“En slegs ‘dit’ is die ‘gedig’. Kyk na die dit wat op die vel papier groei (die swam, die parasiet)” – Breyten Breytenbach
Inleidende opmerkings met betrekking tot NP Van Wyk Louw se Tristia
Die digter besluit om iets te maak en dan word daar in die skeppingsdaad iets vrygestel wat groter is as dit wat hy in die eerste plek daar wou stel óf wou (probeer) skep. Die gedig skep homself. Hy breek los uit die hande van die skepper soos die “Beiteltjie” wat lankal nie meer in die hand van Van Wyk-Louw is nie máár ten tyde van die lees-handeling alreeds: “dwarsdeur die sterre loop.” Wat begin het as ʼn moment om die aard van die digkuns te probeer omskryf, loop uit op sterre.
Die geheel kan net só wees as gevolg van dit wat nie gesê kan word nie. Dalk moet ons déúr woorde na die eenvoudigste dinge kyk, en die stilte saam met die woorde lees. Die gedig dan, is ‘vorm’ vir die onsêbare, soos mens in die dieper grondlae soms die spore kry, die indrukke, van klein efemere dingetjies en diertjies wat in die oertyd daar versteen geraak het, vergaan het en net die ‘ekstrak’ agtergelaat het.
Of anders gesien: dink aan ʼn wind; dit wat ons wil vaslê, die essensiële, is die wind, maar al wat ons kan sien en beskryf is die boom– [Breytenbach 1973: xii].
ʼn Goeie voorbeeld van ars poetica is te vinde in Magmoed Darwiesj se gedig Poëtiese Regulasies. In sekere Engels vertaalde weergawes van dié gedig is die titel dan ook Poetic Regulations/Ars Poetica. Darwiesj beskryf presies wat die gedig is en waarmee die gedig ons kan toerus:
Die gedig is ‘daar bo’:
Sy kan my wysmaak net wat sy wil.
Sy kan my leer om ʼn venster oop te maak –
om tussen legendes ʼn huishouding te bestuur –
sy kan my – vir ʼn rukkie – in eg verbind met myself
en dan voorts:
Die gedig is nie hier of daar nie.
Hy kan nagte verlig met ʼn meisie se boesem –
met die gloed van ʼn appel
vol-tooi hy twee liggame met lig –
met die katjiepiering se asem
kan hy ʼn vaderland laat herleef!
Met die gevolgtrekking, aldus dié gedig, dat ek (die leser of digter) keer op keer met: “Wie ís ek?” – gekonfronteer word [Darwiesj 2021:132].
Ampie Coetzee wys daarop dat die digter se konsekwente bevraagtekening van die krag en die tekortkominge van sy ambag veral gereflekteer word in NP van Wyk Louw se: Tristia. Die “ars poetica” van hierdie bundel sê: aangesien dit vir die digter onmoontlik is om te skep soos God in die begin, is dit slegs die digter se taak om te reflekteer oor, te praat “in ná-geskape skeppinge” – in woorde wat “maar klank en teken is” (Coetzee 2003:22) (met betrekking tot dieselfde gedig, Ars Poetica, wat bespreek is deur Joan Hambidge in haar opstel: Die ars poetica deel 1 soos verskyn op dié webwerf). Ek haal die laaste strofe van die gedig aan:
Maar: omdat geen fluit voorhande is nie,
moet ons in die weefsels van
(o) van ons dink-histologie
soek: om lug en kraakbeen,
brein-sel, vleis en slymvlies
sonder slymerigheid van ons histories-
en geweefde denke te bespie;
sódat en ópdat ons in woorde, wat
maar klank en teken is,
in ná-geskape skeppinge
die skepping van die god
déúr-dink, déúr-praat.
