Die vuur
waar mense sagter praat of skeller, en soms steun
waar die teekan om elfuur amper leeg teen ‘n stoelpoot leun
waar die teëlpatroon onder die skoensole aanstryk
en kraakpatrone teen die muur uit reik
waar die skaduwees om uit die son te kom versit-versit-versit
waar die water reëntyd in die hoeke dan drup-en-drup-en-drup
daar gewaar ek jou toe jy stil in skuifel
jou hare kort en skoon, jou jas wit
jy wat bene teen mekaar teen die muur gaan sit
op elke kniekop ‘n hand soos ‘n krap wat weifel
waar jy rondkyk, waaksaam, op geselskap bedag
daar sit jy, die voorreg hoor my, student, geneser en my wag
waar jy aandag trek met die lig
van ‘n vinger soos ‘n voël wat via eiertand
uit die dop van jou vroeg-professionele skuheid breek
waar daar ‘n vraelys in die klembord onder jou pols wag,
jou balpuntpen omhoog soos iemand wat ‘n oudiënsie versoek
spreek ek as groet my hoop en dankbaarheid uit
en sê jy, seker goedhartig, wel met ‘n laggie lomp:
“Miskien doen ons jou glad nie so goed as wat jy dink nie.”
waar die seker vrae my geskiedenis en my heil betrek
is dit my diepste biografie wat jy kragtig met jou letters wek,
runes vir die ingelyfdes
daar sit jy bewus van jou voornemens
daar is jy die een wat die eed geneem het:
doen eerstens nie skade nie
doen aan jou naaste soos aan jouself
doen aan jou armste pasiënte soos aan goed betalende kliënte
doen aan dié in jou sorg wat jy kan
doen kortom dit wat allerweë goed is
en daar maak jy jou runewerk klaar
en sluit jou indruk af. Of dan nie,
want jy vou die papier toe, glimlag vir my:
“En? Vertel my nou. Van die rekord af.
Ek wonder. Hoe was dit? Hoe is dit?
Jy kan praat, ek het nog ‘n kwartier.
Hoe is al daardie wane en drogbeelde?
Meen jy jou lewe het verander?
Vertel my, dis nou net ons hier.”
en daar haak ek af en sê ewe liries:
“O my liewe dokter, jy kan weet:
Dis ‘n prettige gespeel.
Demone kom in duifgrys,
engele dra geel.
Die hemel word nog goedgepraat,
maar die aarde brand verlate.
En nou? Wat dink jy?
Jy dink my besielinge en my nood staan vas?
Ek sê jou dit stroom en tuimel
oneindig deur ‘n uurglas.”
jy vertrek, bedeesd maar wagtend
ek loop om die laaste tee
uit die kan te skink,
voor ek by die venster
na die omheinde gronde tuur
ek in wie se groot verwarde kop
die ritme van my era klop
ek draer van die vuur.
© Jaco Fouché, 2024