Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
31 July 2023

Joan Hambidge. Oor die vrye vers

Nommer 5

I

Klassieke vorms van die digkuns moet gereeld bestudeer word. Op Litnet is daar ‘n baie handige gids.

https://www.litterm.co.za/  27 Julie 2023

Jong digters meen soms ‘n vrye vers is ‘n blote uitstorting van emosies. ‘n Gedig is egter paradoksaal gesproke ‘n wegskryf van emosies en hierom kyk ons byvoorbeeld na hoe groot digters die vrye vers hanteer en ander aspekte soos klank, ritme, assosiasies, beelde ensomeer gebruik om die gedig te laat werk.

poieo (Ek maak of skep) is die Grieks waarvan die woord poësie afgelei is. Daar is dus baie dinkwerk in ‘n gedig.

Wanneer klank ter sprake kom, dink ons aan assonansie en alliterasie. Ook die onomatopee (klanknabootsing) is belangrik. Poësie is die taal van dubbelsinnigheid. Hierom kan ‘n gedig verskillende lesings tot gevolg hê.

Digters werk ook met ironie, simboliek. Die metafoor of metonimie (die ketel kook). Dan is daar simboliek en ironie. Die abstraksies moet konkreet vergestalt word.

En versreëls wat nie net die opbreek van prosa of sinne is nie.

In ‘n ikoniese gedig van Breyten Breytenbach werk die digter met patrone wat die gedig saamsnoer.

Kyk na die progressie in die gedig:

Rooiborsduif -> jagters -> son -> oseane -> bome -> vel -> engel -> tot vlerke waarmee jy nie kan vlieg nie.

Die rooiborsduif is ‘n simbool van die liefdesboodskap wat alles om sig transformeer of verander.

Die boodskap sal die geliefde se vel bruin laat verkleur. Die liefde reis met die geliefde en word deel van haar binnespraak. (Ook van die leser s’n. Ons onthou immers aangrypende gedigte.)

Die liefde bevry, maak vry – maar dit is iets waarmee jy nie kan vlieg nie. Dit is ‘n verbeeldingsvlug wanneer daar gedig word. En dis wat hierdie gedig impliseer; die liefdesgedig wat jou (geliefde / leser) bereik.
https://maroelamedia.co.za/afrikaans/gedigte/allerliefste-ek-stuur-vir-jou-n-rooiborsduif/

27 Julie 2023

Die Amerikaanse digter Robert Frost het gemeen dat ‘n vrye vers is soos om tennis te speel sonder ‘n net.  Vry van rympatrone, maar dit gebruik ander bindingspatrone soos assosiasies, klank, en ritme, maar met ‘n losser kadans. Enjambement of die oorvloei van ‘n reël na ‘n volgende is eweneens opvallend. Klankpatrone soos assonansie, dissonansie, konsonansie word ingespan om die gedig te bind.

Die Amerikaanse digter Walt Whitman (1819 – 1992) word as die vader van die vrye vers beskou2).  Sy beroemde “Song of Myself” (1855) illustreer dit uitstekend.

     I

     I celebrate myself, and sing myself,

     And what I assume you shall assume,

     For every atom belonging to me as good belongs to you.

     I loafe and invite my soul,

     I lean and loafe at my ease observing a spear of summer grass.

(…)

 21

     I am the poet of the Body and I am the poet of the Soul,

     The pleasures of heaven are with me and the pains of hell are with me,

     The first I graft and increase upon myself, the latter I translate into a new tongue.

     (…)

https://www.poetryfoundation.org/poems/45477/song-of-myself-1892-version

 Besoek 27 Julie 2023

 Dit sluit ook aan by sy ander beroemde gedig “I sing the body electric”.

 https://www.poetryfoundation.org/poems/45472/i-sing-the-body-electric

 Besoek 27 Julie 2023

 II

“Howl for Carl Solomon”, geskryf deur Allen Ginsberg (1926 – 1997), die Beat-digter. Hierdie gedig is ‘n klag teen sistemiese uitbuiting. In sy tyd is die gedig as obseen beskou weens die verwysings na seks en dwelms.