(Van Wyk Louw 1962:35)
Die gedigte in Tristia (1962) word ʼn soeke na die digterlike self aan hand van die “aktiewe woord” wat nie verstaan kan word sonder dat dit gepaard gaan met ʼn vergelykende ondersoek van die digter se menslike- en tekortkomende aard in vergeleke met die volmaakte goddelike aard nie. Die bundel is deurspek met besinnings oor die digterlike woord en Van Wyk Louw gee duidelike riglyne oor die aard van gedig-maak:
Die groot Tempel, die aktiewe Woord
wat alles geskape het, wat oor die hele
aardryk heers en die son ópgerig hou…
…met tonge vol van tale; dié Woord
vol bybetekenisse en bowe-tone,
té vol vir bloot net beteken of betekenis
(Van Wyk Louw 1962: 60)
Daar sal wel duisend jaar verbygaan voordat fyn dink
weer geweet, gesê sal word. Die taal-self
sal masjien word om meel uit te maal,
en linne en staalmoere;
(Van Wyk Louw 1962:92)
Die digter wat ‘dink’ aldus die Ars Poetica–gedig:
(o) van ons dink-histologie
soek: om lug en kraakbeen,
brein-sel, vleis en slymvlies
kry ʼn uiteinde in die Groot Ode wanneer die ‘slymvlies’-beeld teruggekeer:
die greep van die sien lê,
of van die bedink. Denke is listig:
gesmeer oor die kraakbeen vir slymvlies.
(Van Wyk Louw 1962:130)
om tot die gevolgtrekking te kom dat selfs die digterlike woord nie kan opstaan teen, óf verstaan kan word sonder, die goddelike woord én Wese nie:
Ons durf geen gode voor Dié Aangesig
aanbid nie; óf: láát aanbid-word, nie.
Dít, dít, ten minste, wéét ons – bly ons weet.
Hy is ʼn vinger, hand, of handgebaar,
of hand-om-keer. Dit is my woorde.
Sy woorde laat super-novae uitbars, blink,
blink en straal deur ringe en lig-ure.
Maar die blink die word deur óns gesien:
anders nooit en nooit as blink geweet nie.
(Van Wyk Louw 1962:131)
Ars Poetica – Die Huis van die Dowe
In sy bespreking oor die openingsgedig, drome is ook wonde, van Breytenbach se Die Huis van die Dowe (1967) dui Ampie Coetzee op ʼn onderskeid tussen die ‘suiwer’ soort ars poetica waarin poësieteorie soos wat in Alexander Pope se Essay on Criticism voorkom en die ars poetica soos gebruik in drome is ook wonde. Coetzee dui aan: “Die gedig (met verwysing na drome is ook wonde) is nie oor poësie en wat dit moet poog om te doen nie; dit is ’n presentasie, ’n voorstelling, van wat die gedig wil doen. Die poëtika daarvan is die representasie daarvan. Die proses van lees is daarom ook ’n proses van die konstruksie van betekenis, of van herskryf” (Coetzee 2013:23). Coetzee verduidelik hoe Breytenbach van gemetaforiseerde beelde gebruik maak binne die betekenaar-betekende verhouding om die betekende te noop om ‘inhoud’ aan die gedig te gee – daar word na die ‘inhoud’ as die meesterteks of die meestergedig verwys – in ʼn poging om die onrepresenteerbare voor te stel en/of oor te dra (Coetzee 2013: 37ev). Die (ars) poëtiese elemente van dié gedig lê opgesluit in “die reflektering van die tegniek van die ‘meestergedig’ en kan die ‘gedig’ selfs tot ’n mate gesien word as ’n parodie van die hoofgedig; of selfs: ’n parodie op die ideaal van die ‘betekenis’ van “poësie” self’” (Coetzee 2013: 34). Ek haal ʼn paar versreëls uit die ‘hoofgedig’ aan:
drome is ook wonde
elke droom skryf so sy klein, geheime briewe
soggens soek ons die rofies ink in die spieël
om dit weg te kan bêre in argiewe
maar die wonde genees nie
die donkerste bloed bly blom
boorde van revolusies oor die laken
of die borreling van liefde in tuine
van wonde wat nie genees nie
selfs die dowe mag drome droom
soos die malle sy briewe mag fluister
en die blinde na die wind mag kyk
die pyn kneus ons alles ’n inniger kleur –
hoe groen was die voëls in die tuine
van my jeug, hoe ryp geverf was die son
en die sneeu genees nie
die wêreld is ’n vors ryk aan mense
die mense is konings ryk aan bome
van vrees of van haat, of bome van verlange
wat die drome nie genees nie
want híér is ons enigste ewige paradys –
ons is ryk soos die visser ryk is
as hy sy laaste eiers sorteer en tel
en die vis terug gee aan die see,
om te kan praat soos eiers kan praat
om te sing soos golwe so lankal bloei
van bloed wat nooit genees nie
die soldate het oë soos ertjies
die boere het hande van grond
en almal droom boodskappe en wêrelde
vol blomme wat nie kan genees nie
daar kom selfs ʼn papegaai in die gedig, ʼn geel papegaai
wat sy griewe kom lug van strofe
tot reël met die klag in sy tong se swart seile …
sodat sy lied nie genees nie.
