
Emmie Bedeker is op Prins Albert gebore waar sy gematrikuleer het. Die meeste van haar vakansies het sy in die Klein-Karoo op haar ouma se plaas deurgebring. Sy het B. Verpleegkunde aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf, is met ’n skoolliefde getroud en het twee dogters.
Ná ’n paar jaar van woon en werk op Stellenbosch is Bedeker en haar man na Namibië waar hulle net drie jaar wou vertoef. Hulle woon egter steeds op dieselfde klein plekkie, Khorixas in Damaraland, waar hulle begin het: Die natuurskoon en eenvoud het hulle in die land gehou. Hier moes Emmie noodgedwonge ’n loopbaanskuif maak. Sy het vir die Universiteit van Namibië gewerk en haar M.A. in Afstandsonderrig verwerf, maar is deesdae haar eie baas.
Haar kinderverse is opgeneem in Rympies vir Pikkies en Peuters (2015) en Rympies vir Kleintjies en Kleuters (2017), beide saamgestel deur Riana Scheepers, Suzette Kotze-Myburgh, en Gertie Smit, en uitgegee deur NB Uitgewers. In 2020 word van haar gedigte en kortverhale opgeneem in die versamelbundel Land onder woorde, saamgestel deur Chrisna Beuke-Muir. Dié bundel is ’n produk wat voortvloei uit die eerste skryfkompetisie wat Windhoek Woordfees in 2019 van stapel gestuur het met dr Emma Kirchner (Universiteit van Namibië), Carina Stander en dr Marius Swart as beoordelaars. Bedeker se kortverhaal “Wraak” is bekroon in die kortverhaalkategorie.
Van haar skryfsels het ook al in Die Burger en Vrye Weekblad verskyn.
Bedeker se poësie is reeds bekroon met twee ATKV Pluimpies ( 2005 en 2006) en ’n veertjie (2009) voor haar debuut in 2023 met die bundel Die grondgeitjie roep (Turksvy Publikasies).
Dié bundel is die produk van baie jare se skryf en leer. Bedeker het onder andere skryfskole bygewoon aangebied deur Hans du Plessis, Riana Scheepers en Louis Esterhuysen.
![]()
[Nota van die Versindaba redaksie: Ons wil graag nuwe en ou digters aanmoedig om vir ons opgedateerde profiele aan te stuur na taljard.marlies@gmail.com
Van ‘n digter wat al een of meer solo-bundels by ‘n erkende uitgewer gepubliseer het, versoek ons die volgende:
-
-
- ‘n Redelik onlangse foto in JPG-formaat
- ‘n Lys van publikasies (ook die belangrikste nie-poëtiese publikasies)
- ‘n Kort lewenskets wat inligting bevat oor o.a. waar en wanneer jy gebore is en grootgeword het, waar jy studeer het, watter beroep jy beoefen of waarmee jy jou tans besig hou, waar jy op die oomblik woon, ens.
- Enige ander interessante feite oor jou
-
Skryf asseblief die profiel in narratiewe vorm en nie as ‘n reeks feite ondermekaar nie, ten einde dit meer lesersvriendelik te maak.
Indien jy bereid is om ‘n profiel te skryf oor ‘n gestorwe digter, laat weet my asseblief by taljard.marlies@gmail.com]