So begin hierdie ikoniese vers:

I saw the best minds of my generation destroyed by madness, starving hysterical naked,
dragging themselves through the negro streets at dawn looking for an angry fix,
Angel-headed hipsters burning for the ancient heavenly connection
to the starry dynamo in the machinery of night …

https://www.poetryfoundation.org/poems/49303/howl Besoek 27 Julie 2023

Johann de Lange het “Howl” van Allen Ginsberg meesterlik vertaal en dit is indertyd op die Versindaba geplaas in ‘n vertaalkompetisie.

Kyk o.a. na hoe Ginsberg / De Lange kreatief werk met taal soos “geraamte-skatkamers”; “blinde hoofstede”; “granietpiele”. Die klankaspekte en konkrete beelde is opvallend. Molog / Moloch is hier ‘n onsigbare monster (oorlog, grypsugtigheid en ondeurdringbare outoriteit).

Lees nou “Skryn” assosiatief van beeld tot simbool.

Molog! Molog! Robotwoonstelle! onsigbare voorstede! Geraamte-skatkamers! blinde hoofstede! demoniese industrieë! Skimmige nasies! onoorwinlike malhuise! granietpiele! monsteragtige bomme!

     Moloch! Moloch! Robot apartments! invisible suburbs! skeleton treasuries! blind capitals! demonic industries! spectral nations! invincible madhouses! granite cocks! monstrous bombs!

 

SKRYN   vertaling deur Johann de Lange

‘n vertaling

I

Ek het my generasie se briljantste breine gesien, verwoes deur waansin, honger, histeries, naak,

wat hulleself teen dagbreek deur die negerstrate voortsleep op soek na ‘n toornige naald,

engelagtige eendsterte brandend na die antieke hemelse konneksie met die sterredinamo in die masjinerie van die nag,

wat armoedig en verslons en hol-oog en hoog sit en rook het in die bonatuurlike donkerte van kouewaterwoonstelle drywend oor die dakke van stede denkende aan jazz,

wat hulle breins ontbloot het voor die Hemel en onder die El en Mohammedaanse engele sien steier het op woonsteldakke stralend verlig,

wat deur universiteite gegaan het met stralende wyse oë en Arkansas en Blake-lig tragedies hallusineer tussen die studente van oorlog,

wat uitgeskop is uit die akademies vanweë waansin en publikasie van odes op die vensters van die skedel,

wat weggekruip het in ongeskeerde kamers in onderklere, hulle geld verbrand in asblikke en luister na die Vrees deur die muur,

wat gearresteer is in ʼn klopjag in hulle skaambaarde toe hulle terugkeer via Laredo met ‘n gordel vol dagga vir New York,

wat vuur eet in verfhotelle of terpentyn drink in Paradise Alley, dood, of hulle torso’s vagevuur nag na nag

met drome, met dwelms, met wakende nagmerries, alkohol en piel en eindelose ballas,

onvergelyklike blinde strate van sidderende wolk en weerlig in die gedagtes wat spring na pole van Kanada en Paterson, en al die beweginglose wêreld van Tyd tussenin verlig,

Peyote-vastighede van gange, agterplaas groen boom begraafplaas dagbreke, wyndronkenskap oor die dakke winkelvenster voorstede van daggabenewelde plesierritte neon flikkerende verkeersligte, son en maan en boom vibrasies in die dreunende winterskemers van Brooklyn, asblikskellery en bedagsame koningslig van gedagte,

wat hulleself vasgeketting het aan moltreine vir die eindelose rit van Battery Park na heilige Bronks op bensedrien totdat die lawaai van wiele en kinders hulle afbring sidderend speekselmond en verpletter yl van brein heeltemal gedreineer van briljantheid in die troostelose lig van die Dieretuin,

wat die hele nag lank gesink het in die duikboot-lig van Bickford’s uitgedryf het en deur die bedompige biermiddag in verlate Fugazzi’s sit en luister het na die dag wat breek op die waterstofjukebox,

wat vir sewentig ure sonder ophou gepraat het van park tot blyplek tot kroeg tot Bellevue tot museum tot die Brooklynbrug,

