Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
6 September 202311 September 2023

Resensie: Die lewe is ʼn asem lank: Gedigte oor verlies en vertroosting (Frieda van den Heever, samest.)

 

 

 

Resensie: Die lewe is ʼn asem lank: Gedigte oor verlies en vertroosting, Samesteller Frieda van den Heever,  2023. Kaapstad: Tafelberg.

Resensent: Marlies Taljard

Die versamelbundel Die lewe is ʼn asem lank: Gedigte oor verlies en vertroosting, saamgestel deur Frieda van den Heever van Vers en klank-faam, is ʼn netjiese bundel. Omdat dit in hardeband-formaat uitgegee is, hanteer dit maklik en sal dit waarskynlik die aanslag van jare weerstaan. Die bundel bevat 100 gedigte wat, volgens die agterblad, handel oor “dood, afskeid, verganklikheid en die kwesbaarheid van menswees”. In hierdie opsig eggo dit die bekende AVBOB-reeks I wish I’d said waarvan Volume 6 binnekort verskyn. Anders as die AVBOB-bundels, bevat hierdie bundel egter gedigte wat reeds gepubliseer is.

Toe ek die bundel ontvang, het ek natuurlik dadelik gekyk of my gunstelinggedigte in die versameling opgeneem is. Ja-nee, Antjie Krog se “ek wil ʼn graf hê om van om te draai” is daar; JC Steyn se “Spooroorwegramp by Henley-on-Klip” is daar; “Wag” van Elisabeth Eybers, twee van die pragtige T.T.-Cloete-gedigte oor sy oorlede vrou Anna is daar. Wat ek mis, is gedigte soos  Totius se “Die aandete”, Eitemal se “Die begrafnis”, Ernst van Heerden se “Aan die verhuisingsmanne”, Opperman se “Gebed om die gebeente” … Maar dan is die bundel ook nie vir my persoonlik bedoel nie, en kan alle mooi gedigte nie in een bundel opgeneem word nie. Oor die algemeen het ek die keuse bevredigend gevind en in lyn met die doelstelling wat (waarskynlik deur die samesteller) in die Voorwoord gestel word: “ … ʼn bundel wat baie segginge verteenwoordig, wat binne my beperkte kennis byna die volle register of anatomie van die landskap van verlies en omgaan met die dood beskryf”.

Volgens die lys van digters op die agterblad, is 50 digters in Die lewe is ʼn asem lank opgeneem – een, twee en selfs drie gedigte per digter, behalwe in die geval van Breyten Breytenbach, van wie nege gedigte opgeneem is en ʼn verdere drie aanhalings in motto’s by verskillende afdelings in die boek voorkom. Hierdeur word die balans van die bundel versteur.

Die bundel is gerubriseer in ses afdelings, naamlik Sterflikheid, Sterf, Ter aarde bestem, Laaste wens, Verlies en Heengaan as terugkeer, waarvan die voorlaaste afdeling 40% van die gedigte in die bundel bevat.

Gedigte vanaf die Dertigers tot op hede is opgeneem. Geen “ouer” digters is verteenwoordig nie, hoewel digters soos C. Louis Leipoldt, Totius, D.F. Malherbe, Eugène Marais en ander beslis ook ʼn plek in die bundel verdien. In dié opsig is die bundel onder bespreking dalk effens yl, hoewel dit waarskynlik die bedoelde leser sal bevredig.