(Breytenbach 1967:7)
Soos in Tristia (1962) kom die digter se bespiegeling oor sy digtersambag ook voor in Breytenbach se Die Huis van Dowe (1967). Sien die gefragmenteerde Ars Poetica (1967:77) maar ook die gedig Hardlywigheid (1967:75) wat begin met die stelling: “Want alle ware digkuns is wreed / dit is nie spreeu nie”.
Die beste voorbeeld van ars poetica in dié bundel kom myns insiens egter voor in die drieluik gedigtereeks: hoe om ʼn gedig te skryf onder vrugteboom in die reën (70); ek skryf ʼn gedig onder vrugteboom in die reën (72) en die gedig onder vrugteboom in die reën (74) (“die reeks”) wat in ʼn sekere mate herhalende variante is van mekaar. Vir die doeleindes van my bespreking word dié gedigte volledig aan die einde van hierdie opstel aangehaal.
In die reeks word daar nie net duidelike riglyne oor die dig- en skryfproses van ʼn gedig gegee nie, maar weereens word daar terselfdertyd kommentaar gelewer op die betekenaar-betekende verhouding (en dan ook die teken(s) én die gedig). Dit is ʼn proses waarby die leser outomaties betrek word om – in wese – soos hierbo aangedui met betrekking tot Coetzee se bespreking van drome is ook wonde – die gedigte te herskryf.
Die eerste gedig in die reeks verduidelik die aanloop tot die skryfhandeling. Die proses waarin daar inspirasie gevind word vir die skryfdaad beginnende met die frase: baie elemente moet aanwesig wees voor jy oor kan gaan / tot die skryf (reëls 1 en 2). Die digter lys dan hierdie elemente of omstandighede met die refrein in die laaste versreël van meeste van die strofes (dat) dis die tekens van die groei (reëls 14, 19, 23, 28). Nie net word die aanloop tot die skryfhandeling gelykgestel aan die groei van ʼn vrugteboom nie, maar daar word ook kommentaar gelewer op die feit dat die proses van skryf baie vroeër begin as wanneer die digter sy pen optel. Soos in drome is ook wonde is die gedig metafoorryk: die bloed van gister (reël 10) bedoelende dat in die aanloop tot die skryfdaad moet herinnering geraadpleeg word, en voorts, as jou papier waterdig is jou ink vol moed (reël 46) om nog ʼn voorbeeld van beeldspraak te noem.
Baie van die elemente wat deur die digter vermeld word in dié gedig (gedig een in die reeks) is aspekte wat in die natuur aanwesig is (of moet wees) wat dan uiteraard kan meehelp met die nodige inspirasie vir die ‘pleging van die skryf’: die wurms, die kluite en kleinhuisies, ooptes in die lug, die wit, blou en (self) rooi wolke, die bloeisels, die wilde-eend, die donkie, die reëndruppels. Hierdie aspekte (of riglyne om oor te gaan tot die skryfdaad) kom ooreen met die volgende paar reëls uit deel I van Alexander Pope se An Essay on Criticism waarin verduidelik word hoe die natuur meehelp in die proses van gedig-maak:
First follow nature and your judgment frame
By her just standard, which is still the same.
