenaars ’n nuwe baadjie aangetrek en weer gewild gemaak is.
Nog meer as voorheen het van die Liedermacher hulle doer in die 1970’s met die Duitse volksliedskat van die verlede bemoei. ’n Groep wat groot sukses hiermee behaal het, en wat soms honderdduisende van hulle plate verkoop het, was “Zupfgeigenhansel” (wat iets beteken soos “kitaar-op-die-rug-draende gelukbringer”), ’n duo waarvan Thomas Friz, toonsetter van die voorheen bespreekte lied “Herinnering aan Sapounakaíika”, ’n lid was.
Zupfgeigenhansel het hulle dit veral ten doel gestel om volksliedere met ’n sogenaamde “demokratiese karakter” na te vors, dit deels van eie melodieë te voorsien en weer populêr te maak. Dit moes as teenvoeter dien vir die stroperige volksliedere wat deur populêre Duitse sangers soos Heino en Udo Jürgens gewild gemaak is.
Wat word bedoel met volksliedere met ’n “demokratiese karakter”? Sulke liedere gaan oor die lewe van “eenvoudige” mense in die vorige eeue – hulle liefdes, nood en waagmoed, hulle ondernemingsgees, die trots van vrye geeste wat hulle verset het teen owerhede, teen pouse en militêre maggrypers. Ongeveer so iets.
Zupfgeigenhansel se opnames is vandag nog, lank nadat die duo Erich Schmeckenbecher en Thomas Friz uiteengegaan het, baie gewild by die Duitse publiek. Hulle CD’s met Duitse volksliedere, Jiddisje liedere en getoonsette tekste van onder meer Theodor Kramer word nog telkens herdruk.
“Ich bin ein freyer Bauren-Knecht” is ’n boerelied uit die sewentiende eeu (vandaar sekere tans ongewone spelwyses). Die feodale stelsel het toe nog in Europa gegeld. Adelike “leenhere” het grond aan “leenmanne” (boere of boereknegte) toegestaan om op te boer – onderworpe aan bindende diensteafsprake (trou aan die leenheer, byvoorbeeld by wyse van beskikbaarheid tot krygsdiens; deel van opbrengste met die leenheer; belastings). Dié lied bruis egter van energieke selftrots en onafhanklikheid.
Ich bin ein freyer Bauren-Knecht
Ich bin ein freyer Bauren-Knecht.
Ob mein Stand gleich ist immer schlecht,
so acht ich mich doch eben so gut
als einer der am Hofe tut.
Rall di ralla – ich bin noch mein eigen,
darf mich vor keinem bücken noch neigen
Trag ich gleich einen Biberhut,
so ist sein rauher Filz mir gut.
Darauf einen grünen Busch gelegt,
so wohl als eure Feder steht.
Rall di ralla – ich tu es nicht achten,
obschon die Hofleut’ spöttisch drauf lachten.
Trag ich nicht lange krause Haar
und Pulver drein, das Geld ich spar.
Den Staub vom Lande weht der Wind
des Sommers in meine Haar geschwind.
Rall di ralla – drum geh ich gestutzet,
Obschon mein Haar ist morgen ’burzelt.
Ich hab auch keinen Rittersitz,
bin nicht beredt, voll ist mein Witz.
So hab ich doch ein Baurengut,
bin frisch und fröhlich doch von Mut.
Rall di ralla – bin darauf beflissen,
was einem Bauren dienet zu wissen.
Ich bin gar selten krank von Leib,
das macht, daß ich den Pflug oft treib.
Jener aber säuft und frißt,
das macht, daß er so gram noch ist.
Rall di ralla – bin frischer daneben
als jene, die am Hofe stets leben.
Was bildet sich der Hofmann ein,
daß er als ich will besser sein?
Adam ackert’ und Eva spann:
Wer war damals ein Edelmann?
Rall di ralla – ich leb alle Morgen
sicher und frei von allen Sorgen.
- Teks en toonsetting: tradisioneel (oopgeneem op Zupfgeigenhansel se langspeelplaat Volkslieder II, Verlag: ‘pläne’ GmbH, 1977; te beluister by die volgende internetskakel: https://www.youtube.com/watch?v=Wmght8O-PfM)
***
Ek is ’n boerklong sonder baas
Ek is ’n boerklong sonder baas.
Sommige reken: onderklas.
Tog kies ek eerder eerlik se grof
as die ge-adel aan die hof.
Tra-li-da-ra, ek hoef nie te veins nie;
hoef nie te kruip, al is dit verfynd nie.
’n Opslaankeil is swierbolgoed;
my rouvilthoed pryk net so goed.
Ek speld ’n veldplant daaraan vas
wat ewe pronkveer daarby pas.
Tra-li-da-ra, ek steur my nou wragtie
nie aan die hofspul wat vir my lag nie.
Poeier op lokke, fyn gekrul,
is volgens my ’n geldmorsspul.
Die aarde jaag sy stof met wind
die haardos in van boer se kind.
Tra-li-da-ra, voorkom ’n geworstel:
Hou kort die kapsel, én geborsel.
As ridder veg, kos straks jou kop;
ek hou my varkies liefs op hok.
Vergeet ook nie: Hier op die plaas
is op-en-wakker-ek die baas.
Tra-li-da-ra, ek spits liefs die aandag
toe op wat boerkind síén is verstandig.
Aan kwinte en kwale ly ek skaars;
ek hou die ploegstert stewig vas.
Maar daardie hofspul bras en fuif
dat hulle futloos word van lyf.
Tra-li-da-ra, ek voel aldeur sterker;
die weelde, egter, laat húlle verslegter.
Aan hoflui wat op aansien steun
geërf, glo, oor geslagte heen:
Toe Adam saai en Eva spin –
so ’t bóéreadel mos begin!
Tra-li-da-ra, ek voel my geborge,
leef voluit, vry en sonder sorge.
