Sneeu in die Goudstad
Oggend nouliks onderskeibaar
totdat die sneeu bedaar, vervat
met ‘n eggo dieper in die oor:
Het ‘n klok iewers geslaan –
een slag helder ongestrem
deur roes en rook
‘n vraag onketen:
Hoe het die sneeu of kapok
soos ‘n dief in die nag gekom
om hier ‘n slag te slaan,
enkel en onopgevolg?
Uit my verlede beier geluide
‘n plaaswerf oop:
Vroeëbloem met sy vroeghaan,
kop besneeu, kam gekroes,
wat kraai, wat kraai
asof hy weet sy stem sal dra
deur sneeu en kapok
tot hier in die stad van goud
waar ek nou, aangewese op skimme
van ‘n poort waardeur min
reisigers sal gaan,
wonder oor ‘n klok
wat die laaste ronde binnelui,
maar in ‘n toring ingebind
‘n enkele slag veroorloof word
Of het die sneeu hier ‘n rol gevind
waar vlokkies sneeu, soos sysies
ingeryg ‘n hele draad beset,
tot die gewig die draad laat swig,
dit losskiet en ‘n klok bevry
die omslag waarvan wakker maak
in ‘n onvoorsiene suiwer land
Die doelwit kan die middele heilig,
die spanning voor die sneeuval herstel
en my ‘n wyle teen die kussings
moeg laat rus.
© Pirow Bekker, 10 Julie 2023