‘n verlore bataljon platoniese gespreksgenote wat afspring op stoepe vanaf brandtrappe vanaf vensterbanke vanaf die Empire State van die maan af

babbelend skreeuend kokhalsend en feite en herinnerings fluister en anekdotes en oogbalgrille en skokke van hospitale en tronke en oorloë,

totale intellekte uitgebraak in volledige onthou vir sewe dae en nagte met briljante oë, vleis vir die Sinagoge uitgesmyt op die sypaadjie,

wat in die niet verdwyn het Zen New Jersey en ‘n spoor van dubbelsinnige poskaartprente van Atlantic City Hall agtergelaat het,

en Oosterse koors ly en Tangierse beenknersings en migraines van Sjina tydens dwelmonttrekking in Newark se bleek gemeubileerde kamer,

wat om en om gedwaal het om middernag in die spoorwegwerf en gewonder het waarheen om te gaan, en gegaan het, en geen gebroke harte agtergelaat het nie,

wat sigarette aangesteek het in trokke trokke trokke ratelend deur sneeu in die rigting van eensame plase in oupa nag,

wat Plotinus Poe St. Jan van die Kruis bestudeer het, telepatie en bop-kabbalah omdat die kosmos instinktief gevibreer het onder hulle voete in Kansas,

wat dit alleen gemaak het deur die strate van Idaho op soek na visioenêre indiese engele wat visioenêre indiese engele was,

wat gedag het hulle is maar net mal toe Baltimore in bonatuurlike ekstase gegloei het,

wat in limousines gespring het saam die Chinaman van Oklahoma op die impuls van winter middernag straatlig kleindorpse reën,

wat honger en eensaam deur Houston geslenter het op soek na jazz of seks of sop, en die briljante Spanjaard gevolg het om te praat oor Amerika en Ewigheid, ‘n hopelose taak, en toe ‘n skip na Afrika gevat het,

wat verdwyn het in die vulkane van Meksiko en niks nagelaat het nie as die skadu van dungarees en die lawa en as van poësie uitgestrooi in kaggel Chicago,

wat weer opgeduik het aan die Weskus en die FBI ondersoek het in baarde en kortbroeke met groot pasifistiese oë sexy in hulle donker velle en onverstaanbare pamflette uitgedeel het,

wat sigaretgate in hulle arms gebrand het uit protes teen die narkotiese tabakwaas van Kapitalisme,

wat Superkommunistiese pamflette versprei het op Union Square huilend terwyl hulle uittrek en die sirenes van Los Alamos hulle oorloei het, en al met Wall langs geloei het, en die Staten Island veerboot het ook geloei,

wat in duie gestort het huilend in wit gimnasiums naak en bewend voor die masjinerie van ander geraamtes,

wat speurders in die nek gebyt het en gegil het van plesier in vangwaens omdat hulle geen misdade gepleeg het nie behalwe hulle eie wilde kooksel van pederasme en bedwelming,

wat getjank het op hulle knieë in die moltrein en van die dak af gesleep is terwyl hulle geslagsdele en manuskripte rondgewaai het,

wat hulle in die hol laat naai het deur vroom motorfietsryers, en gegil het van genot,

wat gesuig het en afgesuig is deur daardie menslike serafyne, die matrose, liefkosings van Atlantiese en Karibbiese liefde,

wat genaai het in die oggende in die aande in roostuine en op die gras van openbare parke en begraafplase en hulle

saad vryelik gestort het oor wie ook al gekom het,

wat eindeloos gehik het terwyl hulle probeer giggel het maar uiteindelik met ‘n snik agter ‘n afskorting in ‘n Turkse Bad

