Burgeroorlog
Asemsnak boodskap.
Morsekode
sonder voorbode.
Hart se klop
in ontydige oomblik gestop.
Verstom maak ek ‘n som.
Jy’s te jonk, te fiks!
Teoreties tel dit niks.
Geneties onafwendbaar
as bloedsomloop jou versaak
in sameswering met are se plaak.
Koronêre arterie
omskep in vyandige artillerie.
Angina onbeskaamd militant.
Verraad aan die binnekant
– deur Eie Magte aangeval.
Verstekelinge in ‘n donker dal.
Vredesverdrag bepaal
helder, skerp ligte in ‘n operasiesaal.
Mediese span wat daar wag
neem eienaarskap
van jou wit vlag.
© Andrea Sieberhagen, 2024