
Resensie: Die grondgeitjie roep deur Emmie Bedeker. Turksvy Publikasies, 2023.
Resensent: Marlies Taljard
Die grondgeitjie roep is Emmie Bedeker se digterlike debuut. Dit is ‘n netjiese bundel met 46 meestal kort gedigte en ʼn mooi voorblad deur Diek Grobler. As deel van die bundel verskyn enkele swart-wit foto’s deur die digter self.
Die feit dat slegs 46 gedigte wat meestal goed afgewerk is, in die bundel opgeneem is, is myns insiens ʼn teken daarvan dat die digter behoorlik gekeur het, en nie (soos deesdae alte dikwels gebeur) sommer alles wat voorhande was, in één bundel opgeneem het nie. Die tyd het geleer dat bundels met tussen vyftig en sestig gedigte dikwels die beste “werk” en die gunstigste ontvang word. Om heelwat meer gedigte te laat opneem, is, veral vir minder ervare digters, riskant, veral vanweë die groter risiko van swak afwerking en wisselvallige standaard.
Die Namibiese landskap is die oorheersende ruimte waarteen baie van Bedeker se gedigte geplaas word. Enkele foto’s dra by tot atmosfeerskepping. Die digter kies dan ook ʼn gedig van Daniel Hugo, “Namibië IV”, as motto vir die bundel en ʼn voor- en agterblad met waterverfskilderye met tipies Namibiese natuurtonele. Die openingsgedig roep ʼn “oerlandskap” op waarna dikwels ook in ander gedigte verwys word:
die grondgeitjie roep
die skemer versag
die plooie van ʼn oerlandskap
hier waar die aarde
haar binneste blootlê
die hitte vlug voor die westewind
en ons kom tot rus
ná ʼn dag van swerf
tussen versteende woude en sferoliete
met die laaste lig
breek ʼn grondgeitjie die stilte
klik-klik-klik-klik, antwoord sy maat
en rondom ʼn vuur
sluit ek en jy ʼn verdrag
om nooit op te hou roep
na mekaar
ná ons sterwe sal ons
wat van sterre afstam
hier tussen lawa en rots
weer tot rus kom
vir altyd
Soos in talle ander gedigte in die bundel, word die kontras tussen ons kortstondige aardse bestaan en die tydloosheid van die oerlandskap, die aarde en die sterre in hierdie gedig gejukstaponeer. Sien ook “Gaiafontein”, ʼn gedig wat eweneens die klem op die antieke woestynlandskap plaas, met inspeling op ons aardse nietigheid:
Onse moeder Gaia
se blyplek is die stilte.
Sy het alles uit niet tot niet gemaak.
Die klipruïnes klou aan haar geheim.
In die gedig “Google Earth” word verskillende begrippe van tyd teenoor mekaar geplaas terwyl ons (moderne) tydruimtelikheid gerelativeer word – die tydloosheid van die antieke landskap, die wyse waarop Google Earth tyd en ruimte oorskry en die onmiddellikheid van die dimensie waarin ons ons bevind en waar ʼn kind om aandag roep:
Tyd staan stil in fossiel en klip.
Swyg oor ʼn begin en ʼn einde.
Soveel eeue ongesien en ongekaart.
Alles nou blootgelê in elke oog.
In die kamer roep ʼn kind sag.
Ek sit die rekenaar af.
Die relatiwiteit van ons “hier en nou” teenoor die onberekenbare en oneindige “daar buite” tref in gedig na gedig.
Die grondgeitjie wat in verskeie gedigte opduik (bv. “Huab-nag”) is deel van die tyd-metafoor omdat dit een van die oudste spesies op aarde is – as’t ware ʼn lewende dinosourus. Die grondgeitjie (hier waarskynlik Ptenopus garrulus) word op die webwerf Kalahari Hunting soos volg beskryf:
“The calls of these little reptiles signal sunset and for all living in the Kalahari, this means also that another hot day is ending and that the coolness of the night has arrived. This barking gecko’s call is a chain of clicks (“ceek-ceek-ceek”). These sounds come from the elaborate burrow systems in the red sand, which have concealed escape holes. The males call on most summer nights to attract mates.
Although these little “music-boxes” emerge only after sunset, they are effectively camouflaged in the sands of this semi-desert area. You will be lucky to ever see them, but…you will definitely HEAR them! This entertaining sound is part of growing up, living in and visiting the Kalahari.”
Dat die grondgeitjie soveel millennia oorleef het, dui op aanpasbaarheid en die verwysing na dié diertjie sou dus in verband gebring kon word met terugkyk en terugskouing, soos dit in baie gedigte inderdaad die geval is. Die beskrywing van die Namibiese landskap word deur die digter uitgebeeld as die terugkyk na ʼn oer-verlede, soos ek hierbo aangetoon het.
ʼn Verdere tema wat hiermee verband hou, is herinneringe wat in tyd nader aan die hede lê, naamlik aan ‘n persoonlike verlede, ʼn soort herinneringsreis waarin mense en gebeure in die herinnering geroep word. Sommige van dié gedigte is treffend, byvoorbeeld
lemoen
ek breek die oranje
winter spat oor my
ek onthou my pa
hoe deel hy die soetheid
skyfie ná skyfie aan ons elkeen uit –
ʼn sonoffer aan sy geliefdes
Hoewel die bundel struktureel as eenheid funksioneer en geen formele rubrisering voorkom nie, word daar op inhoudelike vlak verskillende temas uitgewerk. In die eerste deel van die bundel speel landskap ʼn belangrike rol. Ook in die tweede helfte van die bundel kom die landskap-metafoor voor, maar hier dikwels verweef met die landskap van die liggaam en die lewe as landskap. Herinneringsgedigte oorheers hierdie deel van die bundel. Dit is gedigte wat verskeie temas inkorporeer: plante, plekke, kennisse, gebeurtenisse en familielede. Enkele liefdesgedigte ontroer, soos die slotgedig van die bundel:
as die landskap van ons lywe
leeggeloop het aan vog
bly oor van die hartstog
net ons liefde
Verstegnies maak die digter meestal van vrye vorme gebruik, hoewel met lofwaardige dissipline. Die oorgrote meerderheid gedigte is kort – soms kwatryne en tersines, maar daar is ook enkele villannelle-agtige gedigte, soos “Die plaas Fonteine”. Dikwels is die slotreël van gedigte sterk met betekenis gelaai, soos mens van korter gedigte sou verwag. Herhaling, binnerym, alliterasie, assonansie en metrum is tegnieke wat ingespan word om die vrye verse se poëtiese karakter te behou.
Teen die einde van die bundel is dit ongelukkig asof die gedigte soms in retoriek verval en asof die digter haar woema verloor het. Omdat die gedigte meestal kort is, kan dit later tot verveling lei. Ek sou die digter aanraai om meer met klassieke vorme te eksperimenteer en om gedigte van wisselende lengte in ʼn volgende bundel op te neem. Tematies sou die leser ook groter variasie verwag, maar as debuut is hierdie bundel beslis geslaagd en dui dit daarop dat die digter oor die nodige aanvoeling en dissipline beskik wat ʼn noodsaaklike vereiste is vir die skryf van poësie. Die grondgeitjie roep is ʼn ideale geskenk vir ʼn geliefde persoon. Dit bevat ʼn handvol gedigte wat ontroer en wat hierdie leser sal bybly.