beland het toe die blonde & naakte engel gekom het om hulle met ‘n swaard te deurboor,

wat hulle liefdesknape verloor het aan die drie ou feekse van noodlot die eenoogfeeks van die heteroseksuele dollar die eenoog-feeks wat knipoog vanuit die kont en die eenoog-feeks wat niks doen behalwe op haar gat sit en die intellektuele goue spindrade van die wewer se weefraam af te knip nie,

wat ekstaties en onversadigbaar gekopuleer het met ‘n bottel bier ‘n beminde ‘n pak sigarette ‘n kers en van die bed afgeval het, en op die vloer voortgegaan het al met die gang langs en teen die muur flougeword het met ‘n visie van allerlaaste kont en skoot en die laaste sponk van bewussyn ontwyk het,

wat die dosies soetgemaak het van ‘n miljoen meisies sidderend in die sonsondergang, en rooioog was in die oggend maar gereed om die doos van dagbreek soet te maak, en boude laat sien het in skure en kaal in die meer,

wat uit aan die hoereer is deur Colorado in ‘n magdom gesteelde nagwaens, N.C., heimlike held van hierdie gedigte, fokker en Adonis van Denver – vreugdevolle nagedagtenis van sy tallose naaie van meisies in verlate parkeerterreine & padkafeeagterplase, die lendelam agterrystoele van rolprentteaters, op bergtoppe in grotte of met maer kelnerinne in vertroude langs die pad onderklere opligtery & veral geheime motorhawe solipsismes van toilette, & tuisdorp-stegies ook,

wat vervaag het in ontsaglik walglike rolprente, verplaas is in drome, wakkergeword het op ‘n meteense Manhattan, en hulleself opgetel het uit kelders babalaas van hartelose Tokay en verskrikkings van Third Avenue ysterdrome en aangestrompel het na werkloosheidskantore,

wat die hele nag lank loop met hulle skoene vol bloed op die sneeubedekte dokke wagtend vir ‘n deur in die Oosrivier om oop te maak op ‘n kamer vol stoomhitte en opium,

wat groot selfmoorddramas geskep het op die woonstelkranse van die Hudson onder die oorlogtydse blou soeklig van die maan; en hulle koppe sal met lourierblare gekroon word in vergetelheid,

wat die lamsbredie van die verbeelding geëet het of die krap op die modderige bodems van Bowery riviere verteer het,

wat geween het oor die romantiek van die strate met hulle stootkarre vol uie en swak musiek,

wat in kartondose gesit en die donkerte onder die brug ingeadem het, en opgestaan het om klawesimbels in hulle solderkamers te bou,

wat gehoes het op die sesde vloer van Haarlem met ʼn kroon van vlamme onder die teringagtige lug omring deur oranje kratte van teologie,

wat gekrabbel het naglank gerock-&-roll het oor verhewe inkantasies wat in die geel oggend stansas van brabbeltaal was,

wat verrotte diere gekook het long hart pote stert borscht & tortillas dromende van die suiwer vegetariese koninkryk,

wat hulleself onder vleistrokke ingegooi het op soek na ‘n eier,

wat hulle horlosies van die dak afgegooi het om hulle lot te werp op Ewigheid buite Tyd, en wekkers het op hulle koppe geval elke dag vir die volgende dekade,

wat hulle polse drie keer na mekaar onsuksesvol probeer sny het, opgegee het en genoop was om antieke winkels oop te maak waar hulle gemeen het hulle word oud en daaroor gehuil het,

wat lewendig verbrand is in hulle onskuldige flenniepakke op Madison Avenue tussen aanslae van loodsware verse & die opgetenkte gekletter van die ysterregimente van mode & die napalmgille van die moffies van reklame, & die mosterdgas van sinistere intelligente redakteurs, of omgery is deur die besope huurmotors van Absolute Syn,

wat van die Brooklynbrug afgespring het dit het werklik gebeur en weggestap het onbekend en vergete in die spookagtige bedwelming van Chinatown sopstegies & brandweerwaens, nie eens ʼn gratis bier nie,