Unerring nature still divinely bright,
One clear, unchanged and universal light,
Life force and beauty, must to all impart,
At once the source and end and test of art
Art from that fund each just supply provides,
Works without show and without pomp presides
In some fair body thus the informing soul
With spirits feeds, with vigor fills the whole,
Each motion guides and every nerve sustains,
Itself unseen, but in the effects remains.
Tweede gedig in die reeks omskryf die skryfdaad. Die inleidende frase van die eerste gedig word nou verander na: baie elemente moet aanwesig wees in die skryf / tot die skryf ook: (reëls 1 en 2). Die frase beteken dat die digter (deur die elemente soos uiteengesit in gedig 1) en dit wat geskryf (of dan ge-dig) moet word, vervloei – hulle moet oplos in mekaar – vir die skryfdaad om ‘gepleeg’ te word. Hulle moet eenword. Sien in dié opsig die volgende frases in dié gedig: is dit mens wat blaar en bas moet word (reël 11); om ʼn gedig te skryf is mens-in-vrug (reël 19); en elemente moet opgelos word in die skryf (reël 32). Dit beteken die ‘landskap’ of die tekens (in gedig 1); ‘die skryf’, synde die skryfdaad – wat die gedig self insluit – én die digter moet eenword: met ʼn uiteinde dat die digter (self) dan net ʼn instrument in die skryfdaad word. Dit is dan in werklikheid die gedig wat homself skryf. Die gedig word ʼn wriemelende dier wat in vegetaal verpak moet word (reël 6). Hy kry ʼn lewe van sy eie. Hy word organisme. Hierdie konsep van vervloeiing kom ooreen met wat Marilet Sienaert aandui met betrekking tot Breytenbach se skilder- en digkuns:
Similarly the act of painting or writing is at once the approximation (or reflection) of reality and the energy that brings it into being. It ideally embodies a single process through which the subject-object dichotomy of artist (or observer) and image dissolves (Sienaert 1993: 34).
Die tweede gedig in die reeks (maak soos die eerste een) deel uit van ʼn ingewikkelde sisteem van ars poetica. In dié gedig word daar steeds kommentaar gelewer oor die digterlike ambag. [waar die brein breinstorms kry] (reël 18) kom ooreen met Van Wyk Louw se ‘kraakbeen vir die slymvlies’ en vergelyk ook hierna sal alles heiliger [nou nader] groei (reël 44) met die konsep van ‘heiligheid’ met betrekking tot die skryfdaad in Groot Ode (1962:123ev).
Die moeite en moeilikhede wat met die skryfdaad gepaard gaan word gesien in: dis die lastige jambes wat nie wil sofistikeer (reël 37) maar ook die wyse waarop daar uiting gegee kan word aan wat die ‘landskap’ tot gevolg het: dat elke sillabe skimp op die spesmaas van ʼn gevoelsbegrip (reël 42). En dan ook weereens die ooreenkoms met die eerste gedig in die reeks dat die skryfdaad gelykgestel word aan die groei van die vrugteboom: woorde vloei ineen/skiet harige worteltjies af oor die blad (reël 57 en 58) én: soos die groei van ʼn vrug / van bloeisel tot saad (reël 4 en 5). Dit beteken beide die ‘aanloop-tot-die-skryf’ (in gedig een) en die ‘skryf’ (in gedig twee) en – soos gesien sal word – ‘die uiteinde-van-die-skryf’ (in gedig drie) ʼn konstante toestand van groei of transformasie is. Dít eggo antieke Oosterse filosofie in terme waarvan die mens deelneem in die konstante en opeenvolgende skepping van ʼn heelal waarvan/waarin voltooiing alreeds bereik is, en in terme waarvan die gedig ʼn lewe van sy eie kry (sien Sienaert 1993:18 en 24, 26).
