Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
4 August 2023

Resensie: “Die grondgeitjie roep” (Emmie Bedeker)

 

 

Resensie: Die grondgeitjie roep deur Emmie Bedeker. Turksvy Publikasies, 2023.

 Resensent: Marlies Taljard

 

Die grondgeitjie roep is Emmie Bedeker se digterlike debuut. Dit is ‘n netjiese bundel met 46 meestal kort gedigte en ʼn mooi voorblad deur Diek Grobler. As deel van die bundel verskyn enkele swart-wit foto’s deur die digter self.

Die feit dat slegs 46 gedigte wat meestal goed afgewerk is, in die bundel opgeneem is, is myns insiens ʼn teken daarvan dat die digter behoorlik gekeur het, en nie (soos deesdae alte dikwels gebeur) sommer alles wat voorhande was, in één bundel opgeneem het nie. Die tyd het geleer dat bundels met tussen vyftig en sestig gedigte dikwels die beste “werk” en die gunstigste ontvang word. Om heelwat meer gedigte te laat opneem, is, veral vir minder ervare digters, riskant, veral vanweë die groter risiko van swak afwerking en wisselvallige standaard.

Die Namibiese landskap is die oorheersende ruimte waarteen baie van Bedeker se gedigte geplaas word. Enkele foto’s dra by tot atmosfeerskepping. Die digter kies dan ook ʼn gedig van Daniel Hugo, “Namibië IV”, as motto vir die bundel en ʼn voor- en agterblad met waterverfskilderye met tipies Namibiese natuurtonele. Die openingsgedig roep ʼn “oerlandskap” op waarna dikwels ook in ander gedigte verwys word:

 

die grondgeitjie roep

 

die skemer versag

die plooie van ʼn oerlandskap

hier waar die aarde

haar binneste blootlê

 

die hitte vlug voor die westewind

en ons kom tot rus

ná ʼn dag van swerf

tussen versteende woude en sferoliete

 

met die laaste lig

breek ʼn grondgeitjie die stilte

klik-klik-klik-klik, antwoord sy maat

 

en rondom ʼn vuur

sluit ek en jy ʼn verdrag

om nooit op te hou roep

na mekaar

 

ná ons sterwe sal ons

wat van sterre afstam

hier tussen lawa en rots

weer tot rus kom

vir altyd

 

Soos in talle ander gedigte in die bundel, word die kontras tussen ons kortstondige aardse bestaan en die tydloosheid van die oerlandskap, die aarde en die sterre in hierdie gedig gejukstaponeer. Sien ook “Gaiafontein”, ʼn gedig wat eweneens die klem op die antieke woestynlandskap plaas, met inspeling op ons aardse nietigheid:

 

Onse moeder Gaia

se blyplek is die stilte.

Sy het alles uit niet tot niet gemaak.

Die klipruïnes klou aan haar geheim.

 

In die gedig “Google Earth” word verskillende begrippe van tyd teenoor mekaar geplaas terwyl ons (moderne) tydruimtelikheid gerelativeer word – die tydloosheid van die antieke landskap, die wyse waarop Google Earth tyd en ruimte oorskry en die onmiddellikheid van die dimensie waarin ons ons bevind en waar ʼn kind om aandag roep:

 

Tyd staan stil in fossiel en klip.

Swyg oor ʼn begin en ʼn einde.

Soveel eeue ongesien en ongekaart.

Alles nou blootgelê in elke oog.

 

In die kamer roep ʼn kind sag.

Ek sit die rekenaar af.

 

Die relatiwiteit van ons “hier en nou” teenoor die onberekenbare en oneindige “daar buite” tref in gedig na gedig.

Die grondgeitjie wat in verskeie gedigte opduik (bv. “Huab-nag”) is deel van die tyd-metafoor omdat dit een van die oudste spesies op aarde is – as’t ware ʼn lewende dinosourus. Die grondgeitjie (hier waarskynlik Ptenopus garrulus) word op die webwerf Kalahari Hunting soos volg beskryf:

 

“The calls of these little reptiles signal sunset and for all living in the Kalahari, this means also that another hot day is ending and that the coolness of the night has arrived. This barking gecko’s call is a chain of clicks (“ceek-ceek-ceek”). These sounds come from the elaborate burrow systems in the red sand, which have concealed escape holes. The males call on most summer nights to attract mates.

Although these little “music-boxes” emerge only after sunset, they are effectively camouflaged in the sands of this semi-desert area. You will be lucky to ever see them, but…you will definitely HEAR them! This entertaining sound is part of growing up, living in and visiting the Kalahari.”

 

Dat die grondgeitjie soveel millennia oorleef het, dui op aanpasbaarheid en die verwysing na dié diertjie sou dus in verband gebring kon word met terugkyk en terugskouing, soos dit in baie gedigte inderdaad die geval is. Die beskrywing van die Namibiese landskap word deur die digter uitgebeeld as die terugkyk na ʼn oer-verlede, soos ek hierbo aangetoon het.

