fiat justitia et ruat cælum
met toga, gepruik, kantbeffie netjies
geregtigheid ingerektrek onder jou arm
hofleêrs plegtig in swart tas
jou klerk met eerbied en respek
sleep getrou meester se werk op wiele
vandág besweer en weerlê jy
die oermisdaad van moord
vandág sal die staat se skille van hul oë afval
vandag spreek jy ʼn woord oor die gepeupel
die plebs wat aan jou lippe hang
soos ʼn rokende entjie
jou gedagtes om die saak, ʼn straatmark
van meriete, teenargument die wetsvraag
jou beroep advokaat, koopman van kletspraat
edel beroep in die sweet van jou aanskyn
alle hoorsê bogberigte op ʼn stokkie
mag geregtigheid vandag seëvier
mag die hemele val
© Anne-Marie Bartie, 2023