Die derde gedig in die reeks is dan poëtisering van ‘die gedig’. In wese is dié gedig, ʼn gedig binne die raamwerk van ʼn gedig waarin daar kommentaar gelewer word op die ‘skrywe’ wat deur fase een en fase twee tot stand gebring is. ʼn Variant van reël 1 en 2 van die eerste twee gedigte in die reeks word nou die opdrag of motto van dié gedig: [baie elemente moet groei uit die skryf]. Uit hierdie opdrag word regverdiging gevind vir wat hierbo aangedui is met betrekking tot die feit dat die betekende/leser aan hand van die elemente van dié gedig (maar ook die reeks) die gedig kan/moet ‘herskryf’. Sien ook hoe die digter rondspeel met die idiomatiese frase ‘die duiwel is in die detail.’ Gedig een in die reeks verduidelik hoe dat baie elemente aanwesig moet wees: voordat mens die prentjie van die duiwel kan inkleur (reël 4). In gedig drie word die frase egter: [Die satan is ʼn digter – / hom kan ek verstaan:..] (reëls 1 en 2) wat myns insiens verwys na alle detail wat uit die elemente van ál drie gedigte ‘gegroei’ het, met die gevolg dat die leser nou, effektiewelik, kan meehelp met die rekonstruksie/dekonstruksie van die gedig. Die leser gebruik die ‘detail’ om die gedig ‘in te kleur’.
Dit is ʼn proses waarin alle detail wat neergelê is deur die digter, en ook dit wat die digter van homself gegee het in die proses van gedigmaak, deur die betekende/leser aan hand van sy milieu (en ook sy ervaring dáárvan) ‘gebruik word’ om die gedig te skep met die uiteinde dat die skeiding tussen die teenoorgesteldes, synde die digter (die Ek) en die leser (die Ander) opgehef word (sien Sienaert 1993:37). Wat dan duidelik blyk uit die versreëls waarmee die reeks afgesluit word: [Want ek is hier en baie woorde is hier / en ons lê almal op hierdie b(l)aadjie] (reëls 25 en 26). Die ‘ons’ wat op die b(l)aadjie lê is die tekens/beelde én digter én die gedig, maar ook die leser.
Dit is welbekend dat Breytenbach die eienskap van sy poësie in verband bring met Jacques Derrida se taalfilosofie om moontlik sý (Derrida se) opvattings oor taal en dekonstruksie prakties te illustreer (Odendaal 2011: 296). Die onder-die-vrugteboom-reeks is in wese variante of herhalings van mekaar waarin die leser uitgelok word om die gedetailleerde beelde en beeldspraak te ondersoek; en te gebruik; om sodoende self skepper te word van die gedigte in die reeks. Dit is ʼn vorm van aktiewe dekonstruksie. Vergelyk wat die reeks van gedigte oordra en tot stand bring met inbegrepe die volgende aanhaling oor dekonstruksie:
There are various ways of defining or rather, describing the operations of deconstruction: one of which is passive and the other is active. Both however, subscribe towards the alteration or the parasitism in which the contamination of the text is implied, for in a passive deconstruction, the “reader” merely applies the content of his or her bias in accordance to the structure of the text itself. The active variant of deconstruction, on the other hand, is a teasing out of contradictions within the interplay of the text of an author’s work and its claims of presence; in seeing these contradictions within the text, the “reader” (or more fittingly, the writer) inserts his or her criticisms and alterations of the work, radically altering the text within its own enclosures and within the limits of the “reader’s” understanding of the text. (Pada 2007:33)
Die reeks illustreer dus nie nét digterlike ambag nie, dit lewer óók kommentaar op die skryf- en leesproses en dui terselfdertyd op die werking (en is ook ʼn vorm) van dekonstruksie. Dit is ʼn soort ars poetica wat ʼn groter trefwydte het as die konvensionele wyse waarop daar besin word oor die digkuns en digterlike ambag. Dit lei tot ʼn proses waarby die leser aktief betrek word.