ʼn Verdere tema wat hiermee verband hou, is herinneringe wat in tyd nader aan die hede lê, naamlik aan ‘n persoonlike verlede, ʼn soort herinneringsreis waarin mense en gebeure in die herinnering geroep word. Sommige van dié gedigte is treffend, byvoorbeeld

 

lemoen

 

ek breek die oranje

winter spat oor my

 

ek onthou my pa

hoe deel hy die soetheid

skyfie ná skyfie aan ons elkeen uit –

ʼn sonoffer aan sy geliefdes

 

Hoewel die bundel struktureel as eenheid funksioneer en geen formele rubrisering voorkom nie, word daar op inhoudelike vlak verskillende temas uitgewerk. In die eerste deel van die bundel speel landskap ʼn belangrike rol. Ook in die tweede helfte van die bundel kom die landskap-metafoor voor, maar hier dikwels verweef met die landskap van die liggaam en die lewe as landskap. Herinneringsgedigte oorheers hierdie deel van die bundel. Dit is gedigte wat verskeie temas inkorporeer: plante, plekke, kennisse, gebeurtenisse en familielede. Enkele liefdesgedigte ontroer, soos die slotgedig van die bundel:

 

as die landskap van ons lywe

leeggeloop het aan vog

bly oor van die hartstog

net ons liefde

 

Verstegnies maak die digter meestal van vrye vorme gebruik, hoewel met lofwaardige dissipline. Die oorgrote meerderheid gedigte is kort – soms kwatryne en tersines, maar daar is ook enkele villannelle-agtige gedigte, soos “Die plaas Fonteine”. Dikwels is die slotreël van gedigte sterk met betekenis gelaai, soos mens van korter gedigte sou verwag.  Herhaling, binnerym, alliterasie, assonansie en metrum is tegnieke wat ingespan word om die vrye verse se poëtiese karakter te behou.

Teen die einde van die bundel is dit ongelukkig asof die gedigte soms in retoriek verval en asof die digter haar woema verloor het. Omdat die gedigte meestal kort is, kan dit later tot verveling lei. Ek sou die digter aanraai om meer met klassieke vorme te eksperimenteer en om gedigte van wisselende lengte in ʼn volgende bundel op te neem. Tematies sou die leser ook groter variasie verwag, maar as debuut is hierdie bundel beslis geslaagd en dui dit daarop dat die digter oor die nodige aanvoeling en dissipline beskik wat ʼn noodsaaklike vereiste is vir die skryf van poësie. Die grondgeitjie roep is ʼn ideale geskenk vir ʼn geliefde persoon. Dit bevat ʼn handvol gedigte wat ontroer en wat hierdie leser sal bybly.

 

Deel:

  • Click to share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Click to share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading...

Lees meer

← Resensie: “vissers van woorde” (willem de swijger)
Resensie: Die lewe is ʼn asem lank: Gedigte oor verlies en vertroosting (Frieda van den Heever, samest.) →

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Resensie: "Dawerende stiltes" (Caren Kearley)
  • Resensie: "Wilma Stockenström: Met my wysvingertop" (Ronel Foster, red.)
  • Marlies Taljard gesels met Yves T’Sjoen oor "De ontdekking van het eiland" (Deel 1)
  • Marlies Taljard gesels met Yves T’Sjoen oor "De ontdekking van het eiland" (Deel 3 - slot)
  • Joan Hambidge. Athol Harold Lannigan Fugard

Nuutste bydraes

  • Joan Hambidge. George Steiner, “On Difficulty”
  • Carina van der Walt. Madeleine en Marianne (uit “Paryse Dagboek”)
  • 100 Duitse Bestes: Durs Grünbein (1962-)
  • Marthé McLoud. Een aand op straat
  • Joan Hambidge. Die digkuns as weefwerk

Nuutste kommentaar

  1. Versindaba on 100 Duitse Bestes: Durs Grünbein (1962-)16 January 2026

    Van die kant van die Redaksie: Baie dankie Bernard Odendaal en Robert Schall dat Versindaba hierdie skitterende vertalings kon plaas.…

  2. Joan Hambidge on 100 Duitse Bestes: Durs Grünbein (1962-)15 January 2026

    Hierom dan dat George Steiner sy Poetry of thought aan hierdie manjifieke digter opgedra het. Ek (her)lees tans Steiner se…

  3. Joan Hambidge on 100 Duitse Bestes: Durs Grünbein (1962-)15 January 2026

    Dank. Die gedig as smoelneuker. Goed vertaal.

  4. Jacobus Swart on Joan Hambidge. Die digkuns as weefwerk14 January 2026

    Die digkuns is distillasie. Die taal is verhewig. Dit vereis dat die leser sy sokkies sal optrek. Want die digter…

  5. Bernard Odendaal on Joan Hambidge. Die digkuns as weefwerk13 January 2026

    “Lostorring” het my ewe diep getref, Joan.

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d