Piet Ras het vertrek
Piet Ras het vertrek, op 54 oor die hoë muur van die ontspanningsarea geklim
waar die res in die son bak, dut, gesels en verder die oggend omwag
dat dit middagete kan word waartydens die stafverpleër hom gister bloedig
vir Piet vererg het omdat dié elke ewige middagete vooraf kom vra wat is daar
en kan hy nie beet kry nie, want beet smiddae is wat hom gesond hou, dit weet hy
wanneer hy na die vreemde mense om hom kyk, hulle wat met die vuis foeter
en mekaar se stigmata bewonder sodat Piet om deel te wees van die gesprek
verklaar dat hy weet hy is op ‘n winkelsentrum gekruisig, want kyk, voorwaar voorwaar
daar staan ‘n kruis daar en oor Kersfees met Christmas Carols het hy al daarbo gesit,
hy en sy gewese meisie wat altyd so geduldig met hom was al daardie moeilike
dae waarin hy getier en geroep het, die geeste krappende roofvoëls in sy skedel
sodat hy gevrees het vir sy lewe en sy ewige siel en sy hulle moes laat kom,
die begenadigende magte van die groot hospitaal waar hy hom vir die soveelste
keer bevind, hy wat tot gister min rede in die lewe had om te kla. Piet Ras het vertrek.
© Jaco Fouché, 2024