hoe om ʼn gedig te skryf onder vrugteboom in die reën
- baie elemente moet aanwesig wees voor jy oor kan gaan
- tot die skryf
- en die beskrywing van die elemente –
- voordat mens die prentjie van die duiwel kan inkleur
- met die skakerings die kleure van ink
- om dan jou nagte te verwyl in ʼn glipperige swart gestoei
- baie formules kom onder die tong
- span die bloedbevlekte sakdoek styf oor die kop
- met ʼn knoop waar die graat in die skedel duik
- die bloed van gisters
- ʼn vinger wat geënt is ʼn neus wat lewe wou skink
- en die kroon wou span
- >ons skilder ons Maandae en Dinsdae in bloed< – Majakovski
- dis die tekens van die groei
- trek die rooi onderhemp aan
- die vlag van werkersopstande oor die puisierige bo-lyf
- die rooi wat die blanje van blou moet skei
- veruiterliking en uiting van wat die hart en longe berei
- dis tekens van die groei
- smeer die baard in met vet
- dat niks die ragblink draadjiegang van speeksel
- mag belemmer nie
- dis tekens van die groei
- die tone moet koud wees
- want dood begin eers by die voete
- om dan in die pragtige blom van verwoesting
- koud in die kopbeen onder die sakdoekvlies te bars
- dis tekens van die groei
- rondom jou lê die vermorselde wurms
- die aarde wag vir speeksel en bloed
- wat poreuser sal byt as die vermorselde wurms
- soek na die reuk van kluite en kleinhuisies
- heiliger [dus ménser] is die groei se geveg
- om tekens te groei teen verderf
- daar moet ʼn wind wees
- en ooptes in die lug
- die wit wat die blou van die rooi wolke dryf
- en reënwater moet tros aan die vetgesmeerde takke
- waar bloeisels met die uitgedopte tongetjies hang
- dis samehangendheid en stuiptrekkings van groei
- wag dan net vir die aaklige klag van die wilde-eend
- as hy vlieg tussen balk en balk van die donkie
- gevleuelde groeisel
- reëndruppel vol bloed
- trompetterkrete wat die sap deur jou hande sal stoot
- en as die papier waterdig is jou ink vol moed
- sal jou penne begin bewe
- in die bries
- en so sal jou aardse vye woorde dra
ek skryf ʼn gedig onder vrugteboom in die reën
- baie elemente moet aanwesig wees in die skryf
- tot die skryf ook:
- die proses is ingewikkeld
- soos die groei van ʼn vrug
- van bloeisel tot saad
- die wriemelende dier vegetaal verpak
- [ek was altyd té behep met plantegroei –
- van wat die appel sê
- hóé die bloeisel se beentjie knak
- as hy groei van botsel tot vrug –
- is dit mens wat blaar en bas moet word
- en so die pyn van rede verstar?
- maar vorm is pyn
- en blomme het sapsekrerende tandvleise].