wat by hulle vensters gesing het in wanhoop, geval het uit die moltreinvenster, gespring het in die vuil Passaic, gespring het op negers, gehuil het oral op straat, gedans het op stukkende wynglase kaalvoet vertrapte bakelietplate van nostalgiese Europese 1930’s Duitse jazz die whiskey opgedrink het en kreunend opgegooi het in die bloederige toiletbak, kreune in hulle ore en die geskal van kolossale stoomtreine,

wat met die snelweë van die vergange langs gejaag het op reis na elkaar se hotrod-Golgota tronkeensaamheidswag of Birming jazz inkarnasie,

wat twee-en-sewentig uur lank oor die platteland gery het om uit te vind of ek ‘n visie gehad het of jy ‘n visie gehad het of hy ‘n visie gehad het om die Ewigheid uit te vind,

wat gereis het na Denver, wat gesterf het in Denver, wat teruggekeer het na Denver & tevergeefs gewag het, wat gewaak het oor Denver & gepeins het & eensaam was in Denver en uiteindelik weggegaan het om uit te vind hoe Laat dit was, & nou verlang Denver eensaam na haar helde,

wat op hulle knieë geval het in hopelose katedrale biddend vir mekaar se redding en lig en borste, totdat die siel sy hare vir ‘n oomblik verlig het,

wat deur hulle verstand gestort het in die tronk op wag vir onmoontlike misdadigers met goue koppe en die sjarme van werklikheid in hulle harte en wat soet blues gesing het vir Alcatraz,

wat onttrek het na Meksiko om ‘n habyt te kultiveer, of na Rocky Mount na teer Boeddha of Tangiers na seuns of Southern Pacific na die swart lokomotief of Harvard na Narcissus na Woodlawn na die daisychain of graf,

wat aangedring het op geestesgesondheidsverhore wat die radio aangekla het van hipnose & gelos is met hulle waansin & hulle hande & ‘n onbesliste jurie,

wat aartappelslaai gegooi het na CCNY lektore oor Dadaïsme en gevolglik daarna hulleself oorgegee het op die graniettrappe van die malhuis met kaalgeskeerde koppe en harlekynspraak van selfmoord, en aangedring het op onmiddellike lobotomie,

en wat in stede daarvan die konkrete leegte van insulien Metrazol elektrisiteit hidroterapie psigoterapie bedryfsterapie pingpong en geheueverlies ontvang het,

wat in humorlose protes slegs een simboliese pingpongtafel omgesmyt het, en vlugtig katatonies gerus het,

en jare later teruggekeer het werklik bles behalwe vir ‘n pruik van bloed, en trane en vingers, na die sigbare mal-man-verdoemenis van die sale van die maldorpe van die Oosrivier,

Pilgrim State s’n Rockland s’n en Greystone se bedompige gange, twistend met die eggo’s van die siel, rukenrollend in die middernag regsbankverlatenheid dolmenryke van liefde, droom van lewe ‘n nagmerrie, lywe wat verander in klip swaar soos die maan,

met moeder finaal *******, en die laaste fantastiese boek by die woonstelvenster uitgesmyt, en die laaste deur gesluit vieruur in die oggend en die laaste telefoon in antwoord teen die muur geslaan en die laaste gemeubileerde kamer leeggemaak tot by die laaste stuk geestesmeublement, ‘n geel papierroos gedraai op ‘n draadhanger in die hangkas, en selfs dít denkbeeldig, niks meer as ‘n hoopvolle bietjie hallusinasie –

ah, Carl, solank jy nie veilig is nie is ek nie veilig nie, en nou’s jy regtig in die totale dieresop van tyd –

en wat daarom deur die ysige strate gehardloop het geobsedeerd met ‘n skielike flits van die alchemie van die gebruik van die ellips katalogus ʼn veranderlike maat en die vibrerende vlak,