As Afrikaanse versamelbundel met ʼn duidelik afgebakende tema, sal Die lewe is ʼn asem lank uit die aard van die saak vergelyk word met bundels soos Fanie Olivier se Die heel mooiste Afrikaanse liefdesgedigte, Cas Vos se Die mooiste Afrikaans Christelike gedigte en Karen de Wet se Vers en vrou wat almal heelwat meer gedigte bevat. Ook die I wish I’d said-bundels van AVBOB onder redakteurskap van Johann de Lange e.a. is heelwat lywiger en bevat ʼn meer volledige Voorwoord waarin ʼn duideliker afbakening van stof voorkom as in die tersaaklike bundel. Natuurlik is lywigheid nie die enigste kriterium vir ʼn versamelbundel nie, maar hoe meer gedigte opgeneem word, hoe meer verteenwoordigend kan so ʼn bundel wees van die volle spektrum gedigte wat in ʼn bepaalde taal oor ʼn bepaalde tema geskryf is. Dit is uit die voorwoord egter duidelik dat die seleksie van gedigte tot ʼn groot mate gedryf is deur sterk emosionele en persoonlike ervarings en dat die gedigte die gunstelinggedigte van Frieda van den Heever verteenwoordig. Gesien in dié lig en met die doel van die bundel voor oë, is dit myns insiens genoeg om te sê dat hierdie versameling gedigte inderdaad mag bydra om troos te verskaf aan bedroefdes en beproefdes. Dit bevat van die troosrykste, aangrypendste elegiese verse in Afrikaans. Een van die treffendste gedigte is vir my die vertaling van die gedig “Blessing for the Brokenhearted” (Jan Richardson) deur die samesteller en haar vader wat in die Voorwoord voorkom:

Seën vir die gebrokenes van hart

There is no remedy for love but to love more.

Henry David Thoreau

 

Kom ons kom eers ooreen

om nie te sê dat

kneusings ons brei nie

of dat hierdie hartseer

beter is as onaangeraaktheid nie.

 

Kom ons belowe mekaar

om nooit te sê

tyd sal die wonde heel,

terwyl elke nuwe dag se wakkerword

dit opnuut laat bloei nie.

 

Miskien is dit voorlopig genoeg

om ons net te verwonder

oor die geheimenis

dat ʼn gebroke hart steeds klop

asof dit hiervoor bedoel is.

 

So asof dit weet

die enigste genesing vir liefde

is meer liefde.

 

So asof dit weet

die kuur vir gebrokenheid

is om steeds en meer en aan te hou liefhê.

 

So asof dit vertrou

dat sy eie volhardende geklop

die ritme is van ʼn seën

wat ons nie begryp nie,

maar wat ons nietemin sal red.

 

 

 

 

Remember that the AVBOB Poetry Competition reopened on 1 August 2023. Visit our website regularly at https://www.avbobpoetry.co.za/ for editing tips and advice as well as updates about upcoming workshops.

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Resensie: “Die grondgeitjie roep” (Emmie Bedeker)

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. glasman
  • Anne-Marie Bartie. fake news
  • Anne-Marie Bartie. visum
  • Margaret Cordier. Gestroop
  • Anne-Marie Bartie. kapitulasie

Nuutste bydraes

  • Christa Kleynhans. Omgekeerde Borduurwerk
  • Christa Kleynhans. Oggend inventaris
  • Miel Vanstreels. Weer eens
  • Marc Tritsmans. Snoek in het riet. Vert. Daniel Hugo
  • Miel Vanstreels. Nege-en-sewentig

Nuutste kommentaar

  1. Dewald Koen on Resensie: Vers & Kapittel III (Daniel Hugo)14 October 2026

    Dankie, Joan. Ja, Daniel se kennis is inderdaad verbysterend.

  2. Joan Hambidge on Vertaling: Marc Tritsmans “Hoe ik het wil zeggen”. Vert. Daniel Hugo14 October 2026

    Puik vertaling.

  3. Anzé Bezuidenhout on Anzé Bezuidenhout. Versteende onthou12 October 2026

    Baie dankie vir jou saamlees en kommentaar Gert

  4. Anzé Bezuidenhout on Pierce van Tonder. my vuurvliegie-gedagtes12 October 2026

    Absoluut tasbaar en puik gedoen!!

  5. Anzé Bezuidenhout on Anzé Bezuidenhout. Versteende onthou12 October 2026

    Baie dankie Versindaba vir die plasing en blootstelling

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d