- hier hang ek onder die vrugteboom
- en skuil teen die reën
- met ʼn bloederige sakdoek nog styf oor my hare
- [waar die brein breinstorms kry]
- om gedig te skryf is mens-in-vrug
- net wat stil is redeneer geheimsinnig genoeg
- ʼn rooi frokkie kleef aan my borste
- dis die spreekwoord voor die bul
- ook sintetiese groeisap
- katoen en vegetale kleurstowwe wat bloedweefsels moet wees
- soos die woordjie pyn moet dril
- en ʼn gedig die waarheid moet praat
- [en net tot omstandige waarheid spreek, soms]
- my baard blink van die vet
- die stink moet uit alles moet wegval
- en sonder vatplek in die aarde sink
- dis die duiwemis wat die vrug sy gehalte gaan gee
- en elemente moet opgelos word in die skryf
- my tone is koud
- hy wat langbeen onder ʼn kweperboom sit
- verdiep in die moes van vallende bevrugting
- sal vind dat bedekking en skuiling tekort skiet
- dis die lastige jambes wat nie wil sofistikeer nie
- en oral om my lê die landskap te dein
- vermorste wurms is doof vir liefde en bekering
- maar die reën val soos oop mondjies
- in die grond
- dat elke sillabe skimp op die spesmaas van ʼn gevoelsbegrip
- ʼn reëndag ruik altyd na klei en latrines
- hierna sal alles heiliger [nou nader] groei
- ʼn winderige wind waai ooptes in die lug
- sodat mens die nattigheid kan sien
- waar dit straal
- deur kleefnat frokkies van wolk
- en ʼn groot geloei die bome ruk
- ʼn wilde-eend skrik op en vlug
- met tongetjie styf in die oopgesperde snater
- sodat die donkie verras teen die bulte galop
- die reënvlae word donkerder
- reëndruppels swaarder
- pregnansie slaan die bloeisels pap
- my vingers bewe nog
- woorde vloei ineen
- skiet harige worteltjies af oor die blad
- so is dit, ek dik nie aan
die gedig onder vrugteboom in die reën
[baie elemente moet groei uit die skryf]
- [Die satan is ʼn digter –
- hom kan ek verstaan:
- die kruipende en blinkvet menselyf wat verlei,
- paai en troos
- probeer verlyf]
- In die skemer onder die beskutting
- van ʼn wilde mispelboom
- sit ʼn man bekroon met wit borslap
- denkbeeldige denke slaan uit op die doek
- Sy bors en maag ril onder ʼn dun hemp
- want sy skoene is nat
- en vogtigheid het uitspattighede
- oor sy ken kom teken
- O grootste landskap!
- die wind sleep krakend sy wywe deur die koepel
- sodat die boom se windvruggies
- soos etensklokke lui
- en die reën in die watermente die boord-met-man beleër
- En ver oor die aand se knoppe
- vlieg ʼn wildgans
- ʼn weggooi-hond blaf sinloos uit die kloof
- Wag dan vir die aakligheid van algehele duister
- môre sal die reënse ritme
- om muwwe pitjies dans
- [Want ek is hier en baie woorde is hier
- en ons almal lê op hierdie b(l)aadjie]
Bronne (in die volgorde soos vermeld):
Breytenbach, B. 1967. Die Huis van die Dowe. Human & Rousseau, Kaapstad en Pretoria.
Breytenbach, B. 1987. Boek. Emmarentia : Taurus.
Breytenbach, B. 1973. Met Ander Woorde: Vrugte van die Droom van Stilte. Buren, Kaapstad.
Van Wyk Louw, NP. 1962. Tristia. Human & Rousseau, Kaapstad.
Darwiesj, M. 2021. Die Vlug van ʼn Vreemdeling soos vertaal deur Bester Meyer. Naledi.
Coetzee, A. 2003. Die spieël as blinde mond: die poësie van Breyten Breytenbach, Literator 24(2) Aug. 2003:19-37 ISSN 0258-2279
Pope, A. 1709. https://www.poetryfoundation.org/poems/44896/an-essay-on-criticism-part-1 (besoek 4 Junie 2023)
Sienaert, M. 1993. Breyten Breytenbach: Painting the Eye. David Phillip Publishers (Pty) Ltd, Claremont.
Odendaal, P. Oortekening as vertaalstrategie in Breyten Breytenbach se oorblyfsel/voice over, LitNet Akademies Jaargang 8(2) – Augustus 2011: 286-308.
Pada, RTS. 2007. The Paradox of Ipseity and Difference: Derrida’s Deconstruction and Logocentrism, KRITIKĒ, volume 1, nommer 1, Junie 2007: 32-51.