wat gedroom het en vleesgeworde gapings gemaak het in Tyd & Ruimte deur beelde gejukstaponeer, en die aartsengel van die siel vasgevang het tussen twee visuele beelde en die wesenlike werkwoorde verbind het en die naamwoord en aandagstreep van bewussyn saamgevoeg het springend met sensasie van Pater Omnipotens Aeterna Deus

om die sintaks en maat van swak menslike prosa te herskep en voor jou te staan spraakloos en intelligent en bewend van skaamte, verworpe en tog die siel uitgebieg het om te konformeer met die ritme van gedagte in sy naakte en eindelose kop,

die malman boemelaar en engel-eendstert in Tyd, onbekend, wat nietemin hier neerskryf wat mag oorbly om te sê in die tyd wat voorlê na die dood,

en herrys het vleesgeword in die spookagtige gewaad van jazz in die gouehoring skadu van die orkes en die lyding van Amerika se naakte verstand uit liefde geblaas het in ‘n eli eli lamma lamma sabacthani saksofoon kreet wat die stede laat sidder het tot by die laaste radio

met die absolute hart van die gedig van lewe geslag uit hulle eie lywe goed om te eet vir ‘n duisend jaar.

II

Watter sfinks van sement en aluminium het hulle skedels oopgemoker en hulle breins en verbeelding opgevreet? Molog! Verlatenheid! Vullis! Aakligheid! Asblikke en onverkrygbare dollars! Kinders skreeuend onder die trappe! Seuns wenend in leermagte! Ou mans huilend in die parke!

Molog! Molog! Nagmerrie van Molog! Molog die liefdelose! Mal Molog! Molog die swaar oordelaar van die mens!

Molog die onbegryplike tronk! Molog die kruisbeen siellose tronk en Kongres van smarte! Molog wie se geboue oordeel is! Molog die ontsaglike steen van oorlog! Molog die stomgeslane regerings!

Molog wie se verstand suiwer masjinerie is! Molog wie se bloed vloeibare geld is! Molog wie se vingers tien leerskares is! Molog wie se bors ‘n mensvretende dinamo is! Molog wie se oor ‘n rokende graf is!

Molog wie se oë ‘n duisend blinde vensters is! Molog wie se wolkekrabbers in die lang strate staan soos eindelose Jehova’s! Molog wie se fabrieke droom en kwaak in die mis! Molog wie se rooksuile en antennas die stede bekroon!

Molog wie se liefde eindelose olie en klip is! Molog wie se siel elektrisiteit en banke is! Molog wie se armoede die skim van genialiteit is! Molog wie se lot ‘n wolk van sekslose waterstof is! Molog wie se naam die Verstand is!

Molog in wie ek eensaam sit! Molog in wie ek Engele droom! Mal in Molog! Pielsuiger in Molog! Liefdeloos en manloos in Molog!

Molog wat my siel vroeg ingeneem het! Molog in wie ek ‘n bewussyn sonder ‘n liggaam is! Molog wat my uit my natuurlike ekstase uit geskok het! Molog wat ek versaak! Word wakker in Molog! Lig stromend uit die hemelruim!

Molog! Molog! Robotwoonstelle! onsigbare voorstede! Geraamte-skatkamers! blinde hoofstede! demoniese industrieë! Skimmige nasies! onoorwinlike malhuise! granietpiele! monsteragtige bomme!

Hulle het hulle rûe gebreek toe hulle Molog oplig na die Hemel! Sypaadjies, bome, radio’s, tonne! wat die stad oplig na die Hemel wat wel bestaan en orals om ons is!

Visies! voorbodes! hallusinasies! wonderwerke! ekstases! afgespoel met die Amerikaanse rivier langs!

Drome! adorasies! illuminasies! religieë! die hele skipvol sensitiewe stront!

Deurbrake! oor die rivier! salto’s en kruisigings! weggespoel met die vloed! Hoogtepunte! Epifanieë! Wanhope! Tien jaar se dierlike krete en selfmoorde! Breine! Nuwe liefdes! Mal generasie! skipbreuk op die rotse van Tyd!

Egte heilige gelag in die rivier! Hulle’t dit alles gesien! die wilde oë! die heilige gille! Hulle’t vaarwel gewuif! Hulle’t van die dak afgespring! na verlatenheid! wuiwend! blomme in die hand! Na die rivier toe! in die straat in!

III

Carl Solomon! Ek is met jou in Rockland

waar jy nog maller is as ek

Ek is met jou in Rockland

waar jy baie vreemd moet voel

Ek is met jou in Rockland

waar jy die skadu van my moeder naboots

Ek is met jou in Rockland

waar jy jou twaalf sekretaresses vermoor het

Ek is met jou in Rockland

waar jy lag oor dié onsigbare humor

Ek is met jou in Rockland

waar ons groot skrywers is op dieselfde hopelose tikmasjien

Ek is met jou in Rockland

waar jou toestand ernstig geword het en oor die radio berig is

Ek is met jou in Rockland

waar die fakulteite van die skedel nie langer die wurms van die sinne toelaat nie

Ek is met jou in Rockland

waar jy die tee drink van die borste van die oujongnooiens van Utica

Ek is met jou in Rockland

waar jy woordspeel op die lywe van jou verpleegsters die harpye van die Bronks

Ek is met jou in Rockland

waar jy skreeu in ‘n dwangbaadjie dat jy besig is om die spel te verloor van die waaragtige pingpong van die afgrond

Ek is met jou in Rockland

waar jy hamer op die katatoniese klavier die siel is onskuldig en onsterflik dit behoort nooit godvergete en in ‘n bewapende inrigting te sterf nie

Ek is met jou in Rockland

waar nóg vyftig skokke nooit weer jou siel sal laat terugkeer na sy lyf nie van sy pelgrimstog na ‘n kruis in die niet

Ek is met jou in Rockland

waar jy jou dokters aankla van waansin en die Hebreeus-sosialistiese rewolusie teen die fascistiese nasionale Golgotha beplan

Ek is met jou in Rockland

waar jy die hemele bo Long Island sal splyt en jou lewende menslike Jesus laat herrys van die bomenslike graf

Ek is met jou in Rockland

waar daar vyfentwintigduisend mal kamerade is wat almal saam die laaste stansas van die Internationale sing

Ek is met jou in Rockland

waar ons die Verenigde State vasdruk en vry onder ons beddegoed die Verenigde State wat die goddelike nag lank hoes en ons uit die slaap hou

Ek is met jou in Rockland

waar ons uit die koma wakkergeskok word deur die vliegtuie van ons eie siele wat dreun oor die dak hulle’t gekom om engelagtige bomme te laat val      die hospitaal verlig sigself      verbeelde mure stort ineen      O benerige legioene hardloop buitentoe      O sterbesaaide skok van genade die ewige oorlog is hier      O oorwinning vergeet jou onderklere ons is vry

Ek is met jou in Rockland

in my drome loop jy druipend van ‘n seereis op die snelweg dwarsoor Amerika in trane na die deur van my kothuis in die Westerse nag

San Francisco, 1955-1956

 

 

 

VOETNOOT BY “HOWL”

Heilig! Heilig! Heilig! Heilig! Heilig! Heilig! Heilig! Heilig! Heilig! Heilig! Heilig! Heilig! Heilig! Heilig! Heilig!

Die wêreld is heilig! Die siel is heilig! Die vel is heilig! Die neus is heilig! Die tong en piel en hand en hol is heilig!

Alles is heilig! almal is heilig! orals is heilig! elke dag is ‘n ewigheid! Elkerman is ‘n Engel.

Die boemelaar is so heilig soos die engel! die malman is so heilig soos jy my siel heilig is!

Die tikmasjien is heilig die gedig is heilig die stem is heilig die hoorders is heilig die ekstase is heilig!

Heilig Peter heilig Allen heilig Solomon heilig Lucien heilig Kerouac heilig Huncke heilig Burroughs heilig Cassady heilig die onbekende gefokte en lydende bedelaars heilig die afskuwelike menslike engele!

Heilig my ma in die malhuis! Heilig die piele van die oupas van Kansas!

Heilig die kreunende saksofoon! Heilig die bop-apokalips! Heilig die jazz-orkeste dagga hippies vrede peyote pype & tromme!

Heilig die eensaamheid van wolkekrabbers en sypaadjies! Heilig die kafeterias gevul met die menigtes! Heilig die geheimsinnige rivier van trane onder die strate!

Heilig die eensame kolos! Heilig die enorme lam van die middelklas! Heilig die mal herders van rebellie! Wie gek is oor Los Angeles IS Los Angeles!

Heilig New York Heilig San Francisco Heilig Peoria & Seattle Heilig Parys Heilig Tangiers! Heilig Moskou! Heilig Istanbul!

Heilig tyd in ewigheid heilig ewigheid in tyd heilig die horlosies in die ruimte heilig die vierde dimensie heilig die vyfde International heilig die Engel in Molog!

Heilig die see heilig die woestyn heilig die treinspoor heilig die stoomtrein heilig die visioene heilig die hallusinasies heilig die mirakels heilig die oogbal heilig die afgrond!

Heilig vergifnis! genade! liefdadigheid! geloof! Heilig! Ons s’n! Lywe! Lyding! grootmoedigheid!

Heilig die bonatuurlike ekstra briljante intelligente goedheid van die siel!

 Allen Ginsberg

Berkeley, 1955

Joan Hambidge

Julie 2023

Bronne:

http://joanhambidge.blogspot.com/2013/03/breyten-breytenbach-lady-one-99.html Besoek 30 Julie 2023

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Joan Hambidge. Bundelverband
Joan Hambidge. Ironie →

2e gedagtes oor “Joan Hambidge. Oor die vrye vers”

  1. Sjaka says:
    14 June 2026 at 15:38

    Ek het nou eers op die vertaling van Howl deur Johan de Lange afgekom. Dis ‘n gedig wat eintlik hoort tussen mense; dit moet waai tussen plakkershuise en in mense se voetval leef.

    Reply
  2. Gerad Scharn says:
    31 July 2023 at 19:57

    Wat een adembenemende vertaling Howl.

    Reply

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. glasman
  • Anne-Marie Bartie. fake news
  • Anne-Marie Bartie. visum
  • Margaret Cordier. Gestroop
  • Willem de Swyger. bokwagter

Nuutste bydraes

  • Gerard Scharn. het was verschrikkelijk
  • Nuwe Bundel. Margaret Cordier-Biermann: Spiraal
  • Nuwe Bundel. Carina van der Walt: Frankofiel
  • Nuwe Bundel. Daniel Hugo: Vers & Kapittel III
  • Nuwe Bundel. Jeanne Henning Els: Vlerke is vir vlieg

Nuutste kommentaar

  1. Marieta McGrath on Gerrit Theron. Die vuurhoutjie31 August 2026

    Ek hou hiervan.

  2. Johan Coetzee on Joan Hambidge. Om die hemel te dekonstrueer30 August 2026

    Die hemel... of hel is opgedollie.

  3. DIETLOFF VAN DER BERG on Resensie: “In memoriam, Johann de Lange” (Johann Lodewyk Marais en Joan Hambidge)28 August 2026

    Soekie, ja, ek stemsaam. Van 'Boondoks' tot 'Gelykenis' is daar net soveel wat mens tref en weer wil herlees.

  4. Soekie Vogel on Resensie: “In memoriam, Johann de Lange” (Johann Lodewyk Marais en Joan Hambidge)27 August 2026

    Hambidge het haarself oortref in haar digsiklus oor De Lange. Aangrypend.

  5. Daniel Hugo on Ilse van Staden. Die Dans25 August 2026

    'n Wonderlike huldeblyk aan die digter se moeder en Van Wyk Louw